Dit moet geskenk word

DIT MOET GESKENK WORD
Die Burger, 5 Februarie 1994

Al die wesenlike dinge van ’n mens se lewe moet aan jou geskenk word. Jy kan dit nie vir jouself verwerf nie. Dit geld, om mee te begin, al van die lewe self – dit is ’n gawe waarop niemand aanspraak kon gemaak het nie. Dit is ’n geskenk, Gods vrye beskikking oor jou. Dat jy daar is, het niks met jou eie keuse, intensie of prestasie te maak nie.

Maar eintlik geld dit veral die belangrike dinge van die lewe. Wie jy is, jou afkoms en jou naam, jou gawes en jou intellek, selfs jou opvoeding en jou waardes, is dinge wat van huis uit aan ’n mens meegegee word en waaroor jyself nie beskik het nie. Wat van jou gevra word, is om dit toe te eien, om daarmee te werk en so aan jou lewe gestalte en inhoud te gee.

Wat van die natuurlike dinge geld, is nog soveel te meer waar van die geestelike. So min as wat ’n mens jou eie geboorte kan bewerk, so min kan jy jou geestelike- of wedergeboorte self bewerk. Dit is ’n geskenk en genadegawe van God. In die wonderlike ontmoeting tussen Jesus en Nikodemus waarvan Johannes 3 vertel, sê Jesus aan hom dat dit met die wedergeboorte gaan soos met die wind: Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is (Johannes 3:8).

Dit beteken: wedergeboorte is geen menslike moontlikheid nie, maar ’n goddelike moontlikheid, ’n goddelike geskenk wat ’n mens sonder eie toedoen te beurt val, maar waarvan die gevolge nie verborge kan bly nie. Dit is ’n aanraking van God, ’n skeppingsdaad wat lig uit die duisternis roep, dag uit die nag, lewe uit die dood. Wie dit deelagtig geword het, staan met verwondering daarteenoor en kan alleen maar in wederliefde antwoord op die liefde waarmee God eerste liefgehad het.

Dit bied aan niemand grond om te kan roem nie. ’n Mens kan alleen roem op iets wat jy self presteer en bewerk het, maar dit geld van geen enkele wesenlike ding in die lewe van ’n mens nie – van die geestelike nog minder as van die tydelike en liggaamlike. Niemand kan roem op die aanraking van Gods liefde, op die genade van sy vergiffenis, op die verandering van hart wat Hy bewerk het, asof hy of sy dit op een of ander manier verdien het nie.

Daarom kan Paulus ook in sy hoofstukke oor die verkiesende liefde van God (Romeine 9–11) die gedagte so skerp afwys dat die heidene wat gered is, hulle oor die ongelowige Israel kan verhef wat vanweë hulle ongeloof verby gegaan is (Romeine 11:18–21). Genade is werklik genade. ’n Mens kan dit maar net in dankbaarheid ontvang en wegwys van jouself af, na God wat in sy onbegryplike en verkiesende liefde lewe uit die dood gewek het.

Maar selfs die moontlikheid om dit te doen, om in geloof en wederliefde te antwoord op die aanraking van God en om Christus na te volg, moet dag na dag as geskenk uit die hand van God ontvang word. Van Augustinus is die gebed: “Gee wat U vra, en vra dan wat U wil!”

Natuurlik is ’n mens geestelik tot alle dinge in staat, ook tot lydsaamheid, geduld, liefde en goedheid midde in ’n wêreld vol haat en geweld. Maar, sê Paulus, dan tog ook maar net deur Christus wat krag gee (Filippense 4:13). Of, om dit met Augustinus te sê: Alleen maar omdat God aan ’n mens gee wat Hy van jou vra. – WDJ