Enkele opmerkings oor die Doop (Leer- en Aktuele Sake)

ENKELE OPMERKINGS OOR DIE DOOP

WD Jonker
(Bloubergstrand)
(Ongedateer)

Die versoek van die Ned Geref Kerk Bloubergstrand dat ’n volledige inligtingstuk wat alle aspekte van die doop dek, opgestel moet word, is prakties te veel gevra. Na aanleiding van die drie spesifieke vrae wat deur die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake gestel is, maak ons graag die volgende opmerkinge:

Die nut van die belydenisskrifte en doopsformulier

Ons wil graag daarop wys dat die soort vrae wat deur die kommissie gestel word, duidelike antwoorde ontvang in die belydenisskrifte van die kerk, met name in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) en in die Heidelbergse Kategismus (HK). Daarnaas is dit ook belangrik om die klassieke formulier vir die doop te bestudeer, wat ook in ons kerkboek voorkom. Ons wil aanbeveel dat kerkraadslede almal sal sorg dat hulle in besit van minstens die belydenisskrifte is, en dat hulle hulself gaandeweg met die inhoud daarvan vertroud maak soos bepaalde vrae op hulle weg kom. Dit sal hulle help om die vrae van gemeentelede en ander persone met gemak te kan beantwoord. In die onderhawige geval gaan dit veral om NGB art 33–34 en HK vr 65–74. Dit is veral belangrik om te let op die tekste waarna by die antwoorde verwys word, omdat dit daaruit duidelik word waarop die antwoorde gebaseer is, en omgekeerd ook weer help om die betekenis van die tekste beter te verstaan. Ons sluit daarby aan in ons antwoorde.

  1. Wat beteken die doop?

Heel eerste moet ons onthou dat die doop ’n sakrament is. Sakramente is tekens en seëls wat deur God ingestel is om ons die toeseggings van die evangelie nog beter te laat verstaan en aan ons die versekering te gee dat daardie beloftes of toeseggings vir ons persoonlik bedoel is. Die sakramente doen dus nie iets wat die Woord nie ook doen nie, maar gee daaraan ’n bevestiging en bekragtiging, sodat ons dit soveel makliker kan glo.

Dat die doop as sakrament ’n teken en seël genoem word, beteken dat God daardeur aan ons die bevestiging gee dat Hy ons net so seker van ons sondes reinig en belowe om ons lewens netso seker deur sy Gees te heilig, as wat ons deur die water in die doop “gewas” word. Die doop bevat en bevestig hierdie toesegging van God aan ons. Daarom kan die Bybel ook sê dat God deur die doop ons sondes afwas en ons in die dood en opstanding van Christus inlyf (vgl bv Romeine 6, en HK vrae 72 en 73) . Dit is sakramentele taal. Daarmee word bedoel dat God hierdie uiterlike tekens gebruik om aan ons die ekstra versekering te gee dat Hy werklik alles aan ons doen wat die doop afbeeld, sodat ons dit soveel makliker kan glo en daaraan kan vashou.

Dit geld natuurlik nie net van die doop van volwassenes nie, maar ook van die doop van kindertjies. Deur die doop bevestig God aan die kindjie dat Hy sy verlossende liefde en genade aan hom of haar skenk, so seker as wat die sigbare teken aan die kindjie gegee word.

2.  Waarom word kindertjies gedoop?

Kindertjies word in die Christelike kerk gedoop, omdat die kerk homself verstaan as deel van die één, heilige, algemene Christelike Kerk wat volgens vr 54 van die HK en art 27 van die NGB alle verlostes van die begin van die wêreld af tot by die einde omvat. Die kerk het in twee bedelings bestaan, dié van die Ou Testament (of Ou Verbond) en die van die Nuwe Testament (of Nuwe Verbond). Die NT leer ons dat die gemeente van die Nuwe Verbond deel is van en ingeplant is in die gemeente van die Ou Verbond. So word hulle deel van die één volk van God (1 Petrus 2:9–10). Christus is die vervulling van al die beloftes aan Abraham, wat die vader van al die gelowiges is (vgl Romeine 4, Romeine 11:13–24; Efesiërs 2:11–22; Hebreërs 6:13–10:25).

