ENKELE OPMERKINGE OOR DIE DOOP
WD Jonker
(Gordonsbaai, 06–03–1994)
Lees: Handelinge 2:37–43; 16:14–15, 29–34
Ons leef in ’n tyd waarin daar heelwat beroering rondom die doop ontstaan het. Sensitiewe mense wat graag opregte kinders van God wil wees, is ontvanklik vir die boodskap dat hulle ’n grondige breuk in hulle lewe moet ervaar en hulleself dan moet laat doop. Hulle doen dit dan, dikwels sonder enige besef van die geweldige beslissings ten opsigte van die Christelike geloof wat daarmee gegee is. Diegene wat hulle oortuig om dit te doen, het bepaalde tekste waarop hulle hulself beroep, en dan lyk dit so Bybels om dit te doen. Terselfdertyd word die treurige toestand van die kerk hanteer as ’n sogenaamde bewys daarvan dat die kinderdoop ’n valse soort Christelikheid kweek. Die gevolg is dat mense wat graag ernstige Christene wil wees, voor die kritieke vraag gestel word of hulle nie ook hulleself moet laat herdoop nie. Juis die teenstand van die kant van die kerk daarteen kan dan weer hanteer word as ’n sekere uitdaging om dit wel te doen.
Met die oog op hierdie situasie is dit goed dat ons probeer om ’n paar nugter opmerkinge oor die saak te maak. Dit is nie my bedoeling om die erns van Christene wat só redeneer, in twyfel te trek nie. Maar dit is wel my bedoeling om te probeer om duidelik te maak dat daar met die beslissing vir die volwassedoop en die verwerping van die kinderdoop meer saamhang as wat mense besef. Dit gaan nie maar net om die doop nie. Dit gaan om ’n ander soort geloofsverstaan as dié van die kerk, om ’n ander vroomheidstipe, om ’n ander belydenis, om ’n ander tipe kerk-wees as dié van die kerk. Daarom kan die kerk dit nie maar ignoreer of vergoelik, asof dit niks is nie. Die kerk kan mense nie maar toelaat om hulleself as volwassenes te laat doop, sonder om indringend met hulle daaroor te onderhandel nie, want dit is nie maar ’n onskuldige saak nie. Juis omdat soveel aspekte van die Christelike geloof daardeur geraak word, kan die kerk nie daaroor swyg nie.
’n Ander soort lees van die Bybel
Die eerste wat ek wil sê, is dat hierdie standpunt inhou dat ’n mens die Bybel op ’n ander manier begin lees as die kerk deur die eeue dit gelees het. Niemand van ons lees die Bybel alleen nie. Ons lees dit altyd binne ’n gemeenskap. ’n Mens leer die Bybel – as dit ten minste goed gaan – in jou ouerhuis lees en verstaan, en dit beteken prakties: binne die gemeente. Maar as ’n mens om welke rede dan ook die Bybel in jou ouerhuis nie werklik reg leer lees het nie en jou katkisasie sleg verstaan het en jy kom later in aanraking met mense wat die Bybel uit ’n ander gesigshoek lees as die kerk, kan dit maklik gebeur dat hulle jou daarvan oortuig dat jy nog nooit die Bybel reg gelees het nie. Ongelukkig is dit wat met baie van ons lidmate gebeur. Dat so baie lidmate van die kerk hulle vandag aangetrokke voel tot allerlei bewegings buite die kerk, is in groot mate die skuld van die kerk self. Ons het nie daarin geslaag om ons lidmate te leer om die Bybel goed en reg te lees nie, en nou leer andere hulle om dit op ’n ander manier as die kerk te lees.
Spesifiek wat die verwerping van die kinderdoop betref, is dit duidelik dat dit saamhang met ’n ander hantering van en visie op die Skrif. Met name die eenheid van die Skrif word prysgegee. Ou en Nuwe Testament word uitmekaar geskeur, of in elk geval nie meer in verband met mekaar gelees nie. In die geskiedenis is die Ou Testament dikwels deur Doperse groepe as ’n Joodse boek gesien, wat die verstaan van die Nuwe Testament nie wesenlik beïnvloed nie. Die Bybeltjie van Dopers is soms baie klein. Dit bestaan hoofsaaklik uit die tweede hoofstuk van Handelinge en 1 Kor. 12 en 14. In elk geval is hierdie gedeeltes die lens waardeur die Bybel bekyk word. Die Ou Testament kom dan maar sleg daarvan af. Maar dan word vergeet dat die Bybel ’n eenheid vorm en dat die NT sonder die OT nie net onvolledig is nie, maar ook in groot mate onverstaanbaar.
Sonder die OT verstaan ’n mens nie ten volle die manier waarop God by die opbou van sy gemeente te werk gaan nie. Uit die OT weet ons dat God nie net met los individue ’n verhouding aangaan nie, maar met sy volk, wat opgebou is uit gesinne. Die ouers met hulle kinders hoort vir God saam in die opbou van sy volk. Dit is trouens waaroor dit onder meer in die konsep van die verbond gaan. Maar die Dopers van alle eeue het geen gevoel vir die werklikheid van Gods verbond nie. Hulle mis die orgaan om te verstaan dat God van die begin af die kinders in sy verbond en gemeente ingesluit het en die belofte ook aan hulle gegee het (vgl. Hd. 2:39). Hulle kan nie eintlik verklaar waarom Petrus op die Pinksterdag so duidelik beklemtoon dat die belofte van die Heilige Gees “vir julle en vir julle kinders” is nie.
Wie homself laat herdoop, moet dus begryp dat hy daarmee die Bybel op ’n ander manier as die Christelike kerk deur die eeue lees, en as gevolg daarvan die eenheid van die Bybel en die verbondstruktuur as basis van daardie eenheid prysgee.
’n Ander kyk op die kerk
Maar daarmee hang ’n tweede ding saam: die Dopers het ook ’n ander kyk op wat die kerk is. Hulle kan die kerk maar net sien as die vergadering van bewuste volwasse individue wat elkeen ’n persoonlike beslissing gemaak het. Maar dit is nie hoe die Bybel oor die kerk praat nie. Die Bybel sien die kerk as ’n verbondsgemeenskap: die gelowiges en hulle kinders; Christelike gesinne, die volk van God. So was dit in die OT, en so is dit ook in die NT. Indien die Dopers gelyk het, is daar ’n volkome breuk tussen die Ou en die Nuwe Testamente, en beteken dit dat die heil in die NT minder is as in die OT. Toe het God nog die kindertjies laat deel in die beloftes van God en sy toesegging van verlossing, maar in die NT sou dit nie meer die geval wees nie. In hierdie opsig is die Dopers ’n produk van die moderne tydsgees wat gedra word deur die individualisme, maar dit is iets anders as die wyse waarop die Bybel oor die volk van God praat.
Gewoonlik stel die Dopers dit voor asof hulle volgens die letter van die Bybel handel, terwyl die kerk allerlei dinge daaraan toevoeg. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Hulle standpunt is nie sonder probleme nie. So het hulle met name ’n groot probleem met die vraag wat die posisie van die kindertjies van die gelowiges is. Die kerk het deur die eeue op grond van die Bybel geglo dat die kinders deel het aan die erfsonde en dat hulle volgens Romeine 5 van nature kinders van die toorn is en nie gered kan word nie, