’n Groter oorwinning

’N GROTER OORWINNING
Die Burger, 16 Desember 1991 (Geloftedag)

Dit is ’n gemeenplaas om te sê dat die kritieke situasie waarin die Afrikanervolk hom tans bevind, onvergelykbaar ernstiger is as dié waarin die Voortrekkers indertyd by Bloedrivier verkeer het.

Gemeenplase bevat egter meestal ’n element van die waarheid. In sekere sin is die situasie van vandag onvergelykbaar meer gekompliseerd en gevaarliker as destyds. Die geskiedenis van ’n anderhalwe eeu het alles anders gemaak.

Die slag by Bloedrivier was ’n betreklik gelokaliseerde konflik tussen twee groepe wat sonder veel vooraf berekening op mekaar gestuit en met mekaar gebots het. ’n Militêre konflik was in die omstandighede haas onafwendbaar. Dit was vir die Voortrekkers ’n uur van ernstige krisis.

Maar hul gebed om bewaring en oorwinning is verhoor. Die beslissende Slag van Bloedrivier het ’n deurslaggewende wending gebring en die toekoms bepaal.

Tans is alles egter anders. Die vestiging van die Boere in die binneland het ’n proses van onberekenbare ontwikkeling geïnisieer. Die latere ontdekking van goud, die Britse imperialisme en die kragte van die kapitalisme het meegebring dat die eertydse onontginde land oopgebreek, in kaart gebring, gemoderniseer en geïndustrialiseer is.

Maar dit het ook meegebring dat die stryd van die Afrikaners in eerste instansie ’n stryd teen oorheersing en armoede geword het. Die probleem van die land se swart meerderheid het ’n lang tyd op die agtergrond gebly. Eers toe die politieke en ekonomiese emansipasie van die Afrikaner bereik is, het die saak van die wagtende en ongeduldige swart meerderheid onontwykbaar op die agenda gekom.

Politieke probleem
Maar toe was alles reeds baie ingewikkelder as by Bloedrivier. Die rolspelers het intussen radikaal verander in hul verhouding tot hulself en tot mekaar. In 1838 het hulle nog ongekompliseerd teenoor mekaar gestaan. Hulle was maklik onderskeibaar in terme van hul herkoms, hul soort beskawing en hul geloof. Dit was toe maklik om die konflik as ’n botsing tussen Christene en heidene, of tussen beskaafde en onbeskaafde mense te sien.

Maar dit is vandag nie meer so eenvoudig nie. Die groot verskille in kultuur en volksaard is intussen getemper deur kontak, ontwikkeling en akkulturasie. Ook het die partye in meer as een opsig verstrengel geraak. Hulle het selfs ekonomies vir mekaar onontbeerlik geword. Hulle deel reeds talle waardes, ideale en dikwels dieselfde Christelike geloof. En die politieke en ekonomiese emansipasie van die swart meerderheid is tans aan die beurt. Daarom het die aard van die konflik totaal verander.

Om mee te begin: dit het sy lokale en toevallige karakter verloor. Dit raak tans die hele land en sy totale bevolking. Dit is deel van ’n mundiale probleem van die verhouding tussen die Eerste en die Derde Wêreld. Dit gaan nie primêr om ’n militêre konfrontasie nie, maar om ’n politieke probleem waarin morele, ekonomiese en regsvrae aan die orde is. En dit het die karakter van ’n tydbom wat alles kan vernietig.

Juis dit maak die situasie waarin die Afrikaner homself vandag bevind, soveel meer kritiek as by Bloedrivier. Hy verkeer nie soos toe in ’n posisie waarin hy homself deur ’n fisieke stryd kan red nie. Sy krisis is dat hy voor ’n onontwykbare politieke en morele keuse met geweldige implikasies gestel is.

Ander soort spel
Hy staan voor die vraag of hy glo dat dit ook op politieke gebied waar is dat wie sy eie lewe soek, dit sal verloor. Hy word uitgedaag om die riskante weg van die erkenning van die regte en vryhede van die meerderheid van die bevolking te bewandel en ’n breër stryd teen onderontwikkeling, armoede en skadelike ideologieë aan te pak, sonder die versekering dat hy sal oorwin en erkenning daarvoor sal kry.

Dit vra van hom ’n daad van geestelike integriteit sonder die versekering dat alles in die toekoms met hom wel sal gaan. Hy moet in vertroue op God soos Petrus op die see wandel, op die gevaar af dat hy sal sink as hy na die golwe kyk.

Dit is ’n totaal ander spel as wat destyds by Bloedrivier gespeel moes word, en dit is moeiliker en gevaarliker. Dit sal ook nie sonder pyn wees nie. Maar dit kan wees dat God destyds by Bloedrivier die oorwinning beskik het omdat Hy dit so bestem het dat die Afrikanervolk in hierdie land en in die hele Afrika die rol moet vervul om die betekenis van die evangelie ook met die daad te bevestig.

As God wil, sal die Afrikanervolk nie net oorlewe nie, maar ook ’n nuwe en groter oorwinning as by Bloedrivier behaal: nie ’n militêre oorwinning soos destyds nie, maar ’n geestelike oorwinning oor homself en sy kleingeloof, sodat hy uit oortuiging diensbaar kan word in die belang van ’n land en kontinent wat sy diens net nie kan ontbeer nie.

Nee, dit is waar: die situasie is vandag ernstiger as destyds by Bloedrivier. Maar ook die huidige geslag is tog nie sonder die beloftes van God nie. En Hy is getrou. Wie op Hom vertrou, sal nooit beskaam word nie. – WDJ