JA! JY KÁN SEKER WEES (…DAT JY GERED IS)
Die hoofpunte van hierdie boekie was oorspronklik ’n pamflet wat
deur professor Jonker geskryf is vir gebruik deur die Wes-Kaapse
Sinode se Kommissie vir Leer en Aktuele Sake.
WD Jonker
Lux Verbi, Posbus 1822, Kaapstad. Outeursreg © 1993
Alle regte voorbehou.
Alle Bybeltekste wat in hierdie publikasie aangehaal word, is geneem
uit die 1983-vertaling met herformulerings van die Bybel in Afrikaans.
Kopiereg © Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Eerste uitgawe, eerste druk 1993 – ISBN 0 86997 447 5
Hierdie boekie is vir jóú geskrywe
sodat jy kan weet
dat jy die ewige lewe het,
jy wat in die Seun van God glo.
Met verwysing na 1 Johannes 5:13.
Hoe verbasend dit ook al mag klink, daar is heelwat lidmate van die kerk wat hulle lewe aan die Here oorgegee het, en tog nie doodseker is óf hulle werklik kinders van God is nie.
Hulle is gedoop, gaan kerk toe, gebruik nagmaal, probeer om ’n goeie lewe te lei, lees die Bybel en bid miskien selfs gereeld, maar … hulle het geen vrymoedigheid om te sê dat hulle wéét God is hulle Vader en hulle is sy geredde kinders nie.
Is dit miskien met jou ook die geval?
Dan moet jy asseblief tyd daarvoor neem om die volgende paar bladsye rustig deur te lees.
Dit kan jou van jou onsekerheid bevry en jou daardie unieke vreugde gee van ’n mens wat seker weet dat hy/sy God se kind is. Nou en vir altyd.
Die eerste saak waaroor jy duidelikheid kan hê, is dit:
- Die Here wil hê jy moet seker wees dat jy sy kind is.
Hieroor wil die Bybel geen twyfel by ons laat nie.
’n Mens kan selfs sê dat die hele Bybel geskryf is om alle twyfel hieroor by ons weg te neem deur ons oor en oor te verseker:
- dat God ons liefhet, en
- dat Hy daarom nie wil hê dat een van ons verlore gaan nie, maar dat ons almal gered moet word.
Die blye boodskap is dat God ons in sy Woord verseker:
- dat Hy sy Seun gegee het om in ons plek die straf op ons sonde te dra,
- dat Hy ons daarom in Christus vir ewig vrygespreek het van ons sonde en
- dat Hy ons tot sy kinders aangeneem het.
Wat die apostel Johannes aan die lesers van sy brief geskryf het, geld ook vir ons:
“Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Johannes 5:13).
Daar is baie dinge waaroor ons onseker is. Ons weet nie wat vandag of môre met ons sal gebeur nie. Ons weet nie hoe lank ons nog sal lewe of watter vreugde of smart daar vir ons wag nie. Maar oor een saak hoef ons nooit onseker te wees nie:
- God het ons lief;
- ons ewige verlossing is sy saak en in sy hande is dit absoluut veilig.
Dit is ook nie net dat ons hieroor geen onsekerheid hóéf te hê nie, ons mág nie daaroor onseker wees nie. Dit sou immers daarop neerkom dat ons die herhaalde versekeringe wat God ons oor die saak in sy Woord gee, nie ernstig opneem nie.
Miskien doen jy dit ook. Miskien is die enigste rede waarom jy onseker voel oor die vraag of jy werklik ’n kind van God is, dat jy eintlik nie God se Woord en sy belofte in eenvoud wil aanvaar en wil glo dat dit ook op jou persoonlik betrekking het nie. En die gevolg? Jy mis die vreugde van die vaste sekerheid wat God juis wil hê ons moet ervaar.
Die tweede saak waaroor jy duidelikheid kan hê, is dit:
- Die Bybel wil jou volkome sekerheid oor jou kindskap gee. Daarom word dit duidelik gestel dat die enigste en vaste grond waarop ons sekerheid rus, nie óns eie werke of gevoelens oor die saak is nie, maar Christus se offerdood aan die kruis, as gevolg waarvan ons met God versoen is.
Die Bybel gee ons die absolute versekering dat Christus in ons plek vir ons sondes gesterf het en volkome versoening vir ons sonde gedoen het.
Lees op die bladsy hier langsaan wat sê Romeine 5:6–11 en 2 Korintiërs 5:17–21, en word opnuut daarvan oortuig.
