DIE TEOLOOG MET DIE STEM VAN ’N PROFEET
deur Johannes (JD) Froneman
Die Voorligter, Mei 1992, (deel 55 no 5), p 16/7
Sy hele teologiese arbeid as gemeenteleraar, akademikus, skrywer en rigtinggewende kerkman staan in die teken van sy verbondenheid aan die NG Kerk se belydenisskrifte, en daarmee saam ook die kerk, by name die NG Kerk. Meer nog, aan die Hoof van die kerk. Dit alles maak van prof Willie Jonker in die ware sin van die woord ’n besonder behoudende, konserwatiewe teoloog.
Die inskrywings in Die Jaarboek van die NG Kerke kan nogal veelseggend wees. Maar tog bly soveel noodwendig ongesê. In prof Willie Jonker van Stellenbosch se geval, lui die inskrywing: Jonker, Willem Daniel, MA, BD, ThD: L 1955, 0 1955 Johannesburg-Wes, 1958 Potchefstroom-Noord, 1962 Johannesburg, 1965 Prof Teol Unisa, 1966 Johannesburg-Oos, 1968 Prof – Teol. Skool in Kampen Nederland, 1 Aug 1971 Prof Teol Fakulteit Universiteit van Stellenbosch.
Dit is seker die kortste manier waarop ’n mens prof Jonker se loopbaan kan saamvat. Tussenin lê egter jare van vrugbare arbeid en ’n soms uitmergelende stryd om die waarheid. Want dit het maar altyd vir hom om die waarheid, God se waarheid, gegaan. Soos hy dit in ’n TV-gesprek oor die Rustenburg-belydenis uitgedruk het: “Ek bid elke dag daarvoor dat die Here tog ons mense sal bewaar by die waarheid”.
Die inskrywing vertel natuurlik ook nie die verhaal van ’n plattelandse Afrikanerseun wat met sy plaasskool-agtergrond uitgestyg het tot een van die invloedrykste en meer gerespekteerde kerkmanne van sy tyd nie. Of van sy kenmerkende innemendheid en mildheid nie.
Prof Jonker het deur die jare sy werk op ’n besondere manier op die gewone lidmaat toegespits. Daarom beteken dit vir hom soveel wanneer ’n lidmaat, soos tydens die laaste somervakansie op Kleinbrakrivier, ’n geselsie aanknoop. “Dankie dat u so ’n groot las van my skouers afgehaal het …”, het die lidmaat gesê. Hy het prof Jonker se onlangse boek oor die uitverkiesing gelees. “Toe besef ek weer,” sê prof Jonker, “dat die geskrewe woord werk waar jy nie kan wees nie.”
Dit is hierdie besef – miskien ook ’n Godgewilde begeerte of verantwoordelikheid – wat prof Jonker laat besluit het dat hy teen die middel van 1992 met ’n ietwat vervroegde pensioen sal “aftree”. Hy kan dan voluit werk aan veral twee boeke wat wag op afhandeling.
Die onderwerpe van die voorgenome twee boeke vertel eintlik baie oor prof Jonker se lewensarbeid. Die een boek, waaraan hy al geruime tyd werk, handel oor die teologie van die Drie Formuliere van Eenheid, en die ander een oor die kerk.
Sy hele teologiese arbeid as gemeenteleraar, akademikus, skrywer en rigtinggewende kerkman staan in die teken van sy verbondenheid aan die NG Kerk se belydenisskrifte, en daarmee saam ook die kerk, by name die NG Kerk. Meer nog, aan die Hoof van die kerk. Wat van prof Jonker in die ware sin van die woord ’n besonder behoudende konserwatiewe teoloog maak. En dit strook weer op ’n byna pikante wyse met sy wortels in die taai, dikwels konserwatiewe Wes-Transvaal. Biesiesvlei, naby Lichtenburg, om presies te wees.
Dit is waar Willie Jonker gebore is (die sesde van agt kinders), gedoop is (in die ou skooltjie), en waar hy sy laerskoolopleiding ontvang het. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Lichtenburg en gaan daarna – nog nie heeltemal sestien nie – na die Universiteit van Pretoria. (Sy klasmaats was onder andere Johan Heyns, Carel Boshoff, Andrew Hofmeyr en Murray Janson, met wie hy, terloops, ook saam in die matriekklas was.)
Dat Willie Jonker ’n predikant sou word, was nooit ’n kwessie nie. Van kleins af is dit in die Jonker-huishouding so aanvaar. Dit hou waarskynlik verband met sy moeilike geboorte. Trouens, die vroedvrou, Tant Meraai, se bekwame hande moes besonderlik geseënd gewees het om die bloue babatjie aan die skreeu te kry.
