VREEMDE DANKLIED
Die Burger, 19 Oktober 1991
Ons hele hart verlang daarna om gelukkig en vrolik te wees. Van nature dink ’n mens dat daar niks beters kan wees as blydskap en voorspoed nie.
En tog leer die lewe ’n mens dat ook teleurstelling en pyn, teenspoed en droefheid ’n noodsaaklike rol in die lewe speel, en dat ’n mens later, as jy ’n oorsig oor jou totale weg begin verkry, die vreemde ding kan doen om God ook vir die kwaad te dank wat jy gely het.
Natuurlik is geen leed ’n saak van vreugde nie. Alle pyn is frustrerend, demoraliserend en afbrekend. Van ’n mens uit gesien, kan dit nooit iets positiefs voortbring nie. Selfs wanneer ’n mens kan sien dat jou lyding die vrug van jou eie sonde is, is dit geen waarborg dat dit in ’n mens se lewe ’n positiewe vrug sal hê nie. Dit kan lei tot wanhoop en selfvernietiging.
Dikwels kan ’n mens egter geen verband sien tussen jou eie dade en jou leed nie. Die verband tussen siekte en individuele sonde is selde aanwysbaar. Soms word ’n mens verontreg, moet jy ly vanweë dinge wat jy nie self gedoen het nie, word jy onskuldig gestraf, of word jy in sinlose smart gestort.
Juis omdat die kwaad ondeursigtig, sinloos en onverklaarbaar is, kan ’n mens dit nie rasioneel hanteer nie. ’n Mens kan net op een manier leer om daarmee saam te lewe, en dit is as jy ook die leed van jou lewe gelowig met God in verband bring en met Hom daaroor onderhandel.
Die boek Job sê nie dat dit God is wat die kwaad oor ’n mens se lewe beskik en veroorsaak nie. Volgens Job is dit die duiwel wat Job al die leed aandoen. Maar dit gaan tog nie buite die toelating van God om nie. In die wysheid van sy Raad heers Hy ook oor die duiwel en die kwaad en stel hy grense aan wat die duiwel mag doen.
Omdat God daar is en oor ’n mens se lewe die wag hou, kan ’n mens die vuurproef van jou lyding deurstaan, totdat ’n nuwe dag weer kom. In Totius se wonderlike beryming van Psalm 46 staan: “Die Heer is daar. Hy hou die wag: so gaan die donker uur dan om … ”
Bowendien kan die magtige God uit die kwaad die goeie gebore laat word. In sy hand word selfs leed tot tug wat ’n mens louter en verander. Die smart van pyn kan tot ’n seën word. Uit die pyn van ’n mens se gebrokenheid kan die vrug van heiligmaking ryp.
In Hebreërs 12:11 lees ’n mens: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir die wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die Wil van God.”
Die ou Afrikaanse Gesang 65 het dit so pragtig uitgedruk:
‘k het Jesus lief. Hy sal my deur sy raad
gelei tot aan die laaste van my dae;
dan word my siel van alle sonde ontslae,
dan dank ek Hom, selfs vir gelede kwaad. – WDJ