Ervaar die lewe bewustelik

ERVAAR DIE LEWE BEWUSTELIK
Die Burger, 20 Junie 1992

Die mens het maar een lewe. Dit is ’n onberekenbaar groot verlies as jy die grootste deel daarvan deurbring sonder om die wonder en diepte daarvan bewustelik te beleef.

Baie dinge kan die oorsaak daarvan wees, soos die daaglikse drukte en gejaagdheid waarin ’n mens vasgevang word. Baie mense moet hulle so afsloof om liggaam en siel aan mekaar te hou dat hulle geen tyd het om bewus te word daarvan dat hulle lewe en wat dit beteken nie.

’n Mens se wêreldjie kan ook so klein wees dat jy eenvoudig nooit leer om bewus te lewe nie. Daar is ’n stuk kulturele en geestelike ontwikkeling nodig om werklik menslik met die wêreld en die lewe om te gaan. Dit is ’n groot armoede as ’n mens op ’n benede-menslike vlak lewe deur net op die bevrediging van jou basiese behoeftes ingestel te wees, of as jy op ’n een-ogige manier net materiële dinge najaag en van die werklikheid van die lewe onbewus bly.

Daarom is dit noodsaaklik dat ’n mens jouself en jou kinders moet leer om ’n geopende oog en oor en hart te ontwikkel om te sien en te hoor, te tas en te smaak wat om en in jouself gebeur, sodat jy nie oor die lewe heen lewe nie, maar die volle werklikheid daarvan bewustelik in jou kan opneem.

’n Mens het tyd nodig om jouself daarin te oefen om die lewe te ervaar, te proe, te voel en te beleef. Jy moet leer om jou oor die lewe en alle dinge te verwonder. Dit is nie net digters en filosowe wat dit moet doen nie. Elke mens moet sensitief word vir die werklikheid. Daarin verskil mense van diere, dat hulle nie net eet, drink, werk en voortplant nie, maar ook kan luister, kan kyk, kan bewonder en innerlik geroer kan word deur wat hulle ervaar.

Dit maak ’n groot verskil of ’n mens luisterend en gevoelig lewe, en of jy soos ’n geprogrammeerde wese miskien uiters effektief funksioneer, maar ’n barbaar is wat nooit met innerlike oorgawe kan luister na die geluide van die nag, na dié reën op die dak, na die ruising van die see en die voëls se gekwetter met dagbreek nie.

’n Mens moet op ’n herfsdag in hierdie tyd van die jaar jouself kan oopstel om die rypheid en rykdom daarvan waar te neem, dit te proe, dit deur jou porieë te laat indring. Jy moet jouself bewustelik tot stilte bring en leer om die lewe en die werklikheid om jou – in jouself op te neem: die taal van die musiek, die gesuis van die stilte, die stemme, woorde en pyn van mense.

En so moet ’n mens ook jouself leer oopstel vir God en sy Woord. Dit is God se wêreld, en Hy het alles so skoon en goed gemaak en dit gewil, bedoel en beplan.

Dit is eers as ’n mens tot innerlike rus en stilte kom in die besef van Gods nabyheid, dat jy die lewe werklik proe en ervaar.

As ’n mens die Bybelwoorde met ’n luisterende hart lees, kan jy die betekenis daarvan veel dieper indrink, totdat dit jou siel vervul en jy kan begryp wat God vir jou wil sê. – WDJ