Gods gebod vra die hart

GODS GEBOD VRA DIE HART
Die Burger, 25 Mei 1991

Die Bergrede (Matteus 5–7) is een van die bekendste gedeeltes in die Nuwe Testament. Dit is aangrypend vanweë die direktheid, die eenvoud, die lewensbetrokkenheid daarvan. Die boeiendste is egter die wyse waarop dit ons slinkse hart ontbloot en tot in sy diepste motiewe blootlê voor die oog van God.

Die Bergrede maak dit duidelik dat Jesus nie – soos sy vyande so graag wou voorgee – die wet van God verwater het nie. Hy was klaarblyklik baie minder wetties as hulle en het met ’n sekere argeloosheid die reëls en uiterlike pligpleginge wat deur die tradisie rondom die uitleg van die wet opgerig is, veronagsaam.

Maar dit was nie omdat Hy die wet self gering geag het nie. Inteendeel, Hy het juis agter die talle reëltjies en wettiese voorskrifte teruggegryp na die ware bedoeling van die wet. Hy verklaar uitdruklik in Matteus 5:20 dat as ’n mens se getrouheid aan die wet nie méér inhou as die van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, jy nooit in die koninkryk van die hemel sal ingaan nie.

As Jesus dan die ware bedoeling van die wet begin verduidelik, doen Hy dit deur ’n aantal teenstellings te hanteer: “Julle het gehoor dat daar gesê is … maar Ek sê vir julle …” (Matteus 5:21 ev.). Deur dié teenstellings bestry hy nie die wet nie, maar die uitleg daarvan wat net by die uiterlike bly staan het.

Sy eie uitleg van die gebooie bring ’n geweldige verdieping, verfyning en verbreding daarvan mee. In die enkele woorde wat Hy aan ’n gebod bestee, word dit deursigtig tot op die hart. Die gebod vra werklik ons hart.

En wat dit vra kan saamgevat word in die een woord: liefde – liefde tot God en die medemens.

Met konkrete voorbeelde maak Jesus duidelik hoe ’n mens se hart losgemaak moet word van jou aardse goed – van jou liefde vir en sorge oor jouself, van jou aardse skatte en jou afgodiese verering van Mammon, om maar net kinderlik en gelowig God s’n te wees en Hom van harte lief te hê.

Maar dis net die een kant. Helder en eenvoudig sê Jesus: Jy moet ook jou naaste liefhê soos jouself. En daardie naaste is nie – soos die Jode op grond van Levitikus 19:17 graag wou dink – net jou volksgenoot nie. Nee, sê Jesus, dit is elke ander mens, ook jou vyand.

Liefde beteken meer as net dat jy hom of haar nie letterlik moet vermoor nie. Nee, jy mag ook nie vir hom of haar kwaad wees, hom of haar uitskel vir ’n gek of idioot, en hom of haar verag, verwerp en verneder nie. Want die wet vra meer as uiterlike pligpleginge en dade, dit vra die egte, eerlike en waaragtige goedheid wat die hart moet vervul.

Daarom is liefde tot God en tot die naaste ook nie twee dinge wat naas mekaar en afsonderlik van mekaar kan bestaan nie. Dit is twee kante van dieselfde munt. Dit gaan om die innerlike helderheid van die hart wat binneste buite gekeer is in die oorgawe van die liefde vir God en sy mense. – WDJ