Relativeer die ideale

RELATIVEER DIE IDEALE
Die Burger, 20 Julie 1991

Daar kom tye in ’n mens se lewe wanneer jy maklik ’n prooi van wanhoop kan word. Dit kan veral gebeur wanneer die ideale wat ’n mens gekoester en wat vir jou lewe rigtinggewend geword het, in duie begin stort.

Wanneer dit duidelik word dat dinge nie uitwerk soos ons dit beplan of geglo het dat dit moet uitwerk nie, word ons voor die toets gestel of ons soepel en gelowig genoeg is om die relatiwiteit van ons eie ideale te aanvaar en met God ’n nuwe begin te maak, en of ons ons ideale so verabsoluteer dat hulle vir ons meer werd is as die lewe self, sodat ons in wanhoop besluit om dan maar saam met die ideale die lewe self ook prys te gee. Sulke situasies duik vir die individuele mens soms op wanneer groot teleurstellings op sy weg kom. Ons lees meermale van suksesvolle sake, manne wat op ’n bepaalde dag uitvind dat likwidasie hulle in die gesig staar, en wat dan hul eie lewe en soms ook die lewens van hul gesinslede neem eerder as om die skande van mislukking te aanvaar.

Sulke situasies kan ook opduik wanneer groepe mense in ’n tyd van groot omwentelinge voor die werklikheid gestel word dat die maatskaplike en politieke ideale wat hulle gekoester het, sienderoë besig is om te verkrummel. Dan kan dit gebeur dat ’n gees van défaitisme en wanhoop homself van ’n hele gemeenskap of sektor van die gemeenskap meester maak. Die resultaat daarvan is dikwels dat die individue wat die fynste geestelike antennas besit en die hopeloosheid van die situasie die beste in hul gemoed registreer, psigies knak en wanhoop ten prooi val.

Volgens nuusberigte is dit ’n verskynsel wat tans in die Oos-Europese lande voorkom. Wat vir die een deel van die mense daar na ’n tyd van nuwe hoop lyk, is vir die gevoel van andere ’n tyd van ondergang en wanhoop. In die voortslepende onsekerheid en onhelderheid word die psigiese druk so groot dat sommige dit nie langer kan verduur nie.

Die waarskuwing wat hieruit tot ons spreek, is dat ons in vertroue op God versigtig moet wees om nie ons hart op sodanige wyse aan enige ideaal of aardse droom te verpand dat die skynbare ineenstorting daarvan en die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan, ons tot wanhoop dryf nie. Dis altyd ’n gevaar dat ons relatiewe dinge tot absolute waardes kan verhef waarvan ons glo dat ons daarsonder nie meer sinvol sal kan leef nie.

Ons moet ons deur Jesus laat leer dat geen enkele tydelike ding méér werd is as die lewe self en ons integriteit voor God nie (Matteus 6:25). Ons moet leer om uit die geloof te lewe dat God nog meer moontlikhede vir ons het as die enkele een wat ons gedink het ons kan sien. Ons moet onsself en ons aardse ideale leer relativeer sodat ons bereid kan wees om ook ander weë te volg waarop God ons dalk wil lei, omdat Hy beter as ons weet wat die weg van die Koninkryk is. – WDJ