DIE INVLOED VAN CHRISTENE
Die Burger, 15 Augustus 1992
Daar word dikwels hoopvol gesê dat die 77% mense in die land wat hulle volgens statistieke met die Christelike geloof identifiseer, ’n groot faktor vir die bevordering van versoening en vrede is.
Teoreties is dit waar. Dit is wat ’n mens met reg kan verwag. In die praktyk blyk dit egter nie so eenvoudig te wees nie. Die hoop dat alle lidmate van kerke en Christelike groepe ’n positiewe Christelike invloed in die samelewing sal hê, word dikwels beskaam.
Talle mense wat statisties as Christene getel word, is byvoorbeeld bloot om tradisionele redes aan ’n kerk verbonde. Andere is te onvolwasse in hul geloof en mis die geestelike insig in wat Christenskap eintlik beteken.
Daar is ’n sin waarin dit van alle Christene geld dat hulle, soos die Heidelbergse Kategismus dit uitdruk, in hierdie lewe nog maar net ’n geringe begin van gehoorsaamheid aan die wet van God openbaar. Maar daar is talle wat ook hierdie geringe begin in hulle lewe verloën en verstik deur hul gebrek aan ware oorgawe aan God en ’n vleeslike gesindheid.
Daar is andere aan wie se Christenskap op grond van hul belydenis en persoonlike lewe nie getwyfel kan word nie, maar wat in dinge soos die politiek en die ekonomie tog blyk selfsugtig, bevooroordeeld en rassisties te redeneer. Hul selektiewe hantering van morele standaarde laat die vraag ontstaan hoe hulle die Bybel so kan misverstaan.
Gods radikale gebod kan so maklik mak gemaak word om in te pas by mense se aardse begeertes en lojaliteite, en dikwels is diegene wat dit doen, self blind vir die feit dat hulle dit doen. Die tragiese werklikheid is dat mense wat dink dat hulle opreg na die Bybel luister, die Bybel tog met ’n bevooroordeelde oog lees en dan dikwels die duidelike gebod van God met kwasi-teologiese argumente neutraliseer.
Jesus het die Fariseërs daarvan beskuldig dat hulle skynbaar vroom met die wet omgaan, maar die belangrikste eise daarvan – geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid – effektief negeer (Matteus 23:23).
Dit kos ’n klein verlegging in wat as die ware boodskap van die Skrif gesien word, om soos die Fariseërs trots te word daarop dat jy tot “Israel” behoort en jou dan oor andere te verhef. So word die hele sin van die Bybel egter verkrag.
Godsdienstigheid op sigself is geen waarborg dat mense die waarheid verstaan en uitleef nie. Onder die dekmantel van godsdiens kan mense hul eie vleeslike belangestruktuur met Bybeltekste verdedig, en so nie net verwarring saai nie, maar ook meewerk aan polarisasie in plaas van versoening.
Christene kan slegs ’n instrument vir versoening wees as hulle die elementêre beginsels van dissipelskap beoefen en hulle deur God laat verander, sodat hul denke en begeertes vernuwe kan word (Romeine 12:2). – WDJ