Alles vind sin in God

ALLES VIND SIN IN GOD
Die Burger, 16 November 1991

Dit bly merkwaardig dat die boek Prediker in die Bybel opgeneem is. Dit staan so vreemd daar tussen al die ander boeke van die Bybel. Meer as enige ander Bybelboek dra dit die karakter van ’n besinning oor die lewe van onder af, vanuit die voorgrond van die menslike visie op die lewe.

As ’n mens net na die voorgrond van die dinge kyk, na die skynbaar nimmereindigende proses van geboorte, groei, kwyn en vergaan, kan jy maklik in weemoed verval. Die vraag na die sin daarvan kan jy nie beantwoord nie. Dit is soos dit met die Prediker gegaan het, wat as die slotsom van sy waarneming maar net kon sê: Alles kom tot niks, tot absoluut niks (Prediker 1:2).

Miskien is daar mense wat lewe sonder om ooit na te dink oor die kortstondigheid en die patetiese karakter van die mens se bestaan. Maar dit is skaars menslik. ’n Mens moet baie oppervlakkig wees as jy nooit dieper vra na die sin van jou onvervulde bestaan en geen weemoed ken oor die verganklikheid van alles wat mooi en heerlik is nie.

Daarom ervaar die meeste mense soos die Prediker tye van weemoed en droefheid omdat alles verbygaan. ’n Mens se lewe is maar, soos Jakobus sê, ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn (Jakobus 4:14).

Hoe pynlik hierdie ervaring ook al is, dit loon tog dat daar in die mens se hart ’n verlange na ewigheid lê. Dit is in werklikheid ’n verlange na God, wat alleen ewig is. Die hart is onrustig, totdat dit rus vind in die vertroue dat die hele werklikheid en ook die mens se eie bestaan opgeneem is in die weg van God en daarin sin en voltooiing vind.

Omdat God ewig is, word verlede, hede en toekoms in sy ewige teenwoordigheid en voor sy aangesig bewaar. Ook die mens se klein lewe wat so gou verbygaan, word opgeneem in Gods

lewe en vind sy vervulling in Hom. Al die verlangens, al die diepste begeertes sal uiteindelik hul vervulling in Hom vind

Daarom is dit ook die sin van die mens se lewe om God lief te hê. Wie God werklik liefhet en op Hom vertrou, leer om behae daarin te hê dat God nooit vergaan, nooit verouder, nooit verbygaan nie. Sonder God is alles sinloos en nietig – kom alles tot niks. Maar omdat God daar is, is niks behalwe sonde en boosheid ooit sinloos nie.

Daarom dat die Prediker ook nadat by oor alles die oordeel uitgespreek het dat dit tevergeefs en ’n gejaag na wind is, tog nie morbied word, en in wanhoop of nihilisme versink nie, maar berusting en selfs vreugde daarin vind dat God daar is en dat alle dinge uiteindelik tot God terugkeer. Wanneer die stof van die liggaam na die aarde terugkeer soos dit was, keer die gees na God terug wat dit gegee het (Prediker 12:7).

’n Mens hoef die sin van die dinge nie self te vind of te beskryf nie. Die lewe vind sy sin in God. Dit is vir die mens genoeg om in geborgenheid in God daaraan deel te hê. – WDJ