BURGERLIKE GODSDIENS
Die Burger, 12 Junie 1993
Dikwels word die naam van God gebruik, nie om die ware God in ooreenstemming met sy Woord te eer nie, maar om die eie saak te bevorder. Dit het deur die eeue veral in verband met die politiek gebeur. Volke en state beroep hulself graag op God om hulle politieke stryd te sanksioneer.
Dit vind aansluiting by die heidense neiging van alle volke om hulself te verheerlik en selfs religieus te vereer. In die volksgodsdiens, burgerlike godsdiens of civil religion word die saak van die volk as ’n heilige saak voorgestel waarvoor ’n mens ter wille van God jou lewe veil moet hê.
Met die Christelike geloof as sodanig het dit niks te make nie, selfs al probeer Christene dikwels om dit daarmee te versoen. Hulle begin by die geloof in God as die Skepper wat deur sy voorsienigheid oor alle dinge regeer – ook oor volke en nasies. Maar in plaas daarvan om in die lig van die Bybel daaroor te praat, word eenvoudig aanvaar dat God ’n spesiale verhouding met hulle volk het. Die geskiedenis van die volk word so geïnterpreteer, dat daaruit afgelei word dat hulle volk spesiale volk van God is, ongeag hoeveel volksgenote God werklik ken en dien.
Dit is deurgaans duidelik dat dit nie die saak van God is nie, maar die saak van die volk die hoofaksent in hulle religieuse taal en emosies ontvang. Die God waarvan hulle beweer dat Hy ’n besondere roeping en bestemming aan hulle volk sou gegee het, is nie die God van die Bybel nie, maar ’n volksgod wat die politieke aspirasies van die volk sanksioneer.
Dit gaan ook nie regtig oor die koninkryk van God en die verlossing van sonde deur die bloed en die Gees van Christus nie, maar oor die politieke heil. God is dan die Skepper van nasies. Hy is die Voorsienigheid. Hy verlos uit die Egipte van politieke nood. En die eie volk word met Israel as uitverkore volk geïdentifiseer.
Die hele Westerse geskiedenis is vol voorbeelde daarvan. Oorloë en kolonisasie het op hierdie wyse in die naam van God plaasgevind. Engelse soldate het oral in die wêreld in belang van die Britse imperium for God and country gesterf. Die skrikwekkendste voorbeeld van religieuse nasionalisme was uiteraard Nazi-Duitsland. Maar in beginsel kan dié soort verskynsel oral voorkom.
Ook Suid-Afrika is nie daarvan vry nie. Ook hier was en is daar ’n sterk element van volks-godsdienstigheid wat oor God nie in die lig van Christus praat nie, maar in die lig van die volk se geskiedenis, roeping en bestemming. Selfs al word daar dan van “ons Christene” gepraat, is dit ’n vraag watter rol Christus in hierdie aanduiding speel.
’n Mens moet altyd krities onderskei wat mense bedoel as hulle godsdienstig praat. Alle vorme van burgerlike godsdiens staan haaks op die evangelie.
En as die tekens nie bedrieg nie, sal die toekoms ’n nuwe soort volksgodsdiens oplewer wat nie beter sal wees as die oue nie. – WDJ