Die drie-enige God

DIE DRIE-ENIGE GOD
Die Burger, 21 Mei 1994, bladsy 10

Dit behoort tot die unieke aard van die Christenheid dat dit bely dat die één ware God in sy wese drie-enig is. Daarin is dit van alle ander godsdienste onderskeie.

Hoewel die Christelike geloof gefundeer is in die Ou Testament met sy uitgesproke monoteïsme, sluit dit op grond van die koms van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees ook die oortuiging in dat die één ware God Homself in die geskiedenis van sy heilsdade as drie-enig geopenbaar het.

Die kerk deel met Israel die geloof in God as die Skepper en die Onderhouer van alle dinge. Maar die kerk is gebore uit die heilswerk van die Here Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag.

Die Nuwe Testament vertel die verhaal van hierdie twee groot werklikhede wat deur die kerk verstaan en verkondig word as beslissende openbarings van God in die volheid van die tyd. Daarin is nie net die Ou Testamentiese beloftes vervul nie, maar is ook die wese van God op ’n heerliker wyse geopenbaar.

Die eerste stap tot die belydenis van die Drie-eenheid is gegee toe die Christene na die opstanding van Christus tot die insig gekom het dat Hy nie maar net nog ’n groot profeet was nie, maar die lewende Here self. Hy is Immanuel: die ewige Woord van God en in werklikheid God self wat mens geword en onder die mense kom woon het (Johannes 1:14).

Die finale stap is gegee toe die eerste Christene op grond van die prediking van Jesus verstaan het dat ook die Gees wat met Pinkster uitgestort is, God self is wat gekom het om in die kerk te lewe, sonder dat hy opgehou het om as God terselfdertyd die Vader in die hemel en die verheerlikte Christus te wees.

Die belydenis van die Drie-eenheid berus dus daarop dat die één God van die Ou Testament homself in die geskiedenis drie maal as dieselfde God geopenbaar het, maar drie maal ook weer anders. Hy is die Skepper wat in Christus homself ook as die Versoener, en in die Heilige Gees homself ook as die Verlosser en Heiligmaker laat ken het.

Pinksterfees is dan ook die sluitsteen van die Christelike feeste wat van Kersfees oor Goeie Vrydag, Paasfees en Hemelvaart loop. Dan vier die Christenheid die volheid van Gods heilsopenbaring waarin Hy Homself in die geskiedenis van sy dade as die Drie-enige laat ken het.

Daarom is die dogma van die Drie-eenheid die gronddogma van die Christenheid. Daarmee staan en val dit. Alles wat Christene glo, staan in direkte verband daarmee. Wie dit prysgee of ter wille van vrede met ander godsdienste verswyg, tas die Christendom in sy hart aan. Dit is vandag ’n wesenlike gevaar in Suid-Afrika.

Daarom was dit verblydend dat adjunk president FW de Klerk, by sy onlangse beëdiging, homself so duidelik op die drie-enige God beroep het om sy eed te bevestig. Daarmee het hy in ’n situasie waarin ’n blote algemene verwysing na God misverstaan sou kon word, ’n helder Christelike belydenis by ’n kruispunt in die land se geskiedenis afgelê. – WDJ