Die viering van die Christelike Sondag

DIE VIERING VAN DIE CHRISTELIKE SONDAG

Opgestel deur Prof W D Jonker op versoek van die Wes-Kaapse Moderamen
8 Oktober 1992

Vanweë verskillende omstandighede het dit vir Christene in ons land nodig geword om hulleself opnuut af te vra wat die karakter van die Sondag is en hoe dit gevier behoort te word. Die tradisionele manier waarop die Sondag gevier is, het reeds gedurende die afgelope dekades swaar onder druk gekom vanweë die toename in Sondagsport, die Sondagpers, die koms van die beeldradio en die algemene lewenspatroon wat ook by lidmate van die kerk die besef dat Sondag die Dag van die Here is, ondermyn het.

 

Suid-Afrika word tans toenemend blootgestel aan die invloed van ’n proses van verwêreldliking (sekularisasie) wat meebring dat die tradisionele Sondagviering steeds meer aangetas word. Die noodsaak van die stimulering van die ekonomie, die eis tot demokratisering van die samelewing en die beginsel van godsdiensvryheid word as argumente gebruik om die Sondag steeds meer van sy tradisionele karakter te beroof.

Daarom is dit nodig dat Christene daarvan bewus moet word dat die handhawing van die Sondag as die Dag van die Here veel meer as tevore hulle eie saak en verantwoordelikheid is. Hulle moet daarvoor sorg dra dat daar ’n Christelike sede in verband niet die viering van die Sondag gevestig sal word wat sal kan bly voortbestaan, selfs al sou die wetlike beskerming van die Sondag wegval en die algemene gees in die land onverskillig teenoor die besondere aard van die Sondag word.

Die karakter van die Sondag

Ons maak hier slegs enkele opmerkings wat kan help om die aard van die Sondag beter in die visier te kry:

  1. Die Christelike Sondag is ’n feesdag wat die viering van die volheid van die verlossing soos dit in die opstanding van Christus geopenbaar is, ten doel het.

 Die groot gebeurtenisse waaruit die Christelike kerk gebore is, is volgens die Nuwe Testament ten nouste met die eerste dag van die week – dit is die Sondag – verbonde. Jesus staan op die eerste dag van die week op (Markus 16:2). Hy verskyn agt dae later aan die dissipels (Johannes 20:26). Die Heilige Gees word op die eerste dag van die week uitgestort (Handelinge 2). Vir die eerste Christene was die eerste dag van die week dus die dag waarop die heil geopenbaar is en waarop dit gevier behoort te word. Johannes noem dié dag in Openbaring 1;10 dan ook heel gepas die dag van die Here.

Die Christene het daarom van die begin af op die eerste dag bymekaar gekom om God te loof, die evangelie te vier en die nagmaal te gebruik. Die enigste samekoms van Christene waarvan die dag vermeld word, vind op die eerste dag van die week plaas. Volgens 1 Kor. 16:1 Is dit ook die dag waarop die gemeentes hulle gawes vir die armes opsy moes sit. Die Sondag was vir hulle ’n dag van vreugde en dankbaarheid, en dit het vanself vir hulle die hart van die week geword.

Dit het meegebring dat daar reeds vroeg ’n tradisie gevestig is om Sondag as Christelike vierdag te handhaaf, en sedert die vierde eeu is dit ook deur die staat as Christelike rus- en feesdag erken.

  1. Hoeveel die Sondag ’n ander karakter en inhoud as die Joodse Sabbat het, staan dit tog op ’n bepaalde wyse geestelik met die Sabbat in verband.

Klaarblyklik was daar van die begin af in die kerk Christene van Joodse afkoms wat die Sondag naas die Sabbat gevier het, terwyl die Christene uit die heidene nie die Sabbat gevier het nie, maar slegs die Sondag as feesdag onderhou het. In die Nuwe Testament word die viering van die Sondag nie met die Sabbat in verband gebring nie. Die Sabbat word gesien as in Christus vervul – dit was ’n “skaduwee van wat sou kom” (Kolossense 2:16–17) en Paulus verklaar dat die gelowiges hulle nie moet laat voorskryf om die Sabbat te vier nie.

