Deur die geloof alleen

DEUR DIE GELOOF ALLEEN
Die Burger, 30 Oktober 1993

Op 31 Oktober 1517 – more presies 476 jaar gelede – het Martin Luther sy beroemde 95 Latynse stellings oor die aflaat aan die deur van die slotkerk te Wittenberg vasgespyker. Die bedoeling daarvan was om deskundiges uit te nooi om in die openbaar met hom daaroor ’n wetenskaplike gesprek te voer. In ’n tyd toe daar nog geen tydskrifte en ander kanale vir die voer van sulke gesprekke bestaan het nie, was dit die aangewese weg.

So ’n strydgesprek is egter nooit gevoer nie. Anders as wat Luther verwag het, is die stellings stilletjies in Duits vertaal en aan die pers gegee. Die inhoud daarvan het soos ’n veldbrand versprei. Die meeste Duitsers was moeg van die manier waarop hulle moes bydra vir die uitgawes van die pous van Rome, onder meer ook deur die aflate wat aan hulle verkoop is. Dit was vir hulle opwindend dat iemand tog eindelik sy stem daarteen verhef het. Die teologiese inhoud en betekenis daarvan het baie van hulle nie gesnap nie.

Maar daar was genoeg wat dit wel gesnap en met die loop van die tyd steeds duideliker begryp het. Dit het daaroor gegaan dat die Bybelse evangelie van die vrye genade van God in die kerklike praktyk en prediking verduister is deur dit as ’n religie van werkgeregtigheid te verstaan.

Ongetwyfeld was daar in die kerk baie godsdienstigheid. Die kerk het doelbewus godsdienstigheid by sy lidmate gekweek en aangemoedig. Maar godsdienstigheid kan geen mens red nie. Dit is die groot misverstand van die heidendom, dat ’n mens jouself deur jou godsdienstigheid moet red.

Baie gebede en vastye, offers en pyniginge is die kenmerke van ’n wettiese religiositeit wat daarvan uitgaan dat God gunstig gestem moet word deur die erns en toewyding waarmee Hy gedien word.

Die verset van Luther het wel op die punt van die misbruike rondom die aflaatstelsel na vore gekom, maar dit het in werklikheid die hele kerklike lewe van die tyd in ’n krisis gebring. Dit was ’n roep aan almal wat wou hoor, om terug te draai na die eenvoud van die evangelie van Gods liefde.

Dit was ’n protes wat ingrypende konsekwensies vir die kerk gehad het, maar wat ook elke individu uitgedaag het om van die pad van selfverlossing weg te draai en met ’n gebroke hart op die genade van God in Christus te vertrou.

Teenoor die weg van verlossing deur religiositeit stel Luther daarom die boodskap van Paulus dat ’n mens deur die geloof alleen gered word: die geloof wat niks anders is nie as die aanvaarding van die eie skuld en reddeloosheid, maar terselfdertyd die vertroue op Jesus Christus wat vir sondaars geword het tot hulle vryspraak, heiliging en verlossing (1 Korintiërs 1:30).

Nie menslike godsdienstigheid nie, maar slegs geloof in Christus is die weg van verlossing.

Dit moet telkens weer ontdek word wanneer nuwe gestaltes van religieuse selfverlossing dreig om die evangelie van genade te oorwoeker. – WDJ