Hoe is God betrokke by wat ons vandag beleef?

HOE IS GOD BETROKKE BY WAT ONS VANDAG BELEEF?
NG Kerk Stellenbosch, Dinsdag 15 Maart 1994

’n Aktuele vraag

Die feit dat ons hier saam is om oor hierdie saak te praat, is tekenend van die tyd waarin ons leef. Ons situasie is inderdaad een van onsekerheid, spanning en vrees vir die toekoms. Daar sal min van ons wees wat nie dankbaar daaroor sal wees dat ons nou eindelik in ons land ons voet op die weg van hervorming geplaas het, om te probeer regstel wat verkeerd was en wat ons tot ’n voorwerp van kritiek en verwerping in die hele wêreld gemaak het nie. Die ergste was veral ook die kritiek van die wêreldwye Christenheid. Baie van ons het oor die jare heen gebid dat God ons moet help om te ontkom uit die greep van ’n gevaarlike situasie en van onder die drukkende las van ’n slegte gewete oor die onreg in ons land. En ons was bly toe die uur daar was vir ’n kentering en verandering. Maar noudat die proses op gang gekom het, blyk dit veel moeiliker te wees as wat ons gedink het. Dit is of die deksel afgehaal is van die kokende pot wat nou onbeheerbaar begin oorkook. Ons het die inherente haat en woede binne die gemeenskap onderskat, en die grootheid van die onderlinge verdeeldheid. Ons het gehoop dat daar genoeg mense van goeie wil by alle betrokke partye sou wees om ’n pad vorentoe uit te stippel wat vrede en geregtigheid sou bring. Maar ons het nie genoegsaam besef watter bose magte altyd weer in die politiek werksaam is nie. Die magswellus, die materiële grypsug, die innerlike afkeer en vyandigheid van groepe, volke, stamme en individue teenoor mekaar, die botsende ideologieë waarmee mense behep is – dit alles maak die situasie besonder moeilik en vloeibaar. Dit is duidelik dat ons as wit gemeenskap so geïsoleer van die res van die mense in die land geleef het, dat ons nie by benadering besef het hoe daar teen hulle gediskrimineer is, hoe hulle dit ervaar het, watter haat en woede daar by hulle gegroei het, en watter klowe gevolglik oorbrug sal moet word om weer tot ’n ordelike samelewing te kom nie. Noudat dit alles skielik tot ons deurdring, is dit net logies dat kommer en vrees vir die toekoms om ons toeslaan.

En so is dit ook net logies dat Christene in hierdie tyd sal vra hoe God in so ’n tyd by ons betrokke is. Let tog daarop dat die vraag nie lui óf God by ons betrokke is in hierdie tyd nie, want ons glo en weet Hy is by ons betrokke. As ons dit sou prysgee, sou ons ons Christelike geloof prysgee. Dit is ons troos en die versekering wat die Bybel telkens weer aan ons gee: Ja, God is by julle betrokke. Deur die eeue het Christene vasgehou aan die woorde van Christus: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29–31). Die Bybel staan vol beloftes oor die sorg en bewaring van God oor sy kinders. Paulus skryf in Filippense 4:6–7 dat ons niks besorg moet wees nie, maar in alles ons begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend moet maak. Dan sal die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Maar ons vra hoe God in hierdie tyd by ons betrokke is, omdat dit nie vir ons sonder meer sigbaar is nie. Trouens, dit is altyd so, dat Gods betrokkenheid by ons verborge is. Al glo ons dat God by ons betrokke is, is dit nie iets wat ons aanskou nie. Dit is nie altyd sonder meer sigbaar hoe God sy kinders bewaar, deurdat Hy bv altyd alles vir hulle reg laat verloop volgens die aardse maatstawwe nie. Die Bybel toon dat die betrokkenheid van God by sy kinders nie beteken dat hulle nooit kwaad en ellende ervaar nie. Die geskiedenis van die dienaars van God, die profete in die Ou Testament en die apostels in die Nuwe, laat ons sien dat hulle allerlei pynlike dinge ervaar het. God was ten diepste betrokke by sy kneg Job, maar Job het tog deur dieptes gegaan. By wie was God sterker betrokke as by sy eie Seun, Jesus Christus? En tog moes Hy ly en gekruisig word. Daarom moet ons telkens weer nadink oor die vraag hoe Gods betrokkenheid by ons moet verstaan, veral in tye van onsekerheid, lyding en vrees. Ons moet telkens weer verseker word van die dinge wat ons reeds deur die geloof weet. Daarom, soos ’n kind in die donker die hand van die ouer vaster vat, so wil ons ook in hierdie tyd van onsekerheid oor die toekoms die hand van God vaster vat en moediger met Hom deur die aanvegting loop. Want daar rus ’n groot verpligting juis op ons as Christene om ons geloof uit leef en nie soos mense sonder hoop en sonder God in die wêreld oor die situasie te reageer nie.