Eers nadat die Christelike godsdiens in die vierde eeu tot staatsgodsdiens verhef is en die Sondag tot rusdag verklaar is, het die neiging ontstaan om die Sondag as ’n nuwe Sabbat te sien. Dit het saamgehang met ’n omvattende proses van “verjoodsing” van die kerk: die kerkgebou is as ’n tempel gesien, die nagmaalstafel het ’n altaar geword, die voorganger het ’n priester geword ens. Die gevolg hiervan was dat die Sondag dikwels in die geskiedenis volgens die voorbeeld van die Joodse Sabbat verstaan en gevier is.

Dit was ’n ongelukkige ontwikkeling. Maar daarmee word nie gesê dat die Sondag niks met die Sabbat te make het nie, Reeds In die Nuwe Testament is dit duidelik dat daar ’n geestelike verband tussen die Sondag en die Sabbat is, vir sover die Sabbat ’n teken en sinnebeeld was van die rus van God op die sewende skeppingsdag – wat nog steeds voortduur – en die belofte van heil en bevryding wat God uit genade aan die gevalle mens gegee het om daarin te mag deel.

Die Sabbat het in die Ou Testament ’n ryk betekenis. Dit is ’n teken van Gods verbond met sy skepping en met sy volk, en uit Deuteronomium 5:15 blyk dit ook dat dit ’n teken was van die redding en bevryding van die volk uit Egipteland. Dit spreek van die bevryding uit slawerny, van afgode en materialisme. Dit getuig van bevryding tot die gemeenskap met God en die naaste. Dit alles is gegrond in die belofte dat God die mens ten spyte van sy sonde op grond van die soenverdienste van Christus deel wil gee aan Sy ewige rus (Hebreërs 4:1–11). Die fisieke rug van die Sabbat was ’n teken van die geestelike herstel en rus as deelname aan die ewige vreugde van God. Dit wys heen na die rus wat die kinders van God in die ewigheid sal smaak.

Dit belofte van die Sabbat vind sy vervulling in die heil wat Christus bewerk het. Daarom is die viering van die heil in Christus op die eerste dag van die week in wese die viering van die heil waarvan die Sabbat ’n teken was. Wie na Christus nog aan die Sabbat vashou, misken die heilswerk van Christus. Maar wie die Sondag as opstandingsdag van Christus vier, moet dit doen in die bewussyn dat hy/sy reeds deel het aan die werklikheid van die heil waarna die Sabbat verwys het.

  1. Die Heidelbergse Kategismus help ons om die aard van die Christelike Sondag reg te verstaan as feesdag van die heil in Christus.

Die opstellers van die Heidelbergse Kategismus het die vervulde karakter van die Sabbatsgebod baie goed verstaan toe hulle dié gebod soos volg vir die Nuwe-Testamentiese Christene in vraag 103 vertolk het: “Ten eerste moet die kerkdiens en die Christelike onderwys in stand gehou word. Ook moet ek, veral op die Sondag, dit is die rusdag, ywerig na die gemeente van God kom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, God die Here openlik aan te roep en Christelike liefdegawes vir die armes te bring. Ten tweede moet ek elke dag van my lewe ophou om sonde te doen, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige lewe reeds in hierdie lewe.”

Uit hierdie antwoord is dit duidelik dat die Sondag anders gevier moet word as die Sabbat. Die verbod om te arbei word deur hulle glad nie genoem nie. Hulle dink heeltemal vanuit die heilsvervulling van die vierde gebod in Christus en sê daarom dat die Sondag – wat in die Christenheid die rusdag is waarop die heil in Christus gevier word – ’n dag is vir die erediens met al sy elemente en vir die godsdienstige onderrig van die jeug. Dit is ’n dag vir die viering van die heil, vir die diens van barmhartigheid, loflied en gebed.

En dan volg nog die belangrikste: die Sondag kan nie die volle betekenis van die vierde gebod uitput nie, want dit vra niks minder nie as dat ons elke dag van ons lewe moet rus van ons bose werke, moet ophou om sonde te doen, en die Here deur sy Gees in ons moet laat werk. Met ander woorde: die vervulde Sabbatsgebod roep Christene tot die heiliging van hulle hele lewe, die ingaan in die volkome rus in die soenverdienste van Jesus, die volkome oorgawe aan die Heilige Gees wat in ons wil werk, nie net op Sondag nie, maar elke dag van ons lewe, sodat ons reeds in hierdie lewe die ewige. Sabbat van God kan begin smaak.

