DIE GEREFORMEERDE BELYDENIS EN DIE VERSTAAN VAN DIE BYBEL
Watter rol behoort die gereformeerde belydenis by die prediking te speel?
15 April 1995
Lesing – 7 punte
- Die lees van die Bybel word altyd deur voorveronderstellings bepaal, sodat elke poging om die Bybel “objektief” te lees, die karakter van relatiewe objektiwiteit dra, d.w.s. so objektief as moontlik binne ’n gegewe verstaansraamwerk.
- Die kerk as gemeenskap van gelowiges lees die Bybel as boek van die kerk binne ’n geloofs- en belydeniskonteks.
- Die belydenis van die kerk moet verstaan word as ’n hermeneutiese konstruk wat die Skrif as ’n eenheid sien en die sentrale inhoud daarvan as evangelie begryp.
- Die Protestantse sola scriptura funksioneer binne ’n bepaalde hermeneutiese raamwerk wat in die geloofsgemeenskap geldig is.
- Dit maak ’n radikale verskil of die Bybel as die Heilige Skrif gelees en as gesaghebbende teks vir die verkondiging hanteer word, en of dit vanuit ’n “neutrale” standpunt histories-krities en vryblywend as ’n godsdienstige literêre dokument gelees en hanteer word.
- Die belydenis van die kerk kom nie eers by die dogmatiek en die homiletiek ter sprake nie, maar moet reeds in die eksegese funksioneer as die teks in die prediking as Woord van God hanteer moet word.
- Die belydenis funksioneer nie op ʼn meganiese wyse by die prediking nie, maar is altyd reeds aktief aanwesig by die omgang met die Skrif in die hele lewe van die bedienaar van die Woord.
- Vir die vasstelling van die rol wat die gereformeerde belydenis by die prediking moet speel, is dit noodsaaklik dat ons eers ’n aantal hermeneutiese opmerkinge moet maak. En die eerste wat ons dan moet sê, is dat alle lees van die Bybel – en daarom ook dié soort lees van die Bybel wat by die prediking ter sprake kom – altyd bepaal word deur die uitgangspunte en voorveronderstellinge van die leser. Miskien is die gewone leser van die Bybel nie daarvan bewus nie. In naïwiteit kan ’n mens dink dat lees iets objektiefs is en dat ’n mens maar net jou oë moet oopmaak en jou kop daarby moet hou om die Bybel “reg” te kan lees. Daarom kan daar in die strydgesprekke tussen die verskillende kerklike en godsdienstige groepe soms soveel hitte ontstaan, omdat die een groep die ander van moedswilligheid en slegte trou verdink as hulle nie die duidelike woorde van die Bybel presies lees en verstaan soos hulle dit self doen nie. Die feit van die saak is egter en dié insig het ons aan die moderne insig in die hermeneutiese prosesse te danke dat niemand die Bybel “objektief” lees nie, omdat almal die Bybel vanuit ’n bepaalde verstaansraamwerk lees. Ons kan die Bybel hoogstens met ‘n “relatiewe objektiwiteit” lees, d.w.s. met die grootste moontlike objektiwiteit en openheid wat binne ’n bepaalde gegewe hermeneutiese raamwerk moontlik is. Hopelik deel alle Christene ook met mekaar ’n algemene en breë hermeneutiese raamwerk wat die gesprek tussen hulle nog altyd sinvol kan maak. Maar in ’n baie groter mate as wat ons normaalweg besef, word ons lees van die Bybel bepaal deur voorveronderstellings, oriëntasies en beslissings wat klaar geval het voordat ons die teks lees.