’n Mens kan sê die boodskap van bogenoemde twee Skrifgedeeltes word saamgevat in 1 Johannes 2:2:
“Hy (Christus) is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir die van die hele wêreld.”
Ook Johannes 3:16 sê dit sê duidelik:
“God het die wêreld so liefgehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sál hê.”
Dit beteken:
“God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe … 1 Johannes 5:11–12
Die evangelie – die blye boodskap – sê vir ons:
- God gee ons die lewe.
- Hy gee dit aan ons in Christus.
- Christus is die grond van ons verlossing, want Hy het aan die kruis ons skuld op Horn geneem; Hy het die oordeel en die vloek wat op die sonde rus, in ons plek weggedra (Galasiërs 3:13–14).
Kolossense 2:14 verduidelik dit só:
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”
Hierdie boodskap van versoening in Christus is die vaste grond vir jou sekerheid. Die Skrif pleit by jou om dié versoening wat God klaar bewerk het, net te aanvaar (2 Korintiërs 5:20).
Jy moet God eenvoudig op sy woord neem deur aan hierdie versekering vas te hou:
- Op grond van wat Christus ook vir jou aan die kruis gedoen het, skenk God aan jou vergifnis, verlossing en die ewige lewe.
- Omdat God jou in Christus tot sy kind aangeneem het, kan niks jou van sy liefde skei nie.
- Dit is presies wat bedoel word wanneer die Bybel sê dat ons uit genade gered word.
Met dié woorde, wat jy miskien nog net nooit vir jouself toegeëien het nie, word eenvoudig bedoel dat Christus – ja, niks of niemand anders as Christus nie – die verlossing vir ons bewerk het, en dat God alleen ter wille van Hom aan ons die ewige lewe gee.
Jy sal nooit seker wees van jou redding nie, tensy jy glo dat jy net op dié manier, dus uit genade alleen, gered word.
Die rede waarom talle mense onseker is of hulle kinders van God is, is dat hulle weier om te aanvaar dat ons op net één manier gered kan word:
- werklik verniet,
- uit louter genade,
- sonder enige verdienste van ons kant,
- uitsluitlik ter wille van Christus wat in ons plek gesterf het.
Mense hoor die boodskap weer en weer: in die kerk en in die Bybel, of waar ook al, maar dit is of dit nie regtig tot hulle deurdring nie, want in hulle hart koester hulle tog maar die idee dat ’n mens darem self ook op die een of ander manier moet verdien om gered te word.
Daar is by alle mense die basiese gedagte dat jy jouself moet red deur ’n goeie lewe te lei, deur Gods wet na te kom, deur baie godsdienstig te wees.
Dit is ’n gedagte wat uit die heidense godsdienste kom, maar baie lidmate van die kerk dink nog steeds so.
Miskien sê hulle nou nie juis dat ’n mens jouself deur jou eie goeie werke moet red nie, want hulle wil darem nie ontken dat ’n mens genade nodig het om gered te word nie. Tog sien hulle ook nie kans om Paulus se duidelike boodskap te aanvaar dat God die goddelose om Christus ontwil vryspreek nie:
“. . . die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.” Romeine 4:5
Is jy ook een van die talle mense wat meen dat God net goeie mense sal vryspreek; dat God net genade sal bewys aan mense wat sy genade tog ’n bietjie werd is? Dan glo jy eintlik dat daar darem in die mens self ’n grond, ’n rede, moet wees waarom God juis aan hom of haar genade moet bewys. Eintlik dink jy dan dat God godsdienstige mense genadig sal wees.
Dit is egter ’n fatale misverstand.
’n Mens wat God se genade só verstaan, begryp nog nie die evangelie van God se vrye genade nie. So iemand probeer altyd maar weer om deur sy of haar godsdienstigheid die genade van God waardig te wees.
Maar op hierdie manier is ’n mens nooit volkome seker dat jy gered is nie.
So kán ons nooit seker wees nie, omdat ons maar te goed sien dat ons ons “goeie” lewe nie kan volhou nie. Alles aan ons, ál ons werke, ook ons heel beste godsdienstige insette, is immers besmet met sonde.
Natuurlik probeer ons agter godsdienstigheid skuil. Ons wil ons nie heeltemal aan God en sy genade oorgee nie; ons probeer ons eerder teenoor Hom handhaaf: ons wil graag bewys dat daar darem êrens iets goeds in ons is.
Maar wanneer die Heilige Gees ons enigsins daarvan bewus maak hoe afgrondelik diep ons verlorenheid in sonde in werklikheid is, begin ons besef dat niks in ons of van ons, selfs nie eens ons godsdienstigheid, die grond vir ons sekerheid van verlossing kan wees nie.