Kort saamgevat: Op Sondag vier Christene die heil wat hulle hele lewe omvat. Daarom moet ons doen en late op Sondag deur daardie heil gestempel word en aan die viering van daardie heil dienstig wees.

  1. Die Christelike Sondagviering kan aansluit by die wyse waarop Christus die Sabbat gevier het.

Met sy interpretasie van die vierde gebod sluit die Kategismus aan by die wyse waarop Christus self die Sabbat gevier het. Jesus het die Sabbat onderhou, maar Hy het nie kritiekloos aangesluit by die wyse waarop die Jode dit gevier het nie. Dit was juis een van die ernstige verskilpunte tussen Hom en die Fariseërs. Hy besoek die sinagoge op die Sabbatdag, soos dit sedert die ballingskap gebruiklik geword het (Lukas 4:16), maar teenoor die wettisistiese Sabbatsviering leer Jesus dat die mens nie vir Sabbat gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens (Markus 2:27). Hy laat sy honger dissipels toe om are op die Sabbat te pluk en genees self siekes op die Sabbat (Lukus 6:1–5; 6:6–11; 13:10–17; 14.1–6). Sy Sabbatsviering openbaar die ware bedoeling van die Sabbat. Dit gaan nie daarin om die rus ter wille van die rus nie, maar om die viering van die bevryding en die verlossing, die lewe uit die verbondsvreugde in die diens van God en die naaste.

Vir Christene behoort dit te beteken dat hulle viering van die Sondag nie wetties moet wees nie, maar gevul met vreugde en dankbaarheid oor die heil. Dit moet aan hulle die ruimte en tyd gee vir inkeer tot God en vir gemeenskap met God en met die naaste. Dit moet in die gejaag van die moderne lewe vir hulle ’n tyd van stilte skep om geestelike vernuwing te kan ontvang. Dit moet vir hulle ’n dag van herstel wees, van die heropbou van geestelike reserwes, van omgang met die dinge wat wesenlik is, Daarom moet hulle op dié dag kerk toe gaan, aan geestelike aktiwiteite deelneem, aandag aan die huislike en gesinslewe bestee, vriende, eensames en siekes opsoek en tyd maak vir alle aktiwiteite van geestelike aard vir hulle eie ophou en vir dié van andere.

Christene moet geestelike sensitiwiteit ontwikkel vir wat by Sondag tuishoort en wat nie.

Christene moenie nie op ’n krampagtige en wettiese manier met die Sondag omgaan nie, maar hulleself afvra wat in ooreenstemming is met die geestelike karakter van die dag en wat nie. Ook van die Sondag geld dit dat ons tot vryheid geroep is, maar dat ons nie ons vryheid moet gebruik as ’n verskoning vir die sonde nie, maar as ’n geleentheid om mekaar in liefde te dien (Galasiërs 5:13).

Daar kan nie ’n lysie gemaak word wat ’n mens op Sondag mag doen en wat nie. Christene behoort sensitiwiteit te ontwikkel om te kan bepaal wat wel en wat nie by die aard van die dag pas nie. In ’n bepaalde sin geld ook van die Sondag dat alles geoorloof is, maar dat alles nie opbouend is nie. (I Korintiërs 10:23). Daarom moet gelowiges hulleself afvra of wat hulle op Sondag doen en hoe hulle die dag deurbring, vir die Here aangenaam is. Hulle moet ook volgens die goue reël handel, dat alles wat nie uit die geloof is nie, sonde is (Romeine 14:23).

Om hier maar enkele voorbeelde te noem: Christene moet hulleself afvra of dit die beste ding is om op Sondag inkopies te gaan doen of ’n koerant te koop of aan sport deel te neem of na sport te gaan kyk of ’n bioskoop te besoek ens. Op sigself is dit nie sonde om op ’n Sondag iets te koop as dit noodsaaklik is nie. Hoe ons die Sondag inkleur, moet by die karakter en bedoeling van die Sondag pas. In die Christelike sede is daar altyd ruimte gelaat vir werke van noodsaaklikheid en barmhartigheid op die Sondag, maar ons moet onsself afvra of wat ons op Sondag doen, dienstig is aan die doel waarvoor die Sondag gevier word.

