Vaste rots van behoud

VASTE ROTS VAN BEHOUD
Die Burger, 24 Augustus 1991

Soms kan ’n mens in die nag wakker word en in ’n vreemde stilte oor jou hele lewe begin nadink. Vanself kom die vraag dan ook op oor watter sin jou lewe eintlik het.

By alle mense is daar diep-in ’n vermoede dat hulle nie soos die diere is, sonder besef van die betekenis van die dinge, wat bloot biologies bestaan en slegs die drang ken om hul onmiddellike behoeftes te bevredig nie.

As ’n mens dit nie verdring totdat dit naderhand vergeet is nie, bly daar ’n vraag na die diepste sin van die mens se bestaan. Dit was deur die eeue so. In die godsdienstige besef het die mensheid dit altyd met hom meegedra: die oortuiging dat daar in die lewe ’n bepaalde sin opgesluit moet lê wat nie in die mens se kort aardse bestaan volledige uitdrukking kan vind nie, maar wat tog daaraan eers werklik betekenis verleen.

Selfs die moderne Westerse mens wat ateïsties begin dink het, kon dit nie volkome kwytraak nie.

Maar vir mense wat nie ateïsties is nie, is dit ’n vraag wat soms in die nag so helder voor hulle kan staan en hulle verplig om aan hulself rekenskap te gee van wat die lewe eintlik vir hulle beteken. Wat is dit waarvoor en waarby die mens werklik leef? Wat is dit waaraan mense hul lewe ophang? Wat bly vir hulle oor as hul jeug vergaan en hul vreugdes skielik in duie stort?

En dan kan dit vir jou in ’n oomblik van waarheid duidelik word dat jy jou hart eintlik maar net in aardse en verganklike dinge laat rus. In al die mense se rustelose omswerwinge, arbeid en verlange gaan dit dikwels maar net om die self en om aardse dinge; om mense se ambisie, hul prestasie, rykdom of ideale. En soms weet jy ook in ’n helder oomblik dat die boom uit jou lewe sal wegval as jy jou man of vrou of ’n geliefde kind moet verloor.

Al die godsdienstige gepraat, al die betuiginge van die mens se verbondenheid aan edel dinge, is dikwels maar ’n bedekking van wat hy diep-in weet: Ek is ’n dood on-ernstige mens, ek leef vir verganklike dinge, ek hang my lewe op aan dinge wat nie blywend is nie. As dit van my weggeneem word, sal ek psigies en geestelik in duie stort.

Daarom is dit ’n seën as ’n mens by jouself helderheid daaroor kry dat daar agter en onder die talle dinge wat jou daagliks besig hou, tog ’n vaste bodem is waarin jy geanker is, ’n waarde wat nie vergaan nie.

Wat die mens nodig het, is wat die gesang noem: “Vaste rots van my behoud …” ’n Mens se lewe moet gedra word deur ’n sekerheid dat, wat ook wankel en vergaan, daar ’n trou en liefde is wat jou lewe omvat en ewig daaraan sin sal gee.

En dit kan net Jesus doen. Hy is die verpersoonliking van Gods liefde en trou. In Hom is al Gods beloftes Ja en Amen.

Gelukkig is die mens wat hierdie Rots telkens weer vasgryp – ook vir die donker en stille uur wanneer die laaste asem uit jou weggaan. – WDJ