- Ons het hier nie die tyd on in te gaan op die faktore wat betrokke is by die verskaffing van die verstaansraamwerk waarbinne die lees van die Bybel plaasvind nie. Uiteraard is dit ’n uitgebreide onderwerp en u is ongetwyfeld ook van die probleme daaromheen bewus. Ek wys hier net daarop dat ons in die afgelope dekades baie sterker as tevore bewus geword het:
- van die rol wat die sogenaamde “konteks” by die lees en verstaan van die Bybel speel. Daardie konteks kan gedefinieer word in terme van kulturele en ander faktore (soos dit in die kontekstuele teologie aan die orde is), maar dit het word ook bepaal deur die fundamentele voorbeslissings wat die lees van die Skrif beïnvloed en met name deur die kwessies van geloof en ongeloof asook die algemene vraag van die benadering van die Bybel as boek. Die kerk lees die Bybel in ’n geloofskonteks. Dus is ook
- die veronderstellinge waarmee die Bybel gelees word, van deurslaggewende betekenis vir die manier waarop dit verstaan word. Die heel belangrikste apriori in hierdie verband is of die Bybel as interessante literêre en selfs religieuse dokument gelees word, en of dit as die Woord van God gelees word. Hierdie apriori maak ’n groot verskil. En dan is daar nog ‘n derde faktor waarvan ons in die jongste tyd diep bewus geword het, en dit is
- dat die Bybel altyd binne ’n bepaalde gemeenskap gelees en verstaan word. Dit maak ’n groot verskil binne watter gemeenskap ’n mens die Bybel lees. Dit is moontlik om die Bybel binne die kritiese en sogenaamde onbevooroordeelde gemeenskap van literêr-kritiese teoloë aan die Universiteit te lees, of dit is moontlik om die Bybel binne die gemeenskap van die gelowiges te lees.
Daar word veral in die jongste tyd klem gelê op wat in Amerika op hierdie aspek baie sterk klem gelê.
Die gemeenskap waarbinne ‘n mens die Bybel lees, het ’n uitgesproke “interpretative role”, omdat dit ook bepaalde “interpretative interests” het by die omgaan met die Bybel (Fowl & Jones: 1991, Reading in Communion). Die lees en verstaan van die Bybel word baie sterk beïnvloed deur die bepaalde interpretatiewe gemeenskap waarbinne dit geskied en die belang wat daarby in die spel is. Wanneer die Bybel in die kerk gelees word, geskied dit binne die kerk as gemeenskap van die gelowiges wat belang het by die geestelike boodskap daarvan. Die Bybel word dan as boek van die kerk verstaan (vgl. Betz, HD (ed): The Bible as Document of the University, 1991), waarin onderskei word tussen die Bybel as boek van die kerk, as boek van die universiteit en as boek van die samelewing, maar ook …[res van die sin ontbreek in die oorspronklike dokument] (Bird, PA: The Bible as the Church’s book, 1982 ens).
Wanneer die Bybel in die kerk gelees word, geskied dit in ’n geloofs- en ’n belydeniskonteks. Reeds op grond hiervan moet ons sê dat daar ’n direkte verhouding bestaan tussen die lees en verstaan van die Bybel en die voorveronderstellings, doel en belang waarmee dit gelees word. In hierdie sin het die belydenis van die kerk ’n belangrike funksie by die omgang net die Bybel.
- Die belydenis van die kerk wil niks anders wees nie, as ’n hermeneutiese konstruk vat die sentrale inhoud van die Skrif as eenheid op ’n bepaalde manier formuleer en die breë raamwerk verskaf waarbinne dit as die evangelie in die gemeente gelees en verkondig word. Die prediking beoog die verkondiging van die Woord van God soos dit in die Heilige Skrif gehoor word. Maar daardie hoor van die Woord staan in kontinuïteit met die wyse waarop die kerk deur die eeue die Woord gehoor het. Dit staan in ’n besondere sin in verband met die wyse waarop die gemeenskap waartoe die prediker behoort, die woord van God in die verlede gehoor het, ons geval: die gereformeerde komponent van die Christenheid. Van daardie hoor van Gods Woord in die verlede is die belydenisskrifte die neerslag. Die belydenis het altyd ’n bepalende rol by die omgang met die Skrif. Niemand van ons lees die Bybel op hom/haar self nie. Selfs die gewone gemeentelid wat nie eers die geformuleerde belydenis van die kerk goed ken nie, lees die Bybel teen die agtergrond en binne die kader van die vertolking daarvan soos hy/sy dit van kleins af in die kerk meegemaak het. Hoe beter ’n gelowige die kader waarin die skrif deur die kerk gelees word, tot sy/haar eie gemaak het, hoe minder is hy/sy daarvan bewus dat ’n bepaalde sleutel by die verstaan van die Bybel hanteer word. Die predikant moet deur sy/haar studie en vorming daarvan bewus genaak word dat hy/sy binne ’n bepaalde verstaanskader leef en asem haal. Die doel van studie is onder meer om ook moontlike ander verstaanskaders te leer ken en te toets. Maar as ’n persoon uiteindelik tog sover kom om ’n predikant te word, dan moet hy/sy daarvan oortuig wees dat hy/sy in gemeenskap met die kerk die Bybel as die Woord van God aanvaar en verstaan. Trouens, ’n mens verbind jouself bewustelik daartoe met jou handtekening. Dit beteken dat ’n mens in jou werk voortdurend daarmee besig is om die Skrif aan die gemeente te verkondig binne ’n bepaalde hermeneutiese raamwerk soos dit in die belydenisskrifte van die kerk gestalte gevind het. Hoewel prediking altyd die verkondiging van ‘n spesifieke teks is, word die teks tog nooit in isolasie gesien word van die geheel van die Bybelboek en die Skrif waarin dit voorkom nie. Sodra hierdie geheel egter in sig kon, kom die skopus, die strekking, die sentrale boodskap van die Skrif as geheel in sig. En dit is presies wat in die belydenis van die kerk omlyn word.
