Glo dat dit waar is

GLO DAT DIT WAAR IS
Die Burger, 24 April 1993

Die geheim van die Christelike lewe is dat ’n mens moet leer om te glo dat die evangelie waar is – spesifiek ook vir jou waar is – en dat jy dan uit daardie waarheid moet gaan lewe.

Die evangelie is dat Jesus plaasvervangend vir die mensheid gebore is, geleef, gely, gesterf en opgestaan het. Wie in Hom glo, mag weet: Ek was en is in Christus ingesluit. My lewe is deur Hom oorgeleef. Toe Hy gesterf het, het ek saam met Hom gesterwe; toe Hy opgewek is, is ek in Hom opgewek (Romeine 6:6; Galasiërs 2:20).

Die bedoeling van die evangelie is om aan ’n mens te sê: Jou verlossing het destyds en toe in die kruis en opstanding van Christus plaasgevind. Dit lê heeltemal vas in Hom. Die oordeel oor jou sonde is klaar voltrek. Jy is reeds uit die sondedood opgewek. Dit is nie afhanklik van iets wat jy moet doen nie; dit is klaar gedoen. Jy kan dit maar net in diepe dankbaarheid ontvang deur dit te glo en daaruit te lewe.

Dit is die ware bekering, dat ’n mens die boodskap van die evangelie ernstig opneem en dit glo. Daarvoor is ’n wonder van die Heilige Gees nodig. Die Heilige Gees moet ’n mens oortuig dat die verlossing net in Jesus lê en dat jy jou dus net op Jesus moet verlaat – op sy kruis en sy opstanding, op sy triomf en sy gebed vir jou by die Vader (Romeine 8:31–34).

’n Mens verstaan die evangelie verkeerd as jy dink dat jy gered word omdat jy jouself bekeer. Die verlossing is nie die resultaat van ’n mens se bekering nie. Bekering is inteendeel die resultaat van die verlossing wat Christus bewerk het. Wat Christus destyds gedoen het, word deur die Heilige Gees langs die weg van geloof en bekering in die gelowiges se lewe waar gemaak. Wat reeds in Christus waar is, word dan ook in hulle ervaring waar.

Natuurlik bly dit op aarde gebrekkig. Wie na sy of haar ervaring van die sterwe en opstaan met Christus kyk, sal nie die moed hê om te glo dat dit werklik reeds van hom of haar waar is nie, omdat ’n mens nog so min daarvan in jouself kan sien. Maar dit is verkeerd om die waarheid van die Bybel afhanklik te maak van jou ervaring.

Die bedoeling is juis dat ’n mens moet glo dat wat die Bybel sê, ook van jou waar is, omdat die Bybel dit sê. Óók van jou – ja juis van jou is dit waar dat jy klaar met Christus gesterf en opgestaan het, al merk jy dit nog nie in jouself nie.

Dis ’n soort gelóófswerklikheid. Dit wil toegeëien word en ’n mens moet daaruit gaan lewe soos een wat die onsienlike sien (Hebreërs 11:27). Langs die weg van die geloof word dit dan steeds meer ’n praktiese werklikheid in jou lewe.

’n Mens moet dus anders na jouself leer kyk. Jy moet besef dat die diepste werklikheid van jou lewe nie ervaringsmatig vasgestel kan word nie, maar geglo moet word. Nie wat jy in jouself is nie, maar wat jy in Christus is, is jou diepste werklikheid. As ’n mens dit glo, word alles anders. – WDJ