Watter verskil maak Christus?

WATTER VERSKIL MAAK CHRISTUS?
Die Burger, 21 Augustus 1993

Daar word dikwels verwys na die groot persentasie van die bevolking van hierdie land wat hulself as Christene beskou. Dit is ongetwyfeld ’n hoopgewende faktor. Tog is dit nie altyd duidelik watter verskil mense se verklaarde Christenskap aan hul politieke houding maak nie.

’n Mens sou verwag dat Christene mense sou wees wie se grootste oorweging nie hul eie belange sou wees nie, maar geregtigheid en billikheid teenoor almal. Ook sou ’n mens dink dat Christene hulself in die skoene van ander mense sou stel en aan andere sou wil doen soos hulle graag wil hê dat aan hulle self gedoen moet word (Matteus 7:12).

Daarby sou ’n mens by Christene ’n bereidheid veronderstel om na andere se kant van die saak te luister en om liewer self onreg te ly as om aan ander onreg te doen; om liewer ’n kruisweg te gaan as om met geweld hulself te handhaaf volgens die reël dat die wil van die sterkste, wet is.

Tog merk ’n mens soms die eienaardige verskynsel dat juis mense wat graag na hulself as Christene verwys, nie so veel van hierdie uitgesproke Christelike kenmerke vertoon nie. Inteendeel: daar is sommige van hulle wat selfs sê dat hulle om geloofsredes gekant is teen veranderinge wat bedoel is om meer geregtigheid te laat geskied aan diegene wat tot nou toe verontreg is.

Kan dit wees dat sulke mense die hele betekenis van hul Christenskap verkeerd verstaan? Lê dit vir hulle moontlik op dieselfde vlak as hul verbintenis aan volk en vaderland, hul kulturele erfenis en tradisie? Die wyse waarop hulle soms in hul nogal militante taalgebruik hul Christen-wees met hierdie soort groothede verbind, kan ’n mens laat vermoed dat dit dalk die geval is.

Maar dan is dit tog ’n groot misverstand. Christen-wees lê tog op ’n totaal ander vlak as alle aardse dinge wat ’n mens met geboorte meekry. As Christen-wees eg is, is dit die vrug van weergeboorte, van bekering, van innerlike vernuwing, van die ingelyf-word in die sterwe en opstanding van Christus.

Maar kan ’n mens in wie se lewe hierdie geestelike vernuwing eg is, nog so militant nasionalisties, so ongebroke vol haat teenoor andere, so onbeskaamd strydlustig wees oor dinge wat die aarde en die tydelike lewe raak? Paulus het ook voor sy bekering “soos ’n besetene” opgetree (Handelinge 9:1) in sy stryd vir ’n saak wat hy in sy vleeslike ywer as reg beskou het.

Maar God het hom in sy genade aangeraai en hom geleer dat alles wat eers vir hom van soveel waarde was, aan Christus oorgegewe moet word (Filippense 3:7).

Egte Christelike optrede op elke terrein van die lewe is alleen moontlik van agter die kruis af.

’n Mens kan die Christendom ’n onmeetlike skade aandoen deur dit as ’n saak te beskou wat jy op ’n vleeslike manier moet verdedig. Egte Christenskap moet óók in die politiek en ekonomie daaruit blyk dat in die gesindheid van Christus opgetree word. – WDJ