Gods grootheid en sy liefde; sy mag en sy teerheid

As ons wil praat oor die betrokkenheid van God by ons, moet ons eers vir onsself vra: Hoe is God? Oor wie praat ons eintlik as ons van God praat? En dan is dit duidelik dat ons as mense ’n groot probleem het om ons iets van God voor te stel of in te dink. Die gevaar is altyd daar dat ons te klein oor God sal dink. Baie mense dink oor God as ’n verhewe Wese wat êrens daarbuite in die hemel is. Hulle weet dat ons bely dat God ’n Persoon is, en dan dink hulle aan God in terme van ’n menslike persoon wat altyd iets beperks inhou. Maar dit is duidelik dat die Bybel oor God mensvormig praat, omdat ons geen ander taal het en geen ander begrippe om oor God te kan praat nie, maar dat daardie begrippe in hulleself telkens te kort skiet om aan ons die ware grootheid en heerlikheid van God oor te dra. Hy is soos die mens, bv begrippe soos oneindigheid, onsterflikheid, onbegryplik, onverganklik – of dat ons begrippe gebruik soos alwys, alomteenwoordig, alsiende, almagtig, ewig ens, om na sy andersheid te verwys, sy onvoorstelbaarheid, sy begryplikheid, sy onmeetlikheid.

God oorstyg eenvoudig ons denke en ons denkvermoë, soos Hy ons taal oorstyg. As ons maar iets van die grootheid van die skepping verstaan, is dit verbysterend. Die afstande in die skepping is verbysterend. As ons maar dink daaraan dat lig teen ’n snelheid van 300 000 km per sekonde trek, dan begryp ons iets van die grootheid van die heelal. Dink aan Genesis 47 (Op berge en in dale…) waarin gesê word dat God oral teenwoordig is. Maar die maan is ongeveer 384 000 km van die aarde af en die son 150 miljoen kilometer. Dit duur maar 8 minute vir die lig van die son om by die aarde uit te kom. Maar agter die son is al die planete en die sterre. Ons hele sonnestelsel is egter klein genoeg om die afstande in ligure te meet. Maar die melkwegstelsel bestaan uit tallose sterre waarvan die afstande gemeet moet word in honderde en selfs duisende ligjare, sodat die lig van die verste sterre honderde of selfs duisende jare nodig het om die aarde te bereik. En dan is daar ook diegene wat beweer dat daar nog ander sterrestelsels is behalwe dié waarvan ons weet. As ons maar iets van die grootheid, maar daarnaas iets van die kleinheid en ingewikkeldheid van die lewe op die aarde besef, dan kom ons onder die indruk van Gods geweldige grootheid, van sy intense betrokkenheid by die skepping, by elke mens, by elke ding. Dink maar aan Psalm 8, Psalm 139, Handelinge 17:28. Aan die een kant word ons verbyster deur die grootheid van die skepping en Gods betrokkenheid daarby; aan die ander kant word ons deur die Skrif verseker van sy intense teenwoordigheid by die kleinste dingetjies in die skepping – soos in die woorde van Christus oor die mossies en oor geen haar van ons kop wat op die grond sal val nie (Matteus 10). In Hom leef ons, beweeg ons en is ons. God is geweldig nou betrokke by ons hele bestaan. Hy is alomteenwoordig. Hy dra alles deur sy almagtige krag. Hy onderhou die magtige sterrestelsel, en tog is Hy so naby aan ons, dat Martin Luther gesê het: “God is nader aan ons as ons hemp of ons rok”. U hoef maar u oë oop te maak: God is by u, rondom u, in u, betrokke by u. Soos Psalm 139 sê: Waar sou u kan heengaan om van Hom weg te vlug?

