WAT VRA GOD ANDERS?
Die Burger, 11 Julie 1992
Dat die land op die oomblik besig is om deur ’n proses van heroriëntasie te gaan, kan niemand ontken nie. Dit bring ’n gevoel van onsekerheid en word deur talle as angswekkend ervaar, wat dikwels lei tot swaarmoedigheid en negatiwiteit.
Maar vanuit die gesigspunt van die gelowige moet die situasie tog nie net negatief beoordeel word nie. Hoe onseker en bedreigend dinge ook voorkom, vanuit die geloof moet die nugterheid bygebring word om te besef dat juis hierdie situasie God se geleentheid kan wees om uit die kwaad die goeie gebore te laat word.
Om mee te begin – dit kan help om die verlede beter in perspektief te plaas. Die verlede was kennelik tog nie so goed as wat sommige dink nie. Ondanks groot ideale en groot voorregte wat daaraan verbonde was, laat die onthullings van onreg, korrupsie, wanbeheer en selfverryking deur mense in verantwoordelike posisies, veral by Afrikaners, ’n gevoel van teleurstelling en ontnugtering ontstaan.
Blykbaar is die volk tog nie so edel as wat sommige dit in hul idealistiese denke en patriotiese retoriek wou hê nie. Hierdie pynlike feit dwing Christene daartoe om te besef dat Afrikaners maar, soos alle ander mense, sondaars is en dat daar geen rede is om hulle beter as andere te ag, of om die volk en sy verlede te idealiseer nie.
Die vraag is of die Afrikanervolk se ontwikkeling sedert die dertigerjare werklik positief was. Die armoede van destyds is wel oorwin en groot ontwikkeling het ingetree. Maar het die voorspoed en vooruitgang die volk geestelik en moreel werklik ten goede gekom?
Die spreekwoord sê dat sterk bene nodig is om weelde te dra. Was die volk se bene sterk genoeg om die voorspoed van die afgelope era te dra? Was daar genoeg morele integriteit? Het die jeug geleer om ontsag vir die Christelike waardes te hê en versigtig, spaarsaam en verantwoordelik met die lewe om te gaan? Kon die huweliks- en gesinslewe die aanslag van materialisme en welvaart oorleef?
Kennelik was die geestelike fondament van die samelewing nie sterk en breed genoeg vir die eise wat daaraan gestel is nie. Daarom het dit meegegee. Die verabsolutering van die eie het gelei tot die bedreiging daarvan. Die genot van die weelde het gelei tot die verlies daarvan.
Wat nou nodig is, is die positiewe aanvaarding dat ’n proses van heroriëntering met oortuiging aangepak moet word.
God bied ’n nuwe geleentheid. Daar moet doelbewus gebou word aan ’n nuwe stel geestelike waardes op die grondslag van die Woord van God. Dit gaan daarin om eenvoudige maar helder dinge: eerbied en liefde vir God en die naaste, integriteit en betroubaarheid, respek vir die skepping van God.
Wat vra Hy anders van die mens as om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys, en bedagsaam te lewe voor sy God? (Miga 6:8). – WDJ