- As Protestante beklemtoon ons gewoonlik die sola Scriptura. Dit is agter noodsaaklik dat ons dit nie op ’n naïewe manier verstaan nie. Die sola Scriptura funksioneer altyd binne ’n bepaalde raamwerk wat vir die geloofsgemeenskap grondliggend is. In ’n boeiende proefskrif onder die titel: De Schrift Alleen? (1979) het HM Vroom die Skrifgebruik van ’n aantal dogmatici ontleed, soos Torrance, Van Buren, Ebeling, Moltmann, Pannenberg en Kuyper. Hy kom tot die gevolgtrekking dat almal van hulle bedoel om die beginsel van die sola Scriptura te eer, maar dat dit tog in feite daarop neerkom dat hulle die Bybel lees vanuit ’n bepaalde sentrum en dat hulle werk met ’n bepaalde konstruk wat aan die belydenis van die kerk ontleen is. In daardie konstruk gaan dit om ’n sekere evidensie wat in die omgang van die gemeente met die Skrif oplig (Vroom:1979, 259 ev.). Klaarblyklik kan die Skrif nie in isolasie verstaan word nie. Dit kan alleen “saam met al die heiliges” (Ef 3:18) gelees en verstaan word. Dit beteken nie dat die uitleg van die Skrif deur die kerk of die tradisie voorgeskryf word nie. Die belydenis of tradisie is nie ’n meganiese grootheid wat op die Skrif gelê word nie. Maar dit beteken dat die Skrif as Woord van God altyd binne die gemeenskap van die gelowiges gelees en verstaan word. Rossouw het in ’n referaat oor Calvin’s hermeneutics of Holy Scripture (1982) daarop gewys dat Calvyn wil hê dat die Skrif in die kerk gelees moet word, wat nie beteken dat die tradisie of die kerk die uitleg van die Skrif voorskryf nie, maar dat die leerstellige tradisie van die kerk ’n hermeneutiese betekenis het. “Thus the church, as the historical community of present and past believers is, as it were, the hermeneutical “continuum” in which scripture interpretation should be carried out….The quest for pure doctrine can therefore only be adequately conducted if it is done in the awareness and the recognition of the established consensus ecclesiae with regard to the scripture message” (179-180). Die rede hiervoor is dat geen mens die Bybel of enigiets anders as ’n tabula rasa lees nie, maar altyd vanuit sy verstaanskaders an binne sy verstaanshorison. Dat kerke ondanks hulle verskille met mekaar nogtans ’n sinvolle gesprek kan voer en in polemiek kan tree, hang daarmee saam dat hulle in die breë met mekaar ’n geloofsapriori deel, al verskil hulle in bepaalde besonderhede net mekaar.
