Die verlang na God

DIE VERLANG NA GOD
Die Burger, 18 Januarie 1992

In Rondom Eie Werk noem NP van Wyk Louw ’n aantal dinge op waaruit groot poësie gebore word. Hy verwys na sulke dinge as liefde, haat, droefheid en vrees, en voeg dan onverwags daaraan toe: die praat met God en verlang na God.

Dit word in sy eie digwerk ryklik bevestig. In talle van sy gedigte verwys hy na God. ’n Groot aantal van sy gedigte is in die vorm van gebede geskrywe. Reeds as student het hy gesê dat die gebed een van die skoonste vorms van poësie is. Maar ook waar hy sy woorde nie eksplisiet tot God rig nie, is dit duidelik dat sy digwerk gedra word deur ’n religieuse patos, waarin die verlange na God uitdrukking vind.

Die verlange na God. Dit laat ’n mens aan die Psalms dink. In die onvergelyklike Psalm 42 vergelyk die digter sy verlange na God met die wyse waarop ’n wildsbok na waterstrome smag. “My siel dors na God, na die lewende God” (v 3). Sterker kan die hunkering, die begeerte na God self nie uitgedruk word nie.

So sê ook Psalm 63: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos ’n dor en droë land, ’n land sonder water”. Dieselfde word ook in Psalm 143:6 herhaal: “My siel dors na U soos ’n uitgedorde land”.

In al hierdie woorde word die behoefte verklank aan die ervaring om by God te wees, in sy teenwoordigheid, opgeneem in die vreugde van sy nabyheid. Die mens se hart is ’n vat vol begeerte, verlange, hunkering en heimwee. Dit is omdat hy vir God gemaak is. Die mens is nie selfgenoegsaam nie.

Die wêreld van die geskapene kan, hoe wonderlik ook in sigself, sy siel nooit ten volle versadig nie. Sy diepste en ondefinieerbare verlangens kan uiteindelik alleen in die gemeenskap met God bevredig word.

Dit is wel waar dat mense vanweë die sonde altyd weer God as die bron van lewende water verlaat en vir hulleself klipbakke uitkap – gebarste klipbakke wat geen water hou nie, soos Jeremia 2:13 sê. Maar dit kan hulle natuurlik nie bevredig nie: Net God alleen kan die siel versadig, net by Hom alleen is daar versadiging van vreugde (Psalm 16:11).

Vir die Israeliet was die tempel die plek waar hy die teenwoordigheid van God so beleef het. Daarom vertel baie van die Ou Testamentiese gebede van die verlange om na die tempel te gaan en daar naby God te wees en tot rus te kom.

Vir die gelowiges van die nuwe verbond is die gemeenskap met God deur Jesus en die Heilige Gees nie meer aan ’n bepaalde plek verbonde nie. Om naby God te wees, om versadiging van vreugde in sy teenwoordigheid te vind, is ’n ervaring wat hulle op enige plek en enige tyd kan hê waar God deur sy Woord en beloftes hul siel vervul.

Maar ’n mens moet wel toelaat dat jou hart met die verlange na God en die troos van sy Woord vervul word. Jy moet jou vlug staak. Jy moet in die geloof tot rus kom by God self wat jou lewe so graag wil vervul. – WDJ