Net so “vanselfsprekend” as die predikantskap, was die rol wat prof Jonker later in die NG Kerk se sware (amptelike) afskeid van apartheid sou speel – al was sy veelbesproke belydenis tydens die Rustenburg-kerkeberaad in 1990 nie-amptelik. Deur die jare het Willie Jonker ’n kenmerkende profetiese stem laat hoor – nie net teen onbybelse beskouinge rakende rasseverhoudinge nie, maar ook oor uiteenlopende ander kerklike kwessies soos die kerklike tug en die prediking.
Daar is ook ’n ander belangrike faset tot prof Jonker se veelkantige bediening: sy stigtelike, meditatiewe stukke wat al oor bykans twee dekades in Die Burger en later ook in Beeld verskyn en waarin hy Saterdagoggende op ’n rustige dog indringende manier oor ’n wye verskeidenheid geestelike sake skryf. (Prof Jonker deel deesdae die verantwoordelikheid met ’n paar ander teoloë.)
Sy gereelde artikels in Die Kerkbode en ander kerklike publikasies verteenwoordig self ’n aardige bydrae. Daarby kan ook die talle sinodale studiestukke, wat die besluite van NG sinodes beslissend beïnvloed het, gevoeg word.
Prof Jonker gaan gemaklik om met die woord. Wat nie vreemd is as ’n mens daarop let dat hy destyds op Tukkies ook ’n MA-graad in Afrikaans ingepas het nie.
Prof Jonker het deur die jare gereeld boeke gepubliseer en die uiteenlopendheid van die boekonderwerpe val op. (Gaan loer maar gerus in by u boekwinkel of biblioteek.) Hy is daarvoor bekroon, onder meer met die Andrew Murray- en Credopryse.
Prof Jonker bly een van die bitter min NG teoloë wat ’n beroep na ’n oorsese teologiese fakulteit ontvang het. Hy was hoogleraar aan die teologiese skool in Kampen, Nederland, in die laat jare sestig en vroeg sewentigs. Dit het gevolg op spanningsvolle jare as gemeenteleraar in Johannesburg. Willie Jonker se leierseienskappe is reeds op ’n vroeë leeftyd erken toe hy as aktuarius van die Transvaalse Sinode aangewys is. Maar dit het waarskynlik ook gesorg vir die felle teenreaksie wat sy toe omstrede standpunte oor byvoorbeeld die ou sendingreglement ontlok het. Willie Jonker was nooit ’n hofteoloog nie.
Die persoonlike aanvalle – ook nou meer onlangs na sy Rustenburg-belydenis – het egter nie aan sy klere gaan sit nie. Dit het hom by tye nie net psigies nie, maar ook fisiek uitgemergel. Vandag geniet hy egter goeie gesondheid – al werk hy deesdae ’n “bietjie stadiger”.
’n Groot deel van sy lewe – die laaste meer as twintig jaar – wy prof Jonker daagliks aan die opleiding van die kerk se leraars. En hy beskryf dit as “regtig die beste deel van my lewe”. Hy het deur die jare onder andere ook gedien as dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, “hoewel die administratiewe las wat dit meegebring het, my nooit juis aangestaan het nie”. Watter invloed prof Jonker deur die jare op die honderde voornemende leraars – wat deur die pragtige ou Kweekskool langs die Eersterivier beweeg het – uitgeoefen het, is waarskynlik onmoontlik om te bepaal. Maar dat hulle iets van sy gees deur die jare uitgedra het, is duidelik.
Hoewel daar hopelik nog vele vrugbare jare vir prof Jonker voorlê – ook na sy formele aftrede middel vanjaar – is ’n breë beoordeling van sy betekenis as teoloog nou reeds seker nie onvanpas nie. In ’n resensie in Woord en Daad oor die huldigingsbundel wat in 1989 ter ere van prof Jonker saamgestel is, skryf prof Amie van Wyk van die Gereformeerde Kerke: “Al is prof Jonker by tye misken, twyfel ek of daar veel ander mense is wat in hierdie tweede helfte van die twintigste eeu vir die NG Kerk meer beteken het as hy. Selde is daar in Suid-Afrika … so suiwer, so indringend en so vrugbaar op dogmatiese (leerstellige) en ekklesiologiese (kerklike) gebied geredeneer as juis deur hom. Dis so jammer dat ‘dekorasies vir voortreflike diens’ nie altyd die regte bestemming bereik nie. Maar miskien is dit ook nie belangrik nie. Teoloë moet tevrede wees as hulle uit genade die ‘kroon van geregtigheid’ mag ontvang.”