Deur die dieptes

DEUR DIE DIEPTES
Die Burger, 12 September 1992

Daar is tye wanneer ’n hele gemeenskap deur die dieptes heengaan. Dit is dan asof alle vastighede begin wankel, die toekoms onseker word Die hele geskiedenis is eintlik ’n opeenvolging van krisisse en periodes van onsekerheid. Soms lyk dit of daar tye van rus en ongestoorde vrede aanbreek. Maar dit is meestal kortstondig. Daar is byna geen geslag wat verbygaan sonder dat hulle ’n ernstige krisis hoef te deurleef nie.

Die droom dat daar ’n goue eeu sal aanbreek – ’n tyd van rus en geluk – is altyd gekoester. Maar die geskiedenis van die volkere is soos die eindelose onrus van die see. Daar kom wel momente dat dit klink of die dreuning van die see wil bedaar, maar direk daarna breek die branders met nog ’n groter gedruis.

Die Bybel leer nie dat daar op aarde ’n tyd van volkome geluk en voorspoed sal aanbreek nie. Daarvoor is die Bybel te realisties. Dit is te bewus van die sonde. Die sonde in sy individuele en kollektiewe vorme werk soos ’n innerlike verrotting in die menslike gemeenskap. Dit baar altyd weer ongeluk, stryd en vernietiging.

Daarin gaan die oordeel van God oor die sonde voortdurend oor die geskiedenis heen. In sy toorn gee God die geslagte oor aan die gevolge van hul dade. ’n Mens moet maar die Ou Testament lees om te sien hoe vol bloed en pyn die bestaan van Israel in die beloofde land was. Die smart van die ballingskap was soos ’n ongeneeslike kwaal. Dink maar aan die boek Klaagliedere.

In die lig van die Bybel leer Christene verstaan waarom die geskiedenis so vol onrus en vernietiging is. Hulle weet dat dit met die toorn van God te make het. Die ellende wat hulle belewe, is nie maar toevallig nie. Daarom moet hulle ook met God daaroor onderhandel.

Hulle moet leer vra wat God vir hulle deur die oordeel heen wil sê. Miskien sal hulle ontdek dat die krisis wat hulle ervaar, ook die gevolg is van hul eie sonde. Hulle sal bereid moet wees om die hand in eie boesem te steek. Maar hulle mag ook vertrou dat God, die hoorder van die gebed, sal antwoord as hulle in ootmoed tot Hom roep.

Die Bybel is uitgesproke daaroor dat daar ’n oomblik in Gods toorn is, maar ’n lewe in sy goedgunstigheid (Psalm 30:6). Hy sal nie altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie (Psalm 103:9). Gods oordele is nie bedoel om te vernietig nie, maar om tot inkeer en ’n nuwe begin te bring.

Dit vra daarom selfondersoek, inkeer en verootmoediging. Dit kan die begin word van ’n tyd waarin opnuut na die wil van God en die beswil van die medemens gevra word, ’n tyd van groter sensitiwiteit vir wat reg en verkeerd is.

So kan ’n tyd van oordeel tot ’n tyd van seën word. Uit die kwade kan die goeie te voorskyn kom. Alles hang net af van hoe mense daarop reageer. – WDJ