Die Wêreld in Gods hand

DIE WÊRELD IN GODS HAND
Die Burger, 31 Desember 1991

Op die laaste dag van die jaar word ’n mens dikwels deur allerlei negatiewe gevoelens geteister. Dit is nie net die herinnering aan pynlike ervarings van die afgelope jaar nie, maar sommer ook allerlei gevoelens van nostalgie, weemoed, somberheid en onsekerheid oor die toekoms wat hulle dan maklik van ’n mens meester maak.

Die besef van die verganklikheid en ongeborgenheid van die menslike bestaan dreig op so ’n dag om die hart te vervul. Die raaisel van die bestaan dring homself aan ’n mens op. Pogings om opsigtelik vrolik te wees en ’n atmosfeer van feestelikheid te probeer skep is soms ’n kwalik bedekte manier om onsekerheid, heimwee en somberheid te verberg.

Op die boom van die menslike hart lê daar van nature ’n stuk somberheid. Dit is deel van die heidense erfenis wat altyd maar weer in gelowiges deurslaan. Determinisme en fatalisme is diep verwortel in·die nie-Bybelse lewensgevoel. Die idee dat die noodlot oor alles beslis, is nog altyd springlewend.

Daarom is mense so geïnteresseerd in wat die sterre vir hul toekoms inhou. Ook modeme mense wat die vrug van die moderne wetenskap geniet, is dikwels nog vol bygeloof en koester sombere en deterministiese gedagtes asof hul wel en wee deur onbekende kosmiese magte bepaal word.

Hoeveel mense word nie geboei deur verhale en dramas waarin die okkulte dwangmatigheid van ongeluk en vernietiging ’n beslissende rol speel nie? Op ’n puur heidense wyse word die menslike lewe voorgestel as uitgelewer aan die onafwendbare ondergang wat deur die anonieme lot vir hulle bepaal is. Maar daardeur word hul gedagtes besmet met vrees vir die ongedefinieerde magte van ’n blinde noodlot en word hulle die prooi van somberheid en angs oor die toekoms.

Sonlig van geloof
Die Bybel adem in ’n totaal ander atmosfeer. Natuurlik weet die Bybel ook van die breekbaarheid van die lewe en die gevaar van irrasionele magte. Maar die Bybel leer ook dat daardie magte, hoe gevaarlik ook al, nie kan doen wat hulle wil nie en daarom nie gevrees hoef te word deur wie in geloof toevlug by God soek nie.

Die Bybel verbied selfs uitdruklik dat ’n mens jou met die magte besig moet hou. Die Bybel roep ons daartoe op om te lewe in die sonlig van die geloof in die almag en regering van God. Die troos van die geloof is juis dat die mens se lot nie deur die noodlot of toeval bepaal word nie, maar alleen deur die beskikking van die goeie hemelse Vader. ’n Mens kan dit ook eenvoudiger uitdruk in die woorde van die Neger-liedjie: He has the whole world in His hand. Die geloof hou daaraan vas dat God die beheer van alle dinge in sy hand het. Inderdaad is dit iets om van te sing. Dit verdryf die donkerte en die somberheid en laat die lig deurbreek, selfs tot in die diepste lae van die gemoed, sodat daarin ’n basiese vertroue en vrolikheid kan opwel.

Die toets vir Christenskap lê daarin of ’n mens die Woord van God ernstig genoeg opneem om jou tot in die kleinste dinge van die praktyk daarop te kan verlaat: of jy jou van somberheid kan bekeer en kan opstaan tot die vreugde daaroor dat God die hele wêreld in sy liefdevolle hand hou en dat alles daarom sal meewerk tot die koms van sy Ryk.

Gods triomf
Wie die Bybel reg verstaan, moet nie net daaroor verheug wees dat God in sy almag alle dinge bestuur en beheer nie, maar veral ook daaroor dat Christus die volmaakte versoening en verlossing van die skuld en sonde van die wêreld tot stand gebring het.

Die wêreld is met God versoen. Die wêreld staan in die lig van Gods welbehae. Daarom mag gelowiges uit die grondvertroue leef dat hul bestaan en aanbidding van God aan Hom vreugde verskaf en dat Hy ten nouste by hul hele lewe betrokke is.

Dit beteken nie dat allerlei vorme van kwaad in hierdie lewe nie nog oor hulle kan kom nie. Die lewe van gelowiges is dikwels vol pyn en ellende. Maar dit beteken dat God ook in en deur alle moontlike pyn en ellende heen persoonlik by hulle betrokke is en hulle in sy hande hou, sodat hulle nie daardeur vernietig kan word of in die verderf gestort kan word nie. Inteendeel: hulle word selfs deur pyn en ellende heen gelouter tot ’n dieper vreugde in Hom.

So seker as wat Christus uit die dood opgestaan het, so seker is die triomf van God oor alle kwaad en dood en ellende wat die skepping bedreig. Die afloop van die geskiedenis is nie onseker nie. Geen noodlot of toeval sal in die komende jaar en jare in die wêreld regeer nie, want God is daar. Hy hou die hele wêreld in sy hand.

Dit is veral tans tot ’n groot troos, noudat die toekoms in baie opsigte onseker geword het. Niemand kan presies voorspel wat in die komende jaar in hierdie land sal gebeur nie. Waaroor daar egter wel sekerheid kan wees, is dat God onder alle omstandighede naby sal wees, en dat ’n mens jouself met vrymoedigheid aan sy sorg kan toevertrou. – WDJ