REGERING VAN CHRISTUS
Die Burger, 20 Mei 1993
Op Hemelvaartsdag vier die Christelike kerk die heilsfeit van die heerskappy van die verrese Christus oor alle dinge. Die Heidelbergse Kategismus verwoord dit so: “Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Homself daar as die Hoof van die Christelike kerk kan betoon deur wie die Vader alle dinge regeer”.
Vir die kerk is dit ’n groot vertroosting. Dat Christus wat die verlosser en hoof van sy kerk is, ook dié Een is in wie se hande die regering oor die wêreld en die gang van die geskiedenis gegee is, is ’n boodskap waaraan gelowiges hulself in moeilike tye met blydskap vasklem.
Dit is egter nie altyd maklik nie. Die gebeurtenisse in die wêreld is dikwels so grillig, so pynlik en teleurstellend, dat die geloof in die heerskappy van Christus ernstig beproef word. Dit geld nie net in die persoonlike lewe nie, maar ook op die terrein van die kerklike, die openbare en politieke lewe. Die gang van sake in die wêreld skyn die heerskappy van Christus voortdurend te weerspreek.
Dit lyk soms of dit makliker sou wees om te glo dat nie Christus nie, maar die duiwel in beheer van die aardse werklikheid is. Daar is soveel teenkragte in die wêreld werksaam, soveel frustrerende verset teen die goeie, soveel mislukking van wat goed bedoel word, dat ook goeie mense soms sinies word.
Dit is daarom nie vreemd dat daar tans ’n sterk teenbeweging in die gesindhede van mense in die land ontwikkel nie. Daar was momente van egte blydskap oor die omkeer wat in die maatskaplike en politieke lewe in die vooruitsig gestel is. Talle mense het gevoel dat ’n weg geopen word om weer met ’n goeie gewete te lewe en in welwillendheid saam te soek na ’n nuwe samelewings patroon.
Maar alle optimisme skyn stelselmatig uitgeblus te word. Dit is of daar soveel bose kragte in die samelewing werksaam is, dat elke straaltjie van hoop direk weer uitgedoof word deur negatiewe houdings, sinlose geweld, roekelose terreur en onberekenbare misdaad. Dit is nie net dat alle optimisme daardeur gedemp word nie, maar in die plek daarvan kom ook by Christene ’n groeiende wanhoop.
In hierdie omstandighede gaan Christene vandag na die kerk om Hemelvaartsfees te vier, en ’n deel van die kerk sal in die volgende dae in Pinksterdienste saamkom om te bid. Sal dit slegs in somberheid kan geskied? Of sal die boodskap van die heerskappy van Christus deur sy Woord en Gees ook in hierdie situasie weer vaste grond onder die voete en ’n baken in die see van wanhoop kan word?
Dit is belangrik om te onthou dat die belydenis van die heerskappy van Christus ’n geloofsuitspraak is. Dit staan dus teenoor die dinge wat ’n mens kan sien. Die Brief aan die Hebreërs omskryf selfs die geloof as die sekerheid van dié dinge wat ’n mens hoop, die oortuig wees van dinge wat ’n mens nie sien nie (Hebreërs 11:1).
Al die geloofshelde was mense wat teen die sigbare dinge in vasgehou het aan die beloftes van God. Dit geld van Abraham, van Moses en al die heiliges van die ou verbond dat hulle net met die beloftes van God in die hart teen alles in “volhard het soos iemand wat die onsienlike God sien” (Hebreërs 11:27). Dit geld van Jesus self wat in Getsemane en in die donkerte aan die kruis net in die geloof aan die belofte van die Vader kon vashou. So moet ook aan die heerskappy van Christus in die geloof vasgehou word, al word dit nie gesien nie. Christus is die Here. Hy is in beheer en sal triomfeer.
Al is die land tans in die greep van soveel negatiewe magte, mag gelowiges nie toegee aan wanhoop en die negatiwiteit wat so maklik in ’n mens opstaan as die goeie wat jy probeer doen, net onbegrip en afwysing ontmoet nie. Dit kom dikwels in persoonlike verhoudinge voor. Dit gebeur tans ook in ons groepsverhoudinge. Dit is egter gebiedend noodsaaklik dat Christene nie aan wreweligheid moet toegee nie, maar daarop moet vertrou dat Christus magtiger as die bose geeste is wat sinlose kwaad en vernietiging aanblaas.
Uit persoonlike ervaring weet Christene dat teenspoed en frustrasie dikwels vir hulle die weg na die binnekamer gewys het, na ernstiger selfondersoek en ’n vuriger verlange dat God sy mag moet openbaar. Dikwels is mense onbewus van die hindernisse vir die vrede wat ook nog by hulle self aanwesig is. Wanneer hulle self verander, is dit soveel makliker vir die hele situasie om te verander.
Christus wat aan die regterhand van die Vader sit, verander situasies ten goede deurdat Hy deur die werking van die Heilige Gees mense se gesindhede en dade verander. Hy regeer deur die vredeskeppende optrede van gelowiges wat met lydsaamheid en geduld op Hom wag – tot sy wil duidelik word. Hierdie land het ’n lang geskiedenis van negatiwiteit. Dit sal nie oornag verdwyn nie. Slegs God kan die land weer genees en uit die kwaad van hierdie uur, die goeie vir die toekoms gebore laat word.
Die slegste ding wat Christene tans kan doen, is om te wanhoop en negatiewe gevoelens te stimuleer. Dit is nou die tyd om die positiewe stryd van die geloof te stry. Daartoe roep Hemelvaartsfees en Pinkster alle gelowiges op. – WDJ