In die lig hiervan glo die kerk dat God in die Nuwe Verbond net soos in die Ou Verbond die verlossing aan mense op ’n verbondsmatige wyse skenk. God het ’n verbond met Abraham gemaak om aan hom en sy nageslag die heil te skenk, en direk daaraan toegevoeg dat in hom al die volke van die aarde geseën sal word (Genesis 12:1–3; Genesis 15; Genesis 17). Die aard van Gods verbond met Abraham was van die begin af dat die kinders saam met die ouers deel van die verbondsvolk is. Vandaar dat die teken van die verbond, die besnydenis, van die begin af ook aan die kinders gegee is (Genesis 17:7). Die bedoeling was dat God dieselfde heil wat Hy aan die ouers gee, ook aan die kinders skenk, en dat die kinders van kleins af deur die ouers geleer moet word om dit te glo en daaruit te gaan lewe. Dat net die seuntjies besny is, het nie die dogtertjies uitgeskakel nie, omdat daar in die Ou Verbond ’n patriargale opvatting van die eenheid van die gesin bestaan het: die seuns is gesien as die nuwe hoofde van die nuwe gesinne, en in hulle is dus die gesin as geheel geheilig.

Omdat die kerk van die begin af homself as die nuwe geestelike Israel en die volk van God verstaan het, het die kerk daarvan uitgegaan dat die toesegging van die heil nog steeds in die nuwe bedeling vir gelowiges en hulle kinders bedoel is (Hand 2:38-39). Toe die doop as verbondsteken in die plek van die besnydenis gekom het (soos die nagmaal in plek van die Paasfees gekom het), het die kerk dus ook die kinders van gelowiges gedoop. Ons lees in die NT vyf keer van gesinne wat gedoop is (Handelinge 10:24, 48; 16:15; 31–33; 18:8; 1 Korintiërs 1:16). Klaarblyklik was dit vir die kerk vanselfsprekend dat die kinders in die Nuwe Verbond, soos in die Ou Verbond, saam met die ouers in die heil deel. ’n Verskil met die Ou Verbond wat opval, is dat ook die vroue en dogtertjies gedoop is. Dit het aangesluit by die gebruike van die proselietedoop (die inlywing van heidene by die Joodse gemeenskap) en die doop van Johannes. In die Nuwe Verbond maak dit nie meer saak of iemand ’n man of ’n vrou is, ’n slaaf of ’n vrye persoon nie, want in Christus is almal een (Galasiërs 3:28). Vandaar dat hele gesinne gedoop is as die vader of moeder tot geloof gekom het.

Wanneer die kerk die kindertjies van gelowiges doop, is dit omdat die kerk op grond van die Nuwe Testament glo dat hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is en ook aan hulle die versekering gegee word dat Christus se bloed vir hulle uitgestort is en sy Heilige Gees ook hulle wil heilig. Hulle doop is ’n pand wat God aan hulle gee dat Hy hulle in Christus as sy kinders en erfgename aangeneem het. Terselfdertyd word hulle deur die doop ook verplig om as hulle opgroei, die toesegging van die heil wat so persoonlik aan hulle bevestig, is, te glo en daaruit te gaan lewe. By die doop belowe die ouers om hulle kindertjies in hierdie waarheid op te voed en hulle te leer om dit te omhels en daarop te bou. Dit is die groot voorreg van die verbondsouer om die een te wees wat sy/haar kind lei om in die geloof Christus te omhels en só die toesegging wat in die doop aan die kind gedoen is, toe te eien.

Die kinderdoop is die sterkste teken van die voorkomende genade van God, dws. dat God na ons kom, voordat ons na Hom kan kom; dat Hy ons liefhet, voordat ons Hom liefhet; dat Hy aan ons die heil skenk, selfs voordat ons nog daarom vra. Dit onderstreep die boodskap van die Bybel dat ons verlossing enkel uit genade is. Dit leer ons ook dat ons geloof en bekering nie die oorsaak of grond van ons verlossing is nie, maar eintlik die resultant daarvan: dit is die antwoord van dankbaarheid op die geskenk van Gods liefde wat Hy volkome onverdiend aan ons gegee het (vgl Genesis 10:2).

