Kwaad kan verander in goed

KWAAD KAN VERANDER IN GOED
(
Geloftedag)
Die Burger, 16 Desember 1992

Geloftedag dring ’n mens daartoe om na te dink oor die innerlike dinamiek wat in die geskiedenis aanwesig is. Wie in God en sy leiding in die geskiedenis glo, kan nie aanvaar dat dit net ’n sinlose spel van kragte is nie.

Wie met ’n geloofsoog na die geskiedenis kyk, sal altyd weer daarin die goedheid en regering van God na vore sien kom, ondanks alle menslike stryd, sonde en verwarring. Op ’n verborge wyse staan die gebeurtenisse in die wêreld tog in diens van die koms van Gods koninkryk.

Die sin van historiese gebeurtenisse word eers met verloop van tyd sigbaar. Soms word dit eers ná eeue duidelik watter beslissende betekenis sulke gebeurtenisse gehad het en hoe hulle die koms van Gods koninkryk gedien het.

Dan kan dit blyk dat wat aanvanklik net negatief gelyk het, tog positiewe betekenis gehad het, en omgekeerd. Een van die bekendste voorbeelde daarvan is die val van Rome in 410 toe dit deur die barbaarse Wes-Gote ingeneem is. Die Romeine het gedink dit is die einde van die wêreld. Dit het gelyk asof alles in duie gestort het, nie net die glorie van die eens magtige Romeinse Ryk nie, maar ook die Grieks-Romeinse kultuur en beskawing.

Maar dit was nie waar nie. Dit was wel ’n einde, maar ook ’n nuwe begin. In daardie tyd skryf Augustinus sy beroemde boek oor Die Stad van God. Daarin open hy ’n ander perspektief op die geskiedenis. In en deur die wisseling van aardse koninkryke bou God sy ryk. En in die gerig en genade van God word die nasies nie vernietig nie, maar geseën.

Augustinus het gelyk gehad. Die val van Rome was wel die pynlike einde van ’n bepaalde tydperk, maar dit was ook die hoopvolle begin van die verbreiding van die Christendom en die Grieks-Romeinse beskawing na Europa en die hele Weste. In die oordeel van God oor die dekadensie van die Romeinse imperium het die saadkorrel van die oue in die grond geval sodat iets nuuts daaruit gebore kon word. Die Romeine het militêr verloor, maar hul beskawing het Europa verower.

As ’n mens in hierdie lig gelowig na die situasie van hierdie land kyk, is jy verplig om te sê: Moenie te haastig oordeel oor die talle negatiewe dinge wat tans gebeur nie. Die pyn van vandag is moontlik die saad vir ’n beter môre. Dit kan die noodsaaklike deurgang wees na groter dinge wat God in die gang van sy koninkryk vir Suid-Afrika bedoel.

As die oorspronklike bewoners van hierdie land só na die geskiedenis van die afgelope drie eeue kyk, sal hulle meer bereid wees om te sê dat die hele pynlike ervaring wat hulle in die tyd met mense van Europese herkoms gehad het, tog nie net negatief was nie – selfs al het die negatiewe kante daarvan hul besef oorheers.

Hulle sou tog vandag nie alles daarvan ongedaan wil maak nie. Hulle het daardeur deel gekry aan veel wat hulle nie meer kan of sou wou mis nie. En dit geld nie net vir die groot aantal van hulle wat Christene geword het nie.

Dit geld ook vir die wit deel van die bevolking dat hulle, as hulle eerlik wil wees, sal erken dat die pynlike dinge wat hulle tans beleef, ook nie net negatief beoordeel kan word nie. Hulle mag hoop dat hierdie fase onder Gods hand die noodsaaklike deurgang kan wees na ’n nuwe situasie van meer geregtigheid en vrede.

Dit is veral die geval, omdat die huidige situasie vir hulle vol is van pyn en ontgogeling oor die gebrek aan integriteit binne die openbare bestel waarvan vele geglo het dat dit gedra is deur die beginsels van die Christelike etos.

Min dinge is so ontwrigtend as die ineenstorting van mense se naïewe geloof in die basiese betroubaarheid van hul eie mense en die stelsel waardeur hul leefwêreld gedra word. Die Afrikanervolk deurleef tans ’n veelkantige krisis: ’n vertrouens- sowel as ’n identiteitskrisis – ingebed in die krisis van onsekerheid oor die toekoms. Wanneer laas was die moreel van die volk só laag?

Daarom is die volk tans so gevaarlik verwondbaar. Slegs geloof in God en sy beskikking oor die geskiedenis kan ’n mens in so ’n tyd staande hou. Dit kan jou laat vertrou dat sulke dieptepunte in Gods plan noodsaaklik is as aftakeling van die oue, sodat die nuwe gebore kan word waarin egte lewenswaardes weer ontdek en gekoester sal word.

Digters en profete het al lank geweet dat die volkslewe deur duister magte bedreig word. Van Wyk Louw het in sy Raka die nare visioen gesien van die oorrompeling van die volksiel deur die primitiewe aantrekkingskrag van die sinlike, die onbeskaafde, die dierlike en chaotiese.

Vandag weet ons dat die Raka van materialisme, hebsug, magswellus en morele verwildering, byna die volksiel vernietig het.

Maar deur Gods genade is dit moontlik om uit die huidige ontreddering op te staan; dat ’n nuwe dag gebore word. Dit hang af van die ootmoed, oortuiging en eerlikheid waarmee gekies word vir die blywende waardes van die lewe, waarvoor daar geen alternatief is nie. Die geloof hou rekening daarmee dat die kwaad kan verander in goed. – WDJ