DIE VERBORGE KWAAL
Die Burger, 28 November 1992
Toe Martin Luther op 17 Julie 1505 die Augustyner-klooster in Erfurt binnegetree het om monnik te word, het die prior aan hom volgens voorskrif drie vrae gestel: Is jy ’n lyf-eigne? Het jy onbetaalde skulde? Ly jy aan ’n verborge kwaal?
Op hierdie vrae het Luther elke keer nee geantwoord. Maar, skryf WJ Kooiman, eintlik moes hy drie keer ja geantwoord het. Hy sou in die volgende jare steeds meer ontdek dat hy wel ’n slaaf was, dat hy ’n groot skuld gehad het, en dat hy aan ’n verborge kwaal gely het.
Hy was geen slaaf of skuldenaar van mense nie, maar hy het hoe langer des te meer besef dat hy ’n slaaf van die sonde was en diep in die skuld by God. Hy het geen fisieke kwaal gehad nie, maar het steeds meer ontdek dat hy innerlik siek was, omdat sy skuld nie vergewe en sy hart nie met die hart van God reg was nie.
Sy ontwikkeling in die volgende jare sou hom by die punt bring waar die lig van die evangelie vir hom sou deurbreek sodat hy van sy skuld verlos en van sy kwaal genees sou word. Sy ontdekking het sedertdien miljoene mense gehelp om die evangelie te verstaan en te omhels.
Alle mense is skuldenaars en slawe van die sonde. Alle mense ly aan ’n verborge kwaal. Dit is waar dat sommige afskuweliker gesondig het as ander. Maar verskille in die vorm wat die sonde aanneem, maak nie die een beter as die ander nie. Almal kan slegs as sondaars gered word deur die geloof in die vryspraak van God op grond van die verdienste van Christus (Romeine 3:24).
Hieroor is die evangelie duidelik. En tog is daar mense wat nie hierdie innerlike vryheid ervaar nie, selfs al het hulle Christus deur die geloof aangeneem. Hulle ly nog steeds onder die las van hul sondes van die verlede.
Dit is veral die geval met mense wat bewus is van geheime sondes in hul verlede wat hulle as besonder skandelik beskou. Die herinnering daaraan bly deur die jare soos ’n verborge kwaal in hulle voortwoeker. Hulle het daarmee gebreek en dit duisend maal voor God bely, maar hulle haat en verag hulself daaroor, en wil hulself nie vergewe nie.
As hulle hulself ondersoek, sal hulle agterkom dat dit eintlik nie meer ’n skuldgevoel teenoor God is wat hulle so bind nie, maar die vrees dat ander mense, en veral diegene wat hulle hoog ag, dit sal uitvind en hulle dan sal verag.
Dis nie God wat hulle dus altyd weer aan hul verlede herinner nie. Dis hul trots wat nie die gedagte kan verdra om voor die mense ontmasker te word nie. Dit word deur die duiwel gebruik om hulle nog steeds onder die verborge kwaal te laat ly.
En dit sal so bly totdat hulle bereid word om Gods oordeel oor hulle belangriker te ag as die oordeel van die mense, en hulle volkome op sy genade te verlaat. – WDJ