  1. Wat behels dit as jy jou kind van die doop weerhou?

Die doop is ’n wonderlike bevestiging van Gods genade aan ons en ons kinders, maar dit is nie heilsnoodsaaklik in die sin dat ’n mens gedoop moet wees om gered te kan word nie. Of die kinders gedoop word of nie, die verbondsbeloftes van God bly geldig vir hulle, en ons hoef nie te vrees dat ons kinders verlore sal gaan net omdat hulle nie gedoop is nie.

Maar in die lig van wat ons reeds gesê het, is dit duidelik dat ons die beloftes van God misken en verag as ons ons kindertjies van die doop weerhou. Ons verwerp iets wat die Here aan ons wil gee tot ons troos en sekerheid. Ons ontneem ons kinders die teken en seël van die troos en bevestiging van Gods liefde wat hulle van hulle eerste oomblikke af omring en hulle hele lewe insluit.

Dit beteken natuurlik ook dat ’n mens die leer van die kerk op hierdie punt verwerp, omdat jy nie wil aanvaar dat jou kind kragtens die verbond van God reeds die toesegging van die heil ontvang het en dus ook die teken en seël daarvan behoort te ontvang nie.

Die rede daarvoor is dat baie kerklidmate onder die invloed kom van Christene wat die verbondsmatige aard van die verlossing misken en selfs verwerp, of die verbond heeltemal anders verstaan as wat die kerk dit deur die eeue op grond van sy interpretasie van die Bybel verstaan het.

Sulke Christene gaan meestal daarvan uit dat die Ou en die Nuwe Verbond twee totaal verskillende dinge is. So redeneer hulle by dat die Ou verbond met Israel as volk gemaak was en slegs die belofte van die land Kanaän bevat het, maar niks met die geestelike heil te make gehad het nie. Of hulle sê dat die Nuwe Verbond die bedeling van die Gees is wat niks met vleeslike afstamming te make het nie In elk geval dink hulle dat die Nuwe Verbond net met individue opgerig word as hulle eers tot geloof gekom het, en dat die gesinsverband niks in hierdie opsig te sê het nie.

Die implikasie daarvan is dat hulle die kinders van die gelowiges gelykskakel met heidene as “diegene wat daar ver is” (Ef. 2:11-20) aan wie die evangelie verkondig moet word, en eers as hulle tot bekering gekom en gedoop is, tot die gemeente gereken mag word. Die beeld van die sendingsituasie wat ons in die NT vind en wat betrekking gehad het op die eerste periode van die Christelike kerk (Mk. 16:16; Mat. 18:19 ens), word deur hulle gesien as die patroon wat ook vir die kerk van alle tye geld. Hulle hou dus nie rekening met die verband wat die Bybel self tussen gelowige ouers en hulle huisgesin lê nie. Wie hieroor meer wil weet, kan gerus die boek van prof Adrio König lees: Die doop as kinderdoop en grootdoop, Pretoria, 1987.

Christene wat die kinderdoop verwerp, meen dikwels dat ’n mens net gered kan word, as jy ’n bewuste ervaring van ’n kragdadige bekering gehad het, waarop die doop dan as bevestiging van jou bekering moet volg. Dat kinders in ’n gelowige gesin ook byna geruisloos hulle harte vir Gods genade kan oopmaak en daaruit kan gaan lewe, val buite hulle soort verstaan van die weg waarlangs die heil ons deel word.

Dikwels dink hulle ook nog dat ons bekering en geloof die grond van ons redding is, asof dit ons “bydrae” is wat ons moet lewer om gered te word. Daaruit blyk dit dat hulle nie verstaan dat ons bekering en geloof maar net die weg is waarlangs ons die heil ontvang wat suiwer uit genade deur God aan ons gegee word nie. Dat die kinderdoop op ’n heel besondere wyse die voorkomende aard van Gods reddende genade tot uitdrukking bring, word deur hulle nie begryp nie.