- Dit is uiteraard moontlik – en dit gebeur ook voortdurend – dat die Bybel vanuit ’n ander gesigshoek en met ander belange gelees word. Ons het tevore al daarna verwys dat die Bybel nie net as boek van die kerk nie, maar ook as boek van die universiteit of boek van die samelewing gelees kan word. Dit is dikwels so dat die Bybel as boek van die universiteit die voorwerp is van wetenskaplike studie wat die pretensie voer dat dit heeltemal objektief en onbevooroordeeld geskied. Maar dit is natuurlik nie moontlik nie. Die wetenskaplike het altyd sy eie voorveronderstellings waarmee hy die Bybel lees en ook sy eie besondere belang by die lee daarvan. In die ontwikkelinge sedert die 18de eeu is die Bybel dikwels met behulp van die histories-kritiese metode as ’n blote godsdienstige en historiese dokument gelees, sonder dat die leser enige geestelike belang daarby het. Een van die voorveronderstellinge waarvan so ’n leser uitgaan, is die kritiese instelling wat ons van Descartes meegekry het, nl. die uitgangspunt van die metodiese twyfel. So ’n leser stel homself dan doelbewus op die standpunt van die ongeloof (of skort minstens sy geloofsoortuigings eers op) en hanteer die basiese kriteria van die moderne wêreldbeeld en lewensbesef by die beoordeling en verstaan van die Bybel. Op sigself kan daarteen geen beswaar wees nie, want die Bybel is ook ’n historiese dokument wat vir enige leser ter beskikking is. Maar wie dit so doen, moet net daarvan bewus wees dat hy/sy dit dan nie meer vanuit die gesigshoek van die geloof of die kerk lees nie, en eintlik ook nie meer met teologie besig is nie, maar net ’n literêre studie. In die teologie word die Bybel ook wetenskaplik bestudeer, maar maar dan op grond van die apriori dat die Bybel as die Woord van God verstaan word, as die Heilige Skrif (vgl. D. Kelsey: The Uses of Scripture in Recent Theology). Dit is ‘n kategoriale verskil, Teologie in eintlike sin word bedryf met die doel om die Bybel beter te leer lees, verstaan en vertolk met die oog op die prediking an pastoraat van die kerk. En daarin gaan dit om die verkondiging van die boodskap van die Heilige Skrif as gesaghebbende Woord van God. Dit veronderstel ’n bepaalde voorbeslissing wat met betrekking tot die Skrif geval het, of soos Kelsey dit noem ’n “discrimen”, ’n bepaalde oordeel wat by die kerk as geloofsgemeenskap aangaande die Bybel bestaan, ni dat dit die woord van God is.
- Die diskrepansie tussen ‘n onbetrokke wetenskaplike bestudering van die Bybel as historiese boek én die betrokke, gelowige wetenskaplik omgang daarmee, kan vir die eksegeet ’n groot spanning meebring. Ek herinner my dat ek, toe ek in Nederland was en daar ook homiletiek as doseeropdrag gehad het, van naderby kennis genaak het met die probleem soos dit deur Prof Cas Labuschagne, Ou-Testamentikus van Groningen geformuleer is. Hy skryf êrens dat hy homself daarvan bewus is “dat ik naast oudtestamenticus ook christen-theoloog ben, wiens taak het is de overgeleverde godsdienstige geschriften wetenschappelijk te bestuderen, én, door zijn persoonlijk engagement bij het daarin beschreven gebeuren, dit gebeuren relevant en transparant te maken voor zijn eigen tijd” (K en Th Jr 20, 1969,267). Labuschagne onderskei dus tussen sy taak as Ou-Testamentikus en sy roeping as teoloog. ’n Mens tref dieselfde aan by die Duitse Nieu-Testamentikus Willi Marxen, wat in sy opstel: Der Exeget als Theologe in die gelyknamige bundel (1968), ook skryf dat die eintlike teologiese task van die eksegeet nog nie klaar is as hy ’n deeglike literêr-kritiese eksegese gedoen het nie, want daarby moet nog ’n tweede taak kom, “der eigentlich theologische (105). Met die oog op die prediking moet daar volgens hom dus op die eksegese nog die dogmatiese en dan die homiletiese hantering van die teks volg. Maar dit is vir die eksegeet baie moeilik, want hy ken volgens Marxsen nie meer die grootheid “Skrif” waarmee in die kerk gewerk word nie. Hy ken nie meer die kanon as die Woord van God waarbinne die teks as preekteks sou kon funksioneer nie. Hy doen dan ook allerlei voorstelle oor hoe die eksegeet homself in hierdie situasie moet probeer behelp, bv. net die konsep van die kanon in die kanon ens. Dit kom daarop neer dat die belydenis van die kerk dus tog op een of ander manier ingeskakel moet word om by die preek te kan uitkom.
