TEKEN VAN DIE KRUIS
Die Burger, 16 April 1992
Dit is nie toevallig dat die teken van die kruis die kenmerkendste simbool van die Christenheid geword het nie. Van die begin af is verstaan dat die kruisiging van Christus en sy plaasvervangende dood vir die sondes van die wêreld die hart van die evangelie is.
Die kruis is die bewys van die erns van Gods liefde vir die wêreld. Dit is ook die bewys van die erns van die sonde. Die kruis is die waarborg daarvan dat die liefde van God sterker is as die gruwel van die sonde. Aan die kruis word die skande en vloek van die sonde deur Gods liefde deurkruis en oorwin.
Dit is waar dat die oorwinning oor die sonde en al die gevolge daarvan eers in die opstanding van Christus sigbaar word. Sonder die opstanding is dit onmoontlik om die kruis reg te interpreteer. Maar vanuit die opstanding kyk die geloof terug na die kruis en omhels dit as die plek waar die ewige beslissing geval het. Daar is die skuld betaal. Daar is die sonde versoen en die duiwel oorwin. Daar is die skeiding tussen God en die mense vir altyd weggeneem.
Daarom beteken geloof in Christus sonder meer ook geloof in die kruis van Christus. Paulus sê dat die boodskap van die kruis wel onsin is vir dié wat verlore gaan, maar vir dié wat gered word die krag van God is (1 Korintiërs 1:18). Dit is vir hulle die krag van God, omdat dit vir hulle nie net die herstel van hul verhouding met God bewerk het nie, maar omdat dit ook in hul lewe ’n veranderende krag word.
Om in die kruis van Christus te glo is om self ook met Christus gekruisig te word. Dit is aangrypend om daarop te let dat Christus sy kruisdood en die selfkruisiging van sy dissipels direk aan mekaar verbind het (Markus 8:31,34). Geen mens mag die heilsbetekenis van die kruis toe-eien sonder om daarmee sy of haar eie kruis op te neem en bereid te word om te sterwe aan die sonde, die selfsug, die selfhandhawing, die selfsoeke wat die lewe van die ongekruisigde mens beheers nie. Dit is die ellende van die Christenheid dat so baie mense wat hulself Christene noem, van die wesenlike betekenis van geloof in die kruis van Christus eintlik niks verstaan nie. Daar is selfs mense wat daarop roem dat hulle Christene is en hulle in trotsheid oor andere verhef; ja, wat andere verag en verwerp omdat hulle nie Christene is nie, maar wat geen blyke daarvan gee dat hulle self verstaan dat Christene mense is wat met Christus gekruisig is nie.
Egte Christenskap bestaan nie in die teken van die kruis op die kerk of op die plakkertjie op die motor nie, maar in die teken van die kruis wat sigbaar word in die nederigheid, die liefde, die selfverloëning en lewensheiliging wat toon dat ’n mens werklik in die boodskap van die kruis glo. – WDJ