Sy troue sorg en liefde

Die hele Bybel getuig daarvan dat God by sy skepping is, dat Hy dit onderhou en daaroor regeer. In die belydenisse van die kerk word dit op ’n kernagtige wyse saamgevat. Ons dink hier by aan die NGB art 13 en die HK Sondag 10. Uit hierdie twee belydenisse is dit duidelik dat dit vir die kerk op grond van die Bybel eerstens vasstaan dat God alles onderhou deur sy krag, maar dat Hy ook regeer oor alles wat in die wêreld gebeur. Veral hierdie laaste, die regering van God, is vir die geloof baie belangrik, omdat dit volgens die NGB art 13 inhou dat niks in die wêreld sonder Gods beskikking kan gebeur nie, dat nie die toeval of die noodlot nie, maar God met sy vaderlike sorg so oor sy skepsels regeer; dat sonder die wil van ons Vader geen haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matteus 10:29–30). Ja alle dinge, goed en kwaad, kom volgens die HK vr 27 uit sy vaderhand na ons. Aan hierdie troos het die Christelike gemeente deur die eeue vasgehou en sal ook ons moet vashou: die troos dat God daar is, dat Hy die wag hou en dat niks ons uit sy hand sal ruk nie (Psalm 46). Die implikasies van hierdie belydenis is geweldig; dit beteken naamlik dat ons nie uitgelewer is aan die fatum of noodlot nie, en dat ons nie uitgelewer is aan die toeval nie, maar dat daar agter die dinge wat oor ons kom en met ons gebeur, die hand van ’n Vader, van ’n persoonlike, liefdevolle en alwyse God is. Die Christelike troos deur die eeue was dat ons in voor- en teëspoed met die Vader te make het, uit wie se hand ons alle dinge ontvang.

Aanvegtinge

Hierdie belydenis ken egter sy aanvegtinge, en wel deurdat die lewe vir die kind van God nie altyd voorspoedig gaan nie. Die mag en teenwoordigheid van kwaad, van rampe, siekte, nood en dood het deur die eeue die vromes se geloof op die proef gestel. Almal ken die voorbeeld van Job, almal weet van Jesus se roep van godverlatenheid aan die kruis. Die vraag wat deur die eeue altyd weer by die kinders van God opgekom het, is of die albestier en die beskikking van God oor alles beteken dat ook die kwaad deur hom beskik is, of ook die ellende en die verskriklike dinge deur God gewil is – die dinge wat die natuur oor mense kan bring, soos droogte, rampe, ongelukke, siekte en lyding, maar ook die vreeslike dinge wat mense mekaar kan aandoen in hulle verskriklike wreedheid. Het God dit alles presies so beskik, miskien selfs van ewigheid af in sy wyse raad? Die aanvegting vir die geloof is juis gegee met die vraag of God alles wat in ons lewe en in die geskiedenis gebeur, presies van ewigheid af so bepaal het. Dit is soos baie mense die uitsprake van die belydenisse verstaan. Maar dit lei dan onafwendbaar tot wat die belydenis juis nie wil sê nie, nl dat ons te make het met ’n soort vasgelegde plan van Gods voorbeskikking wat net eenvoudig vanself in vervulling gaan – soos ’n horlosie wat opgewen is, of soos ’n vooraf-geprogrammeerde proses. Hierdie soort beskouing het reeds in die Griekse oudheid bestaan, en word vandag nog aangedui met die terme determinisme en fatalisme – wat beteken dat alles vooraf so bepaal is en dat alles volgens die wet van oorsaak en gevolg afloop, sodat niks daaraan gedoen kan word nie. Is dit miskien hoe ons die belydenis van die voorsienigheid verstaan?

