Dit kan ’n getuienis word

DIT KAN ’N GETUIENIS WORD
Die Burger, 12 Maart 1994, bladsy 8

Oortuigde Christene moet besef dat hulle feitlik altyd ’n minderheid in die samelewing is en dat hulle daarom bereid moet wees om ’n duidelike getuienis te lewer vir wat die waarheid en die waardes van die Bybel is, selfs al kos dit ’n prys.

Te maklik dink baie dat die Christene in die land in die meerderheid is en dat die Christelike karakter van die samelewing daardeur gewaarborg word. Maar dit is heeltemal nie vanselfsprekend nie. Die gevaar is groot dat die term “Christelik” as vlag ’n lading kan dek wat vreemd aan die ware betekenis van Christenskap is.

Die probleem ontstaan wanneer tot die Christendom nie net diegene gereken word wat by die Christelike gemeente ingeskakel is en daarmee saamleef nie, maar wanneer hele volke, lande en kontinente Christelik genoem word. Daar word ook van die Christelike Weste gepraat.

Dan word die term egter in ’n on-eintlike sin gebruik: ’n Land word Christelik genoem wanneer Christene volgens sensus-syfers daarin ’n meerderheid vorm en die openbare lewe deur sekere Christelike tradisies gestempel word. Met die term Christelike Weste word bedoel dat die geskiedenis en kultuur van Europa en Amerika deur die Christelike godsdiens gestempel is, en dat daar in die meeste lande kerke nog groot kerke met baie lidmate bestaan.

Maar dit sê nog weinig oor die persoonlike geloof van die burgers of selfs lidmate van kerke – waartoe talle om tradisionele redes behoort. Die eeue lange posisie van die Christendom in die Weste en die verbreiding daarvan in die wêreld, is geen betroubare aanduiding van die aantal mense wat Christus as Here en Verlosser ken nie.

Op die oomblik word globaal iets minder as ’n derde van die Wêreldbevolking as Christene beskou. Dit beteken dat Christene binne die wêreldbevolking nog steeds ’n minderheid is. Twee-derdes van alle mense is nie-Christene. Maar die groot vraag is natuurlik hoeveel van diegene wat tot die Christenheid gereken word, werklik persoonlik Christene is.

Die aktiewe en meelewende Christene is in die hele wêreld waarskynlik ’n klein minderheid. Die geskiedenis toon telkens weer dat ongunstige omstandighede, soos byvoorbeeld politieke druk, eenvoudig meebring dat ’n groot persentasie mense wat tot die Christelike kerk gereken is, hulle sonder pyn van die kerke kan losmaak. Een van die jongste voorbeelde hiervan is Oos-Duitsland ná die oorlog.

Suid-Afrika staan op die drempel van ’n nuwe era. Die isolasie waarin die land verkeer het, is oopgebreek. Die winde van alle kante sal nou deur sy toekoms waai. Dit is nie vanselfsprekend dat die groot persentasie mense wat deur die statistieke as Christene opgegee word, die geestelike klimaat in die land gaan stempel of hulself as Christene sal bewys as ideologiese druk op hulle toegepas word nie.

Dit sal nie die sogenaamde Christelike meerderheid nie, maar die minderheid van oortuigde Christene wees wat die wa deur die drif sal moet trek. Baie vanselfsprekendhede van die verlede sal verdwyn en dit sal vir die Christene op ’n getuienis uitloop (Lukas 21:13). Dáárvan sal geweldig veel vir die toekoms afhang.

Maar ’n oortuigde en besielde minderheid kan deur die Gees en die krag van Christus baie meer invloed hê as ’n meerderheid sonder Hom. – WDJ