’n Deur van hoop

’N DEUR VAN HOOP
Die Burger, 28 Mei 1992

Daar kan geen nag so donker wees nie of daar is ’n ster van hoop wat êrens skyn. Daar kan geen situasie so uitsigloos wees dat daar nie êrens ’n deur van hoop bly wink nie.

Dit is nie maar ’n algemeen menslike wensdroom nie – dit is spesifiek ’n deel van die Christelike belydenis.

Hierdie boodskap van hoop behoort in hierdie moeilike tyd in die land se geskiedenis uitgedra en uitgeleef te word. Daar heers tans in breë kringe ’n gees van somberheid en pessimisme. Die dankbaarheid en entoesiasme wat kort na Februarie 1990 in die land opgevlam het, het intussen weg geëb soos die probleme op die moeisame weg na ’n nuwe bedeling sigbaar geword het.

Natuurlik is dit nie vreemd nie. Daar is jare, nee, eeue van verwydering wat oorbrug moet word; berge van wantroue wat te bowe gekom moet word; klowe van misverstand wat opgevul moet word voordat onderlinge begrip en ’n gemeenskaplike patriotisme gekweek kan word.

Die ideaal van demokrasie kan op almal se lippe wees, maar dit het nie vir almal dieselfde inhoud nie. Die begeerte dat almal in die land huise en kos en klere en werk moet hê, kan nie op ’n maklike manier gerealiseer word nie. Alles is veel moeiliker as wat aanvanklik vermoed kon word.

Dit word alles nog veel moeiliker gemaak deur die uitbreek van geweld en die onbeteuelbare eskalasie daarvan. Die afgryslikheid en sinloosheid van die wreedheid van mense teenoor ander mense – dikwels ook teenoor weerloses en onskuldiges, oumense, vroue en kinders – is so barbaars dat normale mense daarvan walg en depressief word. Die vraag wat bly knaag – is of dit in die toekoms so sal bly.

Maar asof selfs dit nie genoeg is nie, word die land juis in hierdie tyd getref deur die ergste droogte in menseheugenis. Die beelde van maer en sterwende vee, van dooie visse wat rondom opgedroogde panne lê, van wit en verskrompelde mielielande – bly in die onderbewuste vassteek en laat die somberheid in die binneste groei.

En boonop die afwaartse neiging van die ekonomie, die verswakking van die rand, die bankrotskappe, die rasionalisering, die afdanking van duisende.

Kan ’n mens in sulke omstandighede nog hoopvol bly?

As ’n mens se hoop net op die dinge van hierdie wêreld gerig is, is dit inderdaad baie moeilik om hoopvol te bly as so baie dinge jou ontval en die tye so swaar word. Egte hoop – ook vir die aarde – moet méér as die tydelike dinge omvat.

Maar gelukkig hoef ’n mens jou hoop nie op sulke wankele dinge te baseer nie. Die Christelike hoop word juis nie op aardse voorspoed gebaseer nie, maar op die boodskap van hoop wat in die Bybel verkondig word. Trouens, die hele evangelie is ’n evangelie van hoop, maar dit is ’n hoop wat gegrondves is op die verlossing wat God in Christus bewerk het. Dit kan vir ongelowiges na dwaasheid lyk, maar dit is vir gelowiges ’n vaste bodem onder hul voete.

Christene glo in die opstanding van Christus wat in die Bybel aan hulle voorgehou word as die grond van hul hoop dat God nie net hulle persoonlik nie, maar die hele werklikheid reeds in beginsel verlos en bevry het. Hulle glo in die hemelvaart van Christus, wat beteken dat Christus aan die regterhand van God in die hemel sit en die heerskappy oor die geskiedenis en die lotgevalle van die nasies aanvaar het.

Daarom hoop hulle nie net daarop dat daar na hierdie aardse lewe met sy ellende en donkerheid ’n toekomstige heerlikheid vir hulle wag nie. Hulle word in die Bybel daartoe opgeroep om op grond van die opstanding en die hemelvaart van Christus, ook te glo in die regering van Christus oor alle dinge, ja, ook oor hul aardse lewe met sy ekonomiese en politieke kante.

Christene mag hoop dat die boosheid en die kwaad en die wreedheid en die droogte nie die laaste woord sal hê nie. Christus is immers die Here. Deur hul gebede werk die gelowiges mee aan die regering van die wêreld. Hulle mag maar om hul daaglikse brood bid. Hulle mag daarom bid dat Gods koninkryk ook in die klein en groot dinge van die ekonomie en die politiek sal kom. Niks is te klein of te groot om daarvoor te kan bid nie.

Juis in tye van somberheid en donkerheid het die Christelike hoop ’n wonderlike manier om op te leef. Dan leer mense om weer weg te kyk van die riete waarop hulle geleun het na die ewige Rots van hul behoud. In sy hande is die toekoms veilig. Midde-in die nag is daar lig. Midde­in ’n uitsiglose situasie is daar ’n deur van hoop. – WDJ