Persoonlike betrokkenheid

Dit kan egter nooit die bedoeling van die uitsprake van die Bybel of die belydenis wees dat dit so verstaan moet word nie, want (a) dan sou ons eintlik nie meer van Gods betrokkenheid by ons kan praat nie, aangesien dié term tog ’n persoonlike verhouding veronderstel – en in die konteks van fatalisme en determinisme is daarvoor geen ruimte nie. Maar dan sou daar (b) ook nie meer plek wees vir die menslike vryheid en verantwoordelikheid, waarvoor die Bybel tog ook duidelik praat nie. Sonder die menslike verantwoordelikheid en vryheid het ons geen grond meer om vir die mens te preek, hom te vermaan, by hom te pleit om versigtig te wees, om moreel te lewe, om die goeie te soek en die kwade te vermy nie. Tog is dit wat deurgaans in die Bybel gebeur. Ons moet dus deurgaans daarmee reken dat die verhouding tussen God en mens ’n persoonlike verhouding is en nie ’n verhouding waarin mense se doen en late van te vore deur God bepaal is, sodat hulle geen vrye keuse het nie. Ons moet God se albestier op sodanige wyse verstaan, dat ons ruimte oophou vir die lewende en aktuele betrokkenheid van God by ons bestaan as persoonlike wesens met vryheid en verantwoordelikheid. As ons dit nie doen nie, sou ons (c) ook nie meer plek hê vir die gebed nie, want as alles al van ewigheid af deur God op ’n bepaalde manier beskik is, dan het dit geen sin dat ons nog by God pleit en vra dat Hy dit of dat moet doen of van ons afweer nie. En dit is so wesenlik vir die verhouding tussen God en mens soos die Bybel daaroor praat, dat ons dit eenvoudig in berekening moet bring.

Die wette waarvolgens God regeer

Daarby moet ons ook onthou dat God nie ’n willekeurige God is nie. In sy regering en beskikking oor alle dinge, skakel God ook nie wette uit wat Hy aan sy skepping gegee het nie. Dit geld van die morele wette. Gods morele wette beskerm die lewe en die volheid en skoonheid daarvan. Maar as dit oortree word, bring dit vanself slegte gevolge mee. Ons lees in Galasiërs 6:7 – “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes”: die waarheid daarvan word in die geskiedenis van die menslike lewe en van die nasies bevestig. Sonde kos altyd ’n prys. Die oordeel van God word in die geskiedenis sigbaar daarin dat wie in die vlees saai, ook in die vlees maai. Dit geld van individue, dit geld ook van volkere. As ons vandag nadink oor hoe God by ons situasie vandag betrokke is, sal ons seker nie daaraan kan verbygaan dat God ook as tugtigende en oordelende God in ons midde is nie. Baie van die nare dinge wat ons vandag belewe en wat ons miskien nog in die toekoms sal belewe, het direk te make met dinge wat ons self gedoen het, houdings wat ons ingeneem het, stelsels wat ons tot voordeel van onsself en tot nadeel van andere deurgevoer het. In ’n sin is die uitspraak wat dat die wêreld se geskiedenis ook die wêreld se gerig is.

