’N VERGRYP TEEN DIE MENSLIKHEID
Die Burger, 08 Junie 1991
Ons leef in ’n tyd waarin seksuele losbandigheid sulke afmetings aanneem dat dit lyk asof alle skroom en die besef van die heiligheid van hierdie terrein van ons lewe eenvoudig weggeval het.
Paulus het ook te doen gehad met Christene in Korinte wat blykbaar gedink het dat seksuele omgang buite die huwelik op sigself nie verkeerd is nie, en daarom ook vir die Christen volkome geoorloof is (1 Korintiërs 6:12–20).
Hulle beroep hulself daarby op die Christelike vryheid. Paulus self het hulle geleer dat die diens van God nie in die onderhouding van allerlei wette en reëls bestaan nie. Hulle moes hulself dus nie deur Joodse gelowiges onder die juk van voorskrifte en reëls met betrekking tot bepaalde soorte kos laat bring nie. In Christus is hulle vry om van alles te eet en Gods goeie skepping te geniet. Maar nou het sommige hieruit die gevolgtrekking gemaak dat hulle ook in seksuele opsig vry was om te doen wat hulle wou. Dit het meegebring dat hulle seksuele ontug goedgepraat het, asof dit daarin maar net om iets liggaamliks sou gaan wat nie die geestelike lewe raak nie.
Na analogie van die slagspreuk dat voedsel vir die maag is en die maag vir die voedsel (wat Paulus binne ’n bepaalde konteks sou kon onderskryf), redeneer hulle dat ’n mens ook kan sê: “Die seksuele verkeer is vir die liggaam en die liggaam is vir die seksuele” asof God nie in sy gebod sy wil vir die seksuele lewe duidelik geopenbaar het nie.
Paulus ontken dat die liggaam vir die seksuele, of nog erger – vir seksuele losbandigheid daar is. Ook ons liggaam behoort aan Christus. Deur sy opstanding het Hy ons liggaam geheilig – met alles wat daaraan verbonde is. Dit is dus nie daar vir die vervulling van wilde luste en vleeslike begeertes nie, maar vir die verheerliking van Christus.
Ook die seksuele is deur Christus geheilig, en moet daarom beoefen word in ooreenstemming met ons verbondenheid aan Hom. Wanneer dit op ’n wyse geskied wat indruis teen die wet van God, bring dit ons verhouding tot Christus in die gedrang en tas dit ons ware menslikheid aan.
Die hedendaagse verval van die seksuele moraal is daarom so ontstellend. As ongetroude jong mense openlik en skaamteloos sê dat hulle seksueel aktief is, is dit ’n openbaring van promiskuïteit en niks anders nie.
Die verheerliking van die sensuele en erotiese en die normlose vryheid wat seks tot die drifmatige verlaag, het niks meer te make met volwasse en verantwoordelike menswees nie, en moet deur alle Christene as ’n vergryp teen ons ware menslikheid deurskou word.
’n Groter teken van die ontkerstening van ’n gemeenskap is skaars denkbaar. Ons sal al die geestelike krag van ons verbondenheid aan Christus nodig hê om dit te verander. – WDJ