Uitdaging van die tyd

UITDAGING VAN DIE TYD
Die Burger, 7 Desember 1991

Net soms, maar tog meer dikwels as wat ’n mens graag sou wil hê, word jy bekruip deur die gedagte dat net te veel mense in hierdie land nie begryp in watter geweldige oorgang Suid-Afrikaners hulself tans bevind nie, en dat baie mense daarom miskien nog nie die insig en volwassenheid besit wat nodig is om die uitdaging van die tyd reg te kan hanteer nie.

Die feit is immers dat Suid-Afrikaners teen wil en dank meegeneem word in ’n wêreldwye oorgang na ’n nuwe fase in die geskiedenis van die mensheid. Dit is die fase van die demokratisering van die gemeenskapslewe op ’n tevore ongekende skaal, met al die moontlikhede en probleme wat daaraan verbonde is.

Of ’n mens dit wil erken of nie, dit word steeds duideliker dat die geestesbeweging wat sedert die Renaissance en die Verligting in die Westerse wêreld vaardig geword het, tans universele geldingskrag in die hele wêreld gevind het en – afgesien daarvan dat miljoene mense nie regtig daarvoor ryp is nie – die mensheid as geheel tot ’n nuwe selfverstaan gebring het, met gevolge wat die hele lewe raak.

Die kenmerke daarvan is dat dit – in beginsel altans – die einde beteken van alle eensydige dominasie van een mens oor ander mense of een groep of volk oor ’n ander; dat dit die einde is van die Westerse heerskappy en die koloniale tydperk, alle vorme van outokrasie en verdrukking, outoritêre gesag en ongekontroleerde waarheidsaansprake.

Vir die Christendom en kerk beteken dit die verlies van die soort politieke beskerming en vanselfsprekendheid wat dit sedert die vierde eeu in die Westerse wêreld geniet het. Die kerk moet in ’n klimaat van godsdiensvryheid en sekularisasie op gelyke voet meeding met ander godsdienste en denkrigtings wat om gehoor vra. Die stryd om die waarheid kan nie met die swaard of deur wetgewing besleg word nie. Mense sal vandag oortuig moet word van die waarheid waarvoor die land staan. Die Christendom staan voor die uitdaging om deur woord, daad en gesindheid sy boodskap op sodanige wyse in die publieke sfeer van ’n pluralistiese nuwe wêreld te verkondig, dat mense daardeur vir Christus gewen kan word.

Suid-Afrikaners het nie vir die nuwe soort wêreld gevra nie, al het hulle deur hul deelname aan die Westerse kultuur meegedoen aan die totstandkoming daarvan. Die probleem is dat mense dit nie weer kan ontvlug nie, al hou hulle nie daarvan nie. ’n Mens kan nie die wêreld stop om af te klim, of die klok terugdraai nie. ’n Mens durf jouself ook nie in ’n ghetto terugtrek om iets van die verlede so lank as moontlik te probeer bewaar nie.

As Christene mag mense ook nie die godsdiens tot die private sfeer van die persoonlike of huislike binnekring beperk, en die stryd om die kerstening van die gemeenskap prysgee nie.

Suid-Afrikaners staan voor die uitdaging om die nuwe tyd waarin hulle onder Gods voorsienigheid lewe, te aanvaar en daarin getuies vir die koningskap van Christus en die evangelie te wees. – WDJ