’n Mens – jy ook – kan alleen tot sekerheid kom, as jy rus in God se beloftes:
- dat Christus reeds alles vir jou gedoen het,
- dat jy daar niks kan byvoeg nie,
- dat jy slegs deur genade gered word en
- dat Hy reeds in Christus sy genade as ’n vrye gawe aan ons gegee het.
Die Nuwe Testament sê dit baie duidelik: God het dit aan ons gegee (verniet!). Christus het in jou plek die straf en oordeel oor jou sonde gedra. Daarom sien God ons nie meer aan soos wat ons in onsself is nie, maar Hy sien ons aan deur Jesus. Hy reken ons die reinheid en die heiligheid van Jesus toe. Hy bedek ons met die bloed van Jesus. Hy neem ons in Jesus as sy kinders aan.
Dit is die evangelie van genade.
Jy kan alleen sekerheid hê, as jy nie meer op iets in jouself vertrou nie, maar op iets búite jouself: Hierdie evangelie van genade.
- Daarom beveel die Bybel ons deurgaans om te glo dat God se beloftes waar is, ook vir jou en my persoonlik.
Dit beteken dat ook jý moet glo dat alles wat die evangelie oor die verlossing uit genade sê, ook op jou persoonlik van toepassing is. Geloof beteken dat jy die Here op sy woord neem en sy beloftes aanvaar omdat hulle aan jou persoonlik gerig is.
Jy mag jou volledig daarop verlaat, so volkome asof elke belofte van die evangelie in ’n brief staan wat die Heilige Gees aan jou persoonlik gerig het.
Maar mág ’n mens clan sommer maar aanvaar dat die beloftes van die evangelie ook vir jóú bedoel is? Baie mense se probleem is juis dat hulle nie die vrymoedigheid het om dit aan te neem nie. Moet daar nie eers iets met jou gebeur, moet jy nie eers ’n besondere ervaring hê, voordat jy kan weet dat dit vir jou persoonlik bedoel is nie?
Luister nou mooi:
Daar hét iets besonders met jou gebeur.
Die Woord van God het na jou gekom! Die feit dat die evangelie aan jou verkondig word, dat jy dit self in die Bybel kan lees, dat jy dit kan hoor – dit is die grootste en mees besondere ervaring van jou lewe! God het sy Woord en sy beloftes na jou gestuur, omdat Hy dit ook vir jou persoonlik bedoel.
Daar is geen beperkinge op die beloftes van God nie. Élkeen wat dit hoor of lees, moet weet dat dit vir hom of haar persoonlik bedoel is.
Toe jy gedoop is, is jou naam genoem en is aan jou persoonlik bevestig dat die bloed van Christus ook vir jóú gestort is. Net so word in die nagmaal aan jou die persoonlike versekering gegee:
“Dit is my liggaam wat vir jou verbreek is, dit is my bloed wat vir jou uitgestort is.”
As jy dit betwyfel of God se beloftes ook aan jóú persoonlik gerig en vir jou persoonlik bedoel is, beteken dit niks anders nie as dat jy in ongeloof die versoening wat Christus vir jou bewerk het, verwerp.
Die Bybel sê dat Christus die sonde van die wêreld versoen het. Behoort jy dan nie tot die wêreld nie?
Die evangelie sê dat God sondaars red.
Is jy dan nie ’n sondaar nie?
Jy sê jy is?
Dan is die verlossing ook vir jou!
Jou sonde hoef nie tussen jou en die sekerheid van die verlossing te staan nie, want Christus het volkome versoening gedoen vir ons sonde. Wat tussen jou en sekerheid oor jou verlossing staan, is jou onwil om God se versekering te glo dat Christus ook vir jóú sonde gesterf het.
- Een van die redes waarom baie mense ondanks al die beloftes in Gods Woord nogtans nie tot sekerheid kan kom nie, is dat hulle geloof verkeerd verstaan. Hulle verkeer onder die wanindruk dat geloof die bydrae is wat die mens van sy kant moet lewer om gered te kan word.
Die misverstand hang daarmee saam dat hulle die aard van God se beloftes verkeerd verstaan.
As hulle Johannes 3:16 lees – waarin gesê word dat God sy Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê – dan interpreteer hulle dit asof dit beteken: God het deur die dood van Jesus vir alle mense die verlossing moontlik gemaak, maar nou hang dit van elke mens af of hy/sy daardie verlossing in die geloof wil aanneem, want dit is sy/haar deeltjie wat hy/sy moet bydra om gered te word.
So bedoel die Bybel dit egter nie.