Maar ons moet verder gaan en sê dat God in sy betrokkenheid by die wêreld ook nie die wette ophef wat Hy in die natuur gelê het nie. Die skepping is ’n proses wat volgens ’n bepaalde innerlike wetmatigheid verloop en georden is, en alhoewel God magtig is en in staat is om in dié wette in te gryp, dit op te skort of te verander – is dit tog nie die styl van sy regering nie. Die prosesse van die natuur, die seisoene, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare gaan nie buite Gods beheer om nie, maar verloop tog ook volgens die prosesse wat in die natuur as sisteem gegee is. Daarbinne is ook ruimte vir wat ons kontingensie kan noem. Onder kontingensie verstaan ons die element van gebeurlikheid wat nie vooraf bereken kan word nie. Soms word dit toeval genoem. Dink aan die woorde in die gelykenis van Jesus oor die barmhartige Samaritaan, waarby in Lukas 10;31 staan: Dit gebeur toe dat … Die Ou Vertaling het gelees: Toevallig kom daar … God regeer in die ganse groot skepping op sodanige wyse, dat daar in die proses van die geskape werklikheid wat in vryheid ontwikkel, ’n geweldige kompleksiteit aanwesig is wat nie altyd reg funksioneer nie. So ontstaan daar orkane, droogtes en ander rampe wat dikwels nie met menslike nalatigheid te make het nie en ook nie direk aan die wil van God toegeskryf moet word nie, hoogstens aan sy toelating dat die wêreld in ’n sekere vryheid ontwikkel. Ons moet aanvaar dat daar ’n relatiewe selfstandigheid aan die skepping toegeken moet word, en dat Gods voorsienigheid nie beteken dat God vir alles verantwoordelik gehou word wat in die skepping gebeur nie. Maar God laat dit toe, en dit het ook met Gods straf op sonde te make dat Hy dit wel toelaat (Genesis 3:16–19). En natuurlik moet ons ook rekening hou met die realiteit van die bose magte wat in die skepping werksaam is en dus in stryd met die wil van God veel ellende in die wêreld laat gebeur.

Die eksperiment van God

Laat ons dit alles op ons inwerk, dan moet ons sê dat die skepping en die geskiedenis ’n dinamiese proses is, as ons wil: ’n grootste eksperiment van God waarin Hy aan die mens vryheid en verantwoordelikheid gee en aan die skepping as proses self ruimte laat vir ontwikkeling volgens sy eie innerlike wetmatighede. Die kwaad in die wêreld kom nie van God af nie, maar van die mens se verkeerde keuses. Veel van die ongelukke en rampe in die wêreld moet gesien word as die skewe ontwikkeling binne die kreatuurlike proses, waarby die mag van die bose ’n rol kan speel. Daarom kan daar so baie dinge in die natuur en geskiedenis skeefloop – dat rampe kan plaasvind en ongelukke kan gebeur wat nie deur God spesifiek so gewil, besluit en beskik is nie. As ons dit nie aanvaar nie, word ons gedwing om ook die kwaad aan God toe te skryf – nie net die morele kwaad wat die mense doen nie, maar ook alle fisieke kwaad wat in die skepping kan voorkom. En dan maak ons God verantwoordelik vir alle leed, pyn, rampe en ellende wat in die wêreld gebeur. Maar: as ons dit gesê het, moet ons dadelik daaraan toevoeg dat dit nie beteken dat God nie meer in die geskiedenis en die skepping regeer nie. In sy oormag regeer God ook oor die kwaad wat mense doen en wat in die natuurlike prosesse na vore kom, en hy realiseer sy heilsplan daardeur heen. Hy lei en rig die hele ganse groot proses van die geskiedenis.