As lidmate dus besluit om hulle kindertjies nie te laat doop nie, is dit nie maar iets onskuldigs nie. Hulle is óf laks en kerklos, óf hulle verwerp die kerklike belydenis aangaande die kinderdoop. As laasgenoemde die geval is, het die kerk alle rede om hulle daaroor aan te spreek, omdat hulle dan ’n ander leer as die kerk daarop nahou en in stryd met hulle lidmaatsbeloftes handel.

Lidmate wat die kinderdoop verwerp, verwerp daarmee veel meer as net ’n bepaalde gebruik in die kerk. Hulle verwerp die kerklike leer van die verbond en van die aard van die sakramente. Tien teen een verwerp hulle ook nog die regte verstaan van die leer van die verlossing uit genade alleen. Die kerk kan dit nie eenvoudig daarby laat nie, maar moet hulle probeer oortuig dat dit verkeerd is, sodat hulle na die ware leer terug kan keer.

  1. Wat beteken dit as jy jou laat herdoop?

Met die voorgaande is die antwoord op hierdie vraag ook al gegee: Jy ontken dat jy reeds gedoop is, omdat jy die kinderdoop verag en nie as ware doop beskou nie; jy verwerp die leer van die verbond soos die Bybel dit bied; jy huldig ’n individualistiese siening op die redding; jy misken tien teen een die voorkomende aard van die genade van God en die ware betekenis van die verlossing uit genade alleen, en jy het in werklikheid gekies vir ’n ander tipe godsdienstige vroomheid en belewing as wat die kerk huldig.

Dikwels gaan dit gepaard met ’n stuk veragting vir die kerk. Bewegings wat die volwassedoop propageer, skel dikwels die kerk uit vir dood en koud, en vanweë die feit dat die kerk gesinne en selfs ’n groot deel van die volk omvat, skryf hulle die kerk af omdat hy nie so entoesiasties en gesellig as die kleingroep is wat meer geestelike gemeenskap, opoffering en aktiwiteit openbaar nie. Natuurlik moet die kerk diep ongelukkig voel oor sy eie koudheid en oor die traagheid van talle binne die kerk. Maar is dit reg om daarom die kerk te verag en prys te gee? Het ons nie ’n roeping in die kerk nie? En is dit nie waar dat die karakter van die kerk juis saamhang met die aanvaarding van ’n waarheid wat diep in die Bybel gegrond is nie, dat God nie net individue nie, maar gesinne en selfs hele gemeenskappe in sy verbond insluit?

Maar daar is iets wat nog ingrypender is: As jy jou laat herdoop, verwerp jy daarmee die sakramentele karakter van die doop. Verreweg die meeste groepe wat die volwassedoop voorstaan, kan die doop nie meer as ’n sakrament verstaan nie, maar beskou die doop as ’n menslike daad van belydenis, getuienis of gehoorsaamheid -in elk geval as iets wat die mens doen. Die kerk verstaan die doop daarenteen op grond van tekste soos Romeine 6, Titus 3:5, Handelinge 22:16 en elders as ’n sakrament: ’n heilige teken en seël van iets wat God aan ons doen, sodat ons dit slegs maar deur die geloof kan ontvang. In die sakrament handel God aan ons. In die volwassedoop van die Charismatiese Beweging en ander groepe word die mens gesien as die handelende persoon. Eintlik is hulle doop dan nie meer doop in die volle sin van die woord nie.

Wanneer die kerk dus te make kry met mense wat hulle laat herdoop, is dit sy taak om hulle met groot erns en liefde te laat verstaan watter vreemde ding hulle doen: God het aan hulle as kindertjies reeds sy genade toegesê en verseël, maar noudat hulle opgegroei het en die vervulling van daardie toesegging en verseëling smaak, minag hulle daardie vroeë bewys van sy guns en meen dat hulle nou vir die eerste keer eers op grond van hulle bekering deur die doop in die gemeente ingelyf moet word. Die ruimheid, die omvattende aard van God se genade word nie meer reg verstaan nie. Alles word oor die boeg van die menslike verantwoordelikheid, bekering en geloof gegooi. Op die lang duur moet dit tot ’n verskraling van die Bybelse boodskap van Gods vrye guns lei.