DIE VREUGDE VAN AANVAAR TE WEES
Die Burger, 27 Julie 1991
Dit is vir ons geestelike lewe van die grootste belang dat ons tye van stilte in die teenwoordigheid van God moet deurbring. Vanuit die gejaagdheid van die lewe en die warreling van gebeurtenisse moet ons onsself bewustelik terugtrek in die stilte van die verborge omgang met God.
Dit is nog iets anders as om maar net ’n tydjie vir gebed opsy te sit. Ook dit is natuurlik noodsaaklik. Ons moet tyd maak om ons sorge en kommer voor God te bring. Die Bybel nooi ons om ons begeertes in alles met gebed, smeking en danksegging by God bekend te laat word (Filippense 4:6). Maar in die element van die stille verkeer voor die aangesig van God, lê daar nog iets meer opgesluit. Dit moet vir ons ’n tyd word van oopstelling van onsself voor God, om bewus te word van sy heiligheid, majesteit, liefde en vriendelikheid. Dan tree ons eie begeertes op die agtergrond en koester ons onsself in die bewussyn van Gods nabyheid.
In die besonder moet dit vir ons tye van innige vertroue op God word. Die Bybel leer ons dat die Heilige Gees op die allerinnigste manier betrokke is by ons omgang met God. Die Gees wil in ons hart die kindergesindheid teenoor God opwek, sodat ons werklik tot God as ons Vader kan bid en Hom in alles volkome kan vertrou (Romeine 8:15; Galasiërs 4:6–7).
Niks behaag God meer nie as die kindergesindheid van ons hart wanneer ons onsself vir sy teenwoordigheid en liefde oopstel. Die vrees word dan uit ons hart uitgedryf (1 Johannes 4:16–19). Onsekerheid oor ons kindskap word uitgeban.
Met kinderlike dankbaarheid en in vertroue op die goedheid en genade van God, mag ons dan met Hom in die gebed omgaan.
So ontplooi daar in ons hart ’n wederliefde tot God en kom daar ruimte vir die innigheid van ’n verkeer met Hom waarin ons weet dat ons sonde bedek is en telkens weer deur die versoeningsbloed van Christus bedek word, sodat ons met vrymoedigheid voor God kan verskyn (1 Johannes 1:3). Dit is van groot belang vir die groei van ons geestelike lewe dat ons tyd moet neem om so van ons kindskap van God bewus te word en onsself te verlustig in die vertroue dat God ons in Christus aansien en daarom ’n behae in ons het.
In onsself is ons nie werd om so by God te kan wees nie. Ons is op talle maniere bevlek deur ons sonde en verkeerdheid. Maar omdat ons in Christus is, het ons deel aan sy heiligheid en verlustig die Vader Hom in ons as sy kinders. Ons het tyd nodig om die gedagte in ons hart op te neem.
Daar is ’n hele stuk geestelike volwassenheid nodig om so voor die aangesig van God te kan verkeer. Ons is meestal te haastig, te oppervlakkig. Ons verwag van God weinig meer as vergiffenis van ons sondes en hulp by die probleme van ons lewe. Maar God wil aan ons veel meer gee. Hy wil aan ons die rus, vreugde en geluk gee van die wete dat ons volkome deur Hom aanvaar is, en dat ons lewe omvat word deur sy guns. – WDJ