Tog is God volkome in beheer

Ja, ons moet sê: God bly op ’n wonderbaarlike wyse in beheer van dit alles. Prof Adrio König het onlangs ’n mate van beroering veroorsaak toe hy in die lig van die wyse waarop God die “wilde perd” van die geskiedenis ry, gesê het dat God nie in beheer is van alles wat gebeur nie, maar dat Hy in ’n stryd met die magte verkeer en dat Hy eenmaal wel in beheer van alles sal wees wanneer Hy al die magte oorwin het. Hierop het prof Heyns geantwoord dat dit nie genoeg is om dit so uit te druk nie. Ook Heyns wil nie sê dat Gods regering beteken dat God eenmaal êrens in die ewigheid soos ’n argitek die planne vir die wêreld opgestel het tot in die fynste besonderhede, en dat alles nou in die geskiedenis daarvolgens verloop nie. Hy wil ook vashou aan die vryheid van die mense en die ontwikkeling van prosesse in geskiedenis wat in stryd kom met die wil van God, sodat nie gesê kan word dat God verantwoordelik gehou kan word vir alles wat mense doen of wat in die natuur gebeur nie. Maar dit hef die beheer van God oor alles nie op nie. God neem sy skepping en sy skepsels ernstig op en dit is nie sy styl om inbreuk e maak op die speelruimte wat Hy daaraan gelaat het nie. Maar dit beteken nie dat Hy beheer daaroor verloor het nie. Al gebeur daar ook hoeveel dinge wat nie volgens Gods wil is nie en nie aan Hom toegeskryf kan word nie, hou God tog die hele groot proses in sy hand. God kan uit die kwaad die goeie gebore laat word. God kan die geskiedenis lei, ondanks al die kwaad wat daarin voorkom.

Die goeie kom voort uit die kwaad

In hierdie verband voeg ek nog daaraan toe: God is nooit magteloos, onbetrokke en buite beheer nie. Die kruis en die opstanding bewys dat God die kwaad troef en deur die kwaad heen die goeie bewerk. Dit sien ons ook in die geskiedenis van Josef en sy broers (Genesis 37 en 50). Josef se broers kan nie verontskuldig word vir wat hulle gedoen het nie, net soos Judas en Pilatus en die Joodse Raad nie verontskuldig kan word vir wat hulle gedoen het nie. Maar God was magtig om juis uit die kwaad wat hulle gedoen het, die goeie te voorskyn te roep. Hy regeer op ’n onvergelykbare wyse dwarsdeur die menslike dade en beslissings heen. Hy bly op sodanige wyse in beheer van die situasie, dat sy raad en plan uiteindelik volvoer word en dat sy triomf oor die bose sigbaar word. Hy alleen kan die goeie uit die kwaad te voorskyn laat kom. Hy kan die kwaad verander in geod. Dit is sy grootheid, sy almag, sy wysheid. God kan nooit verloor nie, en wie in Gods beskutting is, kan ook nooit verloor nie.

Ons vat saam

(i)    God is altyd ten volle betrokke by sy skepping en by die geskiedenis.

(ii)   God is as die almagtige alomteenwoordige God daarby betrokke en sal uiteindelik die doel bereik wat Hy met sy skepping, met die mense en met elke situasie in die geskiedenis het. Die doel van God met die geskiedenis is nie verwerkliking van ons planne en begeertes nie, maar die koms van sy koninkryk.

(iii)  God is groot genoeg om aan die mense volle speelruimte te gee binne sy planne, en om tog op sodanige wyse oor alles te regeer dat sy wil uiteindelik bereik sal word, ondanks die menslike sonde en dwaasheid.

(iv)  Gods betrokkenheid beteken nie dat alles altyd reg en goed verloop nie: die kwaad geskied en veel leed en ellende is die gevolg van die kwaad wat in die wêreld gedoen word. Die geskiedenis is dikwels die geskiedenis van Gods gerig oor die sonde.

(v)   Al deel die kinders van God in die gerig wat oor die wêreld gaan en ly hulle veel in die verwarring van die kwaad, is hulle tog veilig in die hand van God. Niemand kan hulle uit sy hand ruk nie. Gods plan sal in die geskiedenis volvoer word, sy koninkryk sal kom, en Christus sal uiteindelik triomfeer, sodat God alles vir alles kan wees (1 Korintiërs 15:28).