- Vir my is dit egter duidelik dat dit dan te laat is. Die belydenis van die kerk kan nie eers by die dogmatiese denke of die homiletiese hantering van die teks ingeskakel word nie, want dan hang dit in die lug en is dikwels nie veel meer as ’n ongeloofwaardige poging van die prediker om met algemeenhede iets te red van die boodskap van die Skrif wat hy met sy eksegese eintlik bevraagteken het nie. Albei die eksegete wat ek genoem het, wil hulle eksegetiese arbeid eers losmaak van hulle teologiese posisie en belydenis, om dan agterna weer ’n verbinding te probeer lê. Maar dan kan dit nie meer nie. Die voorveronderstellings waarmee hulle as eksegete werk, bots op die waarmee hulle as teoloë sou moet werk. Hulle lees as eksegete die Bybel nie as Skrif nie, omdat hulle hul posisie nie binne die kerkgemeenskap inneem nie, maar as literêre wetenskaplikes binne ’n moderne universiteit met sy pretensie van neutraliteit. Hulle skort nie net hulle Christelike belydenis op nie, maar ook hulle hoedanigheid as teoloog en neem, soos hulle dink, eers ’n neutrale standpunt teenoor die Skrif in. Maar agterna wil hulle dan tog as gelowiges nog iets met so ’n geïsoleerde teks aanvang. Haar dit is moeilik om eers in daardie stadium weer tot teoloog te word. Die teoloog behoort vanuit die staanspoor binne die geloofstradisie van die gemeente te leef en te werk. Kelsey onderskei tussen drie soort eksegese, waarvan slegs die laaste getipeer word as “the study of a Biblical text taken as Christian scripture” (Kelsey: 1975, 198). Dit is slegs hierdie soort eksegese (waarin uiteraard van resultate van die vorige twee kritiese eksegetiese metodes gebruik gemaak kan word) wat as deel van die teologiese taak van die kerk beskou kan word. Dit is ook slegs hierdie tipe eksegese wat grondslag van die prediking en pastoraat van die kerk kan wees.
- Die rol wat die gereformeerde belydenis by die prediking moet vervul, moet dus nie op ’n meganiese of resep-agtige manier verstaan word nie. Dis nie noodsaaklik dat die predikant voor sy preek eers die belydenisskrifte moet gaan raadpleeg om te kyk of hy suiwer preek of nie. Dis ook nie nodig dat hy in elke preek na die belydenis hoef te verwys nie, hoewel (dit sê ek met diepe sorg) die prediking baie daarby sou gebaat het as die huidige geslag predikante minder aktualisties probeer preek het, en meer aandag aan die basiese oortuigings van die Christelike geloof soos dit in die belydenis verwoord word, sou gegee het. Maar wat nodig is, is dat die prediker self oortuig moet wees van die waarheid van die belydenis van die kerk, en dat hy vanuit daardie oortuiging die Bybel as ’n gelowige sal lees en uitlê. Die belydenis funksioneer in die prediking as die raamwerk waarbinne die kerk die Woord van God nog altyd gehoor het en ook nog in die toekoms sal hoor. Wysigings in die belydenis is moontlik, maar dan geskied dit deur die evidensie van die Skrifboodskap wat op ’n bepaalde punt in die gemeenskap van die kerk deurbreek, en nie deurdat enkelinge op hulleself ’n nuwe rigting inslaan nie. Die doel van die teologiese studie in sy geheel kan nie eintlik iets anders wees, as om mense te leer hoe om die Woord van God in prediking en pastoraat aan die gemeente te bedien nie. As die teologiese studie van die toekomstige predikant ’n neutrale literêre wetenskaplike maak wat buite die geloof om met die Bybel as dokument werk, sal dit onmoontlik wees vir hom om in die bediening sy teks en die kerklike belydenis bymekaar uit te bring.
Dit is om dié rede dat ons in die Kweekskool soveel waarde daaraan heg dat ons ’n inrigting met ’n konfessionele basis is, en dat ons opleiding in die kerk as geloofsgemeenskap gewortel moet wees.