Sondaghandel en Sondagsport maak inbreuk op die karakter van die Sondag en ondermyn die Christelike sede wat die dag as ’n godsdienstige feesdag verstaan. Die koop en lees van ’n Sondagkoerant met al die sensasionele en dikwels minder stigtelike leesstof daarin, is nie ’n goeie manier om die Sondag deur te bring en die atmosfeer in jou huis te stempel, nie. Daar word ’n gees in die huis ingedra wat liefs op die Dag van die Here daarbuite kon gebly het. Dieselfde geld ten opsigte van die soort uitstappies wat vir Sondag gereël word, die kwessie van Sondag-fliek, die deelname aan sport of die kyk na sport op die televisie. Christene moet ’n fyn aanvoeling ontwikkel vir wat wel en wat nie dienstig is aan die geestelike doel van die Sondag nie, en in hulle lewens en huise ’n atmosfeer skep wat ruimte maak vir stilte, vir inkeer tot hulleself en tot God, vir liefdevolle aandag aan mekaar en aan hulle medemense wat eensaam of in nood is. Kerkrade sal in die loop van hulle pastorale versorging van die gemeente, ook gemeentelede moet help om hierdie fyn aanvoeling te ontwikkel.

Sondag as openbare vakansiedag

In Suid-Afrika het ons daaraan gewoond geraak dat die Sondag, soos in die hele Weste, as Christelike vakansiedag wetlik beskerm word. Dit is nie vanselfsprekend dat dit ook in die toekoms so sal wees nie. Dit is egter te hope dat enige toekomstige owerheid die feit dat meer as 75% van die inwoners van Suid-Afrika hulleself as Christene beskou, sal eerbiedig en dat die Sondag as openbare vakansiedag gehandhaaf sal word.

Uiteraard moet Christene hulleself daarvoor beywer. Dit is nie slegs belangrik omdat dit aan die Christene die tyd gun om hulle eredienste te hou en hulle gemeentelike aktiwiteite te verrig nie, maar ook omdat dit noodsaaklik is dat aan alle mense wat swaar liggaamlike en ander soorte arbeid moet verrig, tyd gebied word om te rus, te ontspan en aan hulle gesinne aandag te kan gee.

Die kerk weet maar alte goed dat daar bepaalde vorme van arbeid is wat nie onderbreek kan word nie, sodat skofwerk soms noodsaaklik is en baie mense dus op Sondag sal moet werk. Maar die kerk pleit nogtans om barmhartigheidsredes daarvoor dat die Sondag sover immer moontlik beskerm moet word. Dit is veral die minder-gegoedes wat daaronder ly as Sondag tot ’n gewone werkdag word. Die Sondaghandel beteken onder andere dat baie werkers se vrye tyd ingekort word, met al die gevolge wat dit vir hulle en hulle gesinne het. Die kerk waarsku ook teen die gevaar van hebsug en winsbejag wat dikwels daarvoor verantwoordelik is dat die Sondag in die gedrang kom.

In die moderne geïndustrialiseerde samelewing met sy baie negatiewe elemente soos kompetisiedruk, besoedeling, lawaai en rasende lewenstempo is Sondag waarskynlik nodiger as ooit tevore vir die geestelike en liggaamlike welsyn van alle landsburgers, nie net van Christene nie. Dit is ’n dag wat kan bydra tot die algemene lewenskwaliteit van mense en dit sal ’n groot skade wees as dit deur allerhande faktore van sy betekenis beroof word.

Ten diepste is dit egter vir Christene van die grootste belang dat Sondag selfs in ’n versekulariseerde tyd die teken is van die opstanding en triomf van Jesus Christus, die Here, en dat dit, midde in ’n wêreld wat weinig tyd of respek skyn te hê vir die Woord en diens van die lewende God, ’n boodskap van die genade en liefde van God bevat, en heenwys na die ewige vreugde wat vir die volk van God wag.