Volgens die Bybel is die geloof inderdaad die weg en die middel waardeur ons die versoening ontvang wat Christus vir ons bewerk het. Maar jy kan nie daarmee ’n bydrae lewer tot jou redding nie, omdat geloof nie ’n goeie werk is wat jy uit jou eie doen nie: dit word aan jou geskenk deur God.
Die weg tot redding en sekerheid is die geloof alleen.
Die woordjie “alleen” se twee dinge.
Ten eerstens sê dit dat jy werklik niks tot jou eie redding hoef by te dra nie, maar sleg hoef te glo dat God dit reeds in Christus aan jou geskenk het. In die sin beteken “deur die geloof alleen” dieselfde as: deur die genade alleen.
Ten tweede sê dit ook dat daar geen ander weg vir jou is om gered te word nie, as om God se beloftes vir jouself toe te eien.
Hiermee word nie bedoel dat die geloof ons menslike deel is wat ons moet bydra om gered te word nie.
Geloof is om eenvoudig te aanvaar dat God se beloftes waar is: dat Christus ons werklik gered het. Dit is eenvoudig om te vertrou op wat God belowe. Ons word slegs deur die geloof gered, omdat geloof beteken om op die genade van God alleen te vertrou.
Geloof is:
- om af te sien van alles wat ons self kan doen;
- om te rus op wat Christus vir ons gedoen het.
Om van jouself af te sien en net op die genade van God te vertrou, dit is bekering. Dit sal jou hele lewe verander.
Alleen wanneer ’n mens jou tot God bekeer, kom daar ruimte in jou vir die openbaring van sy vernuwende genade, sy bevrydende krag.
Alleen as ons glo in God se liefde vir ons, breek ons hart en kom ons tot berou oor ons sonde. As ons vertrou op die beloftes van God, word ons vry en vol vreugde omdat ons sonde vergewe is en kom daar plek in ons vir die heiligmaking wat die Heilige Gees in ons wil bewerk.
In ons geestelike lewe ontvang ons alles net deur die geloof. Maar dit beteken nog nie dat die geloof ’n prestasie van ons kant is, of die deel is wat ons tot ons verlossing bydra nie.
Eintlik is geloof as sodanig niks.
Dit is slegs die leë ruimte wat deur God se genade in ons kom vir die openbaring van sy verlossende krag. Geloof is die bereidheid om te ontvang wat God gee.
As ons geloof as ’n menslike werk misverstaan, maak ons dit tot iets waarop ons ons sekerheid wil grond. Dan baseer ons ons sekerheid op die feit dat ons glo, of dat ons Jesus aangeneem het. Om seker te wees of ons kinders van God is, moet ons dan eers seker maak of ons regtig glo en of ons dit regtig bedoel het toe ons Hom aangeneem het.
Ons ondersoek dus onsself om vas te stel of ons gered is, in plaas daarvan om vir ons sekerheid op Jesus te vertrou.
Op hierdie manier sal ons egter nooit werklik seker wees of ons kinders van God is nie. Die rede is dat ons op dié manier ons sekerheid op ons eie geloof baseer – en dit is tog altyd onseker, omdat ons geloof altyd met ongeloof en twyfel vermeng is. Ons durf ook nie ons sekerheid baseer op ons gevoel, of op ons aanneem van Jesus, of op die vrugte van die geloof, soos ons berou en bekering nie.
Die gevaar is dat jy dan meer op jou eie geloof en bekering vertrou as op die beloftes van God. Jy kyk na binne vir jou sekerheid, in plaas daarvan dat jy buite jouself kyk, na Jesus.
Op hierdie manier kan ’n mens heeltemal van jou sekerheid beroof word. Juis die ernstige kind van God, in wie die Heilige Gees ’n diep besef van sy eie onwaardigheid opwek, kan maklik verlei word tot moedelose onsekerheid as hy/sy na binne bly kyk. Veral kan ons gekwel word deur die vraag of ons regtig glo.
Die duiwel vertel ons graag dat ’n mens net gered kan word as jou geloof sterk genoeg is. Maar sy doel daarmee is net om ons aandag te vestig op die feit dat ons geloof maar baie wankelend is. Só kan hy ons tot wanhoop dryf. So weet ons regtig nie eens of ons glo nie. Soos Petrus wat op die see wou loop na Jesus toe (Matteus 14:29–31), kyk ons weg van Jesus na die golwe om ons, en in ons vrees begin ons sink.
Die enigste raad is om dan weg te kyk van jouself na Jesus wat jou vashou.
