Die “Jaar van Onse Heer” 1994

DIE “JAAR VAN ONSE HEER” 1994
Die Burger, 31 Desember 1993

Op Oujaarsdag is ’n mens geneig om nostalgies aan die verganklikheid van die lewe te dink – aan die wyse waarop die tyd verbyvlieg en die goeie ou dae vir altyd iets van die verlede is. Sulke tye is nodig en dit is goed dat daar in die ritme van die lewe, momente van stilstand en inkeer is wat daaraan herinner dat niemand hier ’n blywende stad het nie.

Tog is dit ook goed dat sulke tye nie te lank duur nie, want die klok tik deur en ’n nuwe jaar wag reeds dat die nuwe uitdagings en verpligtinge wat voorlê, opgeneem moet word. Daardie uitdagings mag van persoon tot persoon verskil, maar niemand sal daaraan twyfel nie dat daar in die nuwe jaar op Suid-Afrika as land en sy mense ’n toets wag wat groot integriteit, vindingrykheid en uithouvermoë gaan vra van almal wat betrokke is.

Ongetwyfeld is daar in dié land miljoene mense wat die nuwe jaar met groot en dikwels onrealistiese verwagtings tegemoetgaan. Maar vir baie ander sal dit anders wees. Die groot omwentelinge wat die land beleef, bring onsekerheid oor die toekoms, vrees vir chaotiese magte wat in die samelewing kan losbreek, en twyfel oor die moontlikhede van die mense van goeie wil om die skip van die nuwe Suid-Afrika veilig tussen die rotse deur te stuur.

Dit is begryplik. Niemand moet ook ligtelik daaroor oordeel of dink dat dit sommer vanself weer sal verdwyn nie. Te min mense is psigies voorberei vir die skok van die groot veranderinge wat die land beleef. By talle is daar ’n smeulende depressiwiteit en aggressie aanwesig, en dit is daarom van die grootste belang dat diegene wat invloed het, dit moet gebruik om die oorgang makliker te maak deur vertroue te help voed en ’n situasie van rus in die land te bevorder.

Anno Domini
’n Mens mag egter van Christene verwag dat hulle vanuit hulle geloof die innerlike vertroue op God sal hê wat dit vir hulle moontlik sal maak om ook hierdie onsekere jaar met ’n positiewe gesindheid tegemoet te gaan. Hulle ken immers ’n groter bron van vastheid as menslike pogings om die sprong na die onbekende toekoms so maklik as moontlik te maak. Dit is die troos wat met die geloof gegee is dat ook 1994, met alles wat dit mag inhou, ’n “jaar van onse Heer” sal wees waarin Hy uiteindelik die septer sal swaai, en nie die bose magte wat alles probeer vernietig nie.

Dit is een van die sinvolle tradisies in die Westerse beskawing dat die jaartelling vanaf die geboorte van Christus bereken word. Dit het gelei tot die gebruik om na die datum van ’n gebeurtenis te verwys as: “in die jaar van onse Heer” soveel-en-soveel. Anno Domini. Hierdie gebruik is gebore uit die oortuiging dat die geboorte van Christus van soveel beslissende betekenis is dat alles wat verder in die geskiedenis gebeur, in verband daarmee gebring moet word.

As ’n mens daaroor nadink, is dit duidelik dat die implikasies van hierdie uitdrukking veel dieper gaan as wat daarmee net ’n bepaalde datum aangedui word. Daarmee word ook gesê dat elke datum na die koms van Christus in die teken van Gods heilryke bemoeienis met die wêreld staan. Christus is immers die Here – die Here van here en die Koning van konings. Sy regering is ’n regering van barmhartigheid en goedheid, omdat God nie die chaos wil nie, maar die lewe en die vrede wat Christus met sy bloed verkry het. En hierdie geestelike heil het ook konsekwensies vir die hele aardse bestaan.

Sin van geskiedenis
Christus is die Here van die hele wêreld, van alle mense en van die hele geskiedenis. Hy is, volgens die artikel van die bekende boek van Hendrikus Berkhof, die sin van die geskiedenis. Dit impliseer dat die geskiedenis nie ’n betekenislose stroom van gebeurtenisse sonder koers of rigting is nie. Die heilsbedoeling van God soos dit in Christus geopenbaar is, sal uiteindelik daarin gerealiseer word.

In die gewone gang van die gebeurtenisse kan dit nie altyd opgemerk word nie. Daar gebeur soveel nare en ongelukkige dinge in die geskiedenis wat ’n mens met verbystering vervul. Die Bybel self sê ook dat kwaad en goddeloosheid in die laaste dae sal toeneem. Dit maak dit moeilik en byna onmoontlik om op grond van wat voor oë is, die sin te ontdek wat Christus aan die geskiedenis gee.

Tog kan gelowiges in die geskiedenis tekens opmerk van die manier waarop Christus in die wêreld werksaam is en die geskiedenis heenlei na die triomf van die lig oor die duisternis, die dag oor die nag, geregtigheid oor ongeregtigheid – selfs al is die gestaltes waarin dit sigbaar word, gebrekkig en meerduidig.

Dit is vergelykbaar met die wyse waarop ’n mens in jou persoonlike lewe die leiding van God ervaar. Dat God vir sy kinders alles ten goede laat meewerk (Romeine 8:28), is nie altyd aan die oppervlak sigbaar nie. Tog is dit ’n werklikheid vir die geloof. Dikwels ontdek Christene eers veel later hoedat dinge wat vir hulle pynlik was, tog ’n vreugdevolle vrug afwerp, ondanks die letsels wat dit gelaat het.

Net so kan Christene ook deur die geloof sê dat Christus die sin van die stuk pynlike geskiedenis is wat hulle beleef. Miskien kan hulle eers veel later die geestelike vrug daarvan duideliker by hulleself en andere ontdek, asook in die opset en ordening van die samelewing. Dat meer mense na God begin vra, dat geestelike groei onder Christene plaasvind, dat daar meer erns met Christelike waardes gemaak word en dat meer vrede en vryheid die vrug daarvan is – dit is vir die geloof tekens van die verborge heerskappy van Christus.

Sal dit ’n mens verbaas as die Christene in Rusland dit so sal beleef, of die Christene in ander dele van die wêreld wat tans in barensnood verkeer? En sal dit vreemd wees as ook Christene in Suid-Afrika later sal sien dat ook 1994, ondanks al die onsekere en vreeswekkende daarin, nogtans ’n “jaar van ons Here” was: anno Domini 1994? – WDJ