Leer om te dank

LEER OM TE DANK
Die Burger, 21 Februarie 1993, bladsy 10

Daar is seker niemand wat nie ten minste soms ’n gevoel van diepe weemoed oor die kortstondigheid van alles en die verganklikheid van die lewe ervaar nie.

As ’n mens jonk is, gebeur dit miskien nie so dikwels nie. Jy drink dan nog met volle teue uit die beker van die lewe, met die gevoel dat daar nog baie oor is. Jy word so in beslag geneem deur die najaag van ideale en gestelde doelwitte dat jy dikwels aan die jare verbyleef asof dit nooit sal ophou nie.

Maar soos die tyd vorder, herinner steeds meer dinge ’n mens aan die verganklikheid van alles. Talle vertroude dinge verander feitlik ongemerk. Die kinders gaan die huis uit. Dierbares word oud en val weg. Dinge wat feitlik as vanselfsprekendheid gegeld het, is nie meer daar nie.

Gevoelens van hartseer en nostalgie kan dan ’n groter plek in jou hart verower. Die besef dring tot jou deur dat niks op aarde werklik blywend is nie. Met ’n onverbiddelikheid wat met die tydelike karakter van die aardse bestaan gegee is, gaan alles verby.

Dit kan in tye van pyn en swaarkry soms ’n troos wees om te dink dat alle dinge verbygaan – ook die tye van pyn. Maar meestal is die gedagte aan die verganklikheid van alles, tog pynlik. Daar is soveel in die lewe wat ’n mens graag sou wil vashou, sou wil verewig. God het die ewigheid in die mens se hart gelê (Prediker 3:11). Daarom is dit so moeilik om te aanvaar dat die aardse lewe maar soos ’n damp is wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn (Jakobus 4:14).

Dit kan ’n mens daarom somber, swartgallig, hartseer en neerslagtig maak as jy aan duisende dinge begin merk – soos Totius se gedig lui – dat die wêreld nie ons woning is nie. Dit is pynlik om te besef: Ek het my kans gehad om op die baan van die lewe te speel, maar my beurt is verby.

Die gevaar bestaan dat hierdie besef mense suur, negatief, hartseer en bitter kan maak. Maar daar is ook ’n ander moontlikheid: die Christelike, die geloofsmoontlikheid. Dit is om nie te treur oor die verganklikheid van alles nie, maar dankbaar te wees oor wat jy wel ontvang en ervaar het.

’n Mens moet leer om in ’n ander rigting te kyk, om die aksent in jou gemoed anders te lê. Jy moet leer om nie te treur oor wat jy nie meer het nie, maar om te dank vir wat jy gehad het.

Nostalgie moet omslaan in dankbaarheid. Hartseer oor die verlede moet omslaan in erkentlikheid teenoor die Gewer van alle goeie dinge, wat ook vir die toekoms vertrou kan word soos vir die verlede.

Die lewe is wel tydelik en verganklik, maar dit is tog opgeneem in die plan en goedheid van die ewige God, wat nie die werk van sy hande laat vaar nie.

As die verlede ’n onverdiende geskenk van Hom was, sal ook die onbekende toekoms dit wees. – WDJ