Neem die inisiatief

NEEM DIE INISIATIEF
Die Burger, 01 Junie 1991

Jesus se uitleg van die Tien Gebooie bring ’n groot verdieping en verbreding van die betekenis daarvan na vore. Hy leer ons om nie net die letterlike en voor die hand liggende betekenis daarvan raak te sien nie, maar om na die volle implikasies daarvan te vra.

Een van die aangrypendste voorbeelde daarvan is die wyse waarop Hy volgens Matteus 5:21–26 die sesde gebod – jy mag nie doodslaan nie – op ’n baie radikaler manier as die Joodse uitleggers interpreteer. Verre daarvandaan dat dit maar net sou beteken dat ’n mens nie letterlik moord behoort te pleeg nie, hou dit volgens Jesus in dat God van ons verwag dat ons ons moet versoen met elke mens wat om een of ander rede iets teen ons het.

Die sesde gebod verbied ons volgens Jesus nie net om vir iemand anders kwaad te wees en hom of haar met allerlei lelike woorde soos gek of idioot uit te skel en te verneder nie, maar ook om daarby te berus as iemand anders vir ons kwaad is.

Hy druk dit in die taal van die Ou Testamentiese kultus uit deur te sê dat as jy jou gawe na die altaar bring om met God versoening te soek, en dit jou daar byval dat iemand iets teen jou het, jy dan eers jou godsdienstige handeling moet onderbreek en jou met jou naaste moet gaan versoen voordat jy met jou offer voortgaan.

Dit wil sê: As jy God se vergiffenis en gemeenskap soek, en jy word daar op jou knieë of in die erediens of by die Nagmaalstafel daarvan bewus dat daar iemand is wat iets teen jou het, jy dit eers moet gaan regmaak.

Waarom? Omdat ons verhouding tot God nie los staan van ons verhouding tot ons naaste nie. Omdat God geen behae het in offerande wat aan Hom gebring word terwyl ons onwillig is om ons met ons naaste te versoen nie. So eenvoudig is dit.

Jesus sê: As jou broeder iets teen jou het. Dit gaan nie eers om iets wat jy teen hom het nie. Dit spreek vanself dat jy dit met hom moet gaan uitpraat. Hier gaan dit daarom dat hy iets teen jou het. God verwag dat jy die inisiatief moet neem om dit uit die wêreld te kry.

Die vraag is nie of hy volgens jou tereg of ten onregte iets teen jou het nie. Ons is so blind vir die onreg wat ons ander aandoen, dat ons altyd dink ons is onskuldig. Ons is selde bewus van al die gevolge van ons dade en houdings en hoe dit andere benadeel.

Ons skuil graag agter ons goeie bedoelings, maar ons weet nie hoe ons bedoelings reeds deur ons selfsug beheers word, en hoe moeilik ons ons in die skoene van die ander kan plaas nie. Daarom vergeet ons so gou die woede van ons naaste – totdat dit ons genadiglik by die altaar byval.

God wil versoening. Ons wil altyd ons self verontskuldig. Maar dit kan tussen God en ons staan en ons geestelike vreugde en vrymoedigheid blokkeer. – WDJ