Gaan lees gerus weer Gesang 192:2–3 wat ons herinner hoe absoluut waardeloos ons ywer, trane en gebede is om ons redding te bewerkstellig. Maar dan gaan die gesang voort:
“Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.”
As enigiets in ons – selfs ons geloof of bekering of die erns van ons oorgawe – die grond van ons sekerheid of ook maar net ’n deel daarvan moet wees, sal ons altyd bly twyfel.
Net Jesus is jou sekerheid. Kyk dus weg van jouself na Jesus. Juis die feit dat jy dit doen, is jou geloof.
DIE VRAAG …
is nie hoe sterk of hoe swak jou geloof is nie, want dit is nie jou geloof wat jou red nie, maar die Een in wie jy glo. Vertrou Christus. Vertrou Hom dat sy genade ook vir jou ongeloof genoeg is.
Die feit dat jy op sy genade vertrou – dit is jou geloof.
- Hoe meer jy jou aan Christus vasklem, hoe meer sal die sekerheid in jou groei.
Die Bybel is voI van die jubeling van God se kinders oor:
- die vastheid van Gods trou, en
- die onwankelbaarheid van sy genade.
Lees gerus Romeine 8:31–39 op die bladsy hier langsaan en kyk met hoeveel vreugde Paulus in die liefde van Christus roem, waarvan niemand ons kan skei nie. In Efesiërs 1:3–7 jubel hy met net soveel oorgawe oor die wonderlike genade van God wat ons in Christus uitverkies en tot sy kinders gemaak het.
Hoe kon Paulus so seker wees? Nie omdat hy so seker was van homself en sy eie geloof nie, maar omdat hy hom aan Christus vasgeklem het. Paulus het geglo dat Christus en Hy alleen die grond vir ons verlossing en vir ons sekerheid is. 2 Korintiërs 1:19 sê immers Christus is die “ja” van God, die ja op al die beloftes van God. God het ons op die waste grond Christus gevestig en daarop kan ons alleen maar tot eer van God amen sê (2 Kor. 1:20–21). Daarom kan Paulus ook in sy brief aan Timoteus getuig:
“. . . Ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.” 2 Timoteus 1:12
Hoe meer jy jou aan Christus vasklem, hoe sekerder word jy dat jou verlossing veranker is in die liefde en genade van God. En dit is baie omvattender as wat jy jou ooit kan voorstel.
God se liefde en genade gaan aan jou kennis en geloof vooraf. Dit is nie jý wat God eerste liefgehad het nie; dit is Hy wat jóú eerste liefgehad het (1 Johannes 4:10). Ook jy kan, soos Gesang 10:2 dit so raak stel, sê:
“Voordat ek kon kies, kon vra,
het u Seun my vloek gedra.
Ek kon vind: U’t my gekry
voor ek nog my skuld bely.”
Sy genade is nie die antwoord op jou keuse vir Hom nie, maar die oorsaak daarvan. Hierdie sekerheid bring ’n diepe rus en vrede in ons, en dit neem toe namate ons inniger gemeenskap met Christus beoefen. Dus:
- Wanneer ons daagliks ons lewe in die lig van God se Woord beoordeel, en
- die Heilige Gees ons van sonde oortuig;
- wanneer ons met ons sonde na Christus vlug, en ons ons daaroor verootmoedig, dit bely en aflê;
- wanneer ons die Heilige Gees vra om ons met Homself en met liefde vir God en ons naaste te vervul …
… dan ervaar ons die vreugde van gemeenskap met Christus. In hierdie gemeenskap word ons steeds vaster oortuig van God se liefde, en so groei ons sekerheid dat niks ons van sy liefde kan skei nie.
Dan merk ons inderdaad in onsself ook tekens op van wederliefde tot Christus en van liefde tot ons naaste, en dit dien as bevestiging van wat ons reeds glo: dat ons kinders van God is!
Dit is wat Johannes bedoel het toe hy gesê het dat ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, om-dat ons ons broers liefhet (1 Johannes 3:14). In die wandel met Christus vind die evangelie van God se liefde ’n bepaalde neerslag in ons eie ervaring, en dit versterk ons sekerheid.
Natuurlik is ons nou nog nie wat ons eendag sal wees nie, maar ons is gelukkig deur Gods genade ook nie meer wat ons was nie! (Titus 3:3).
In die vreugde wat ons nou al aan God en ons medemens het, smaak ons die getuienis van die Gees wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Romeine 8:16).
En die vreugde is ’n voorsmaak van die ewige, heerlike gemeenskap met God waarvan ons seker is dat dit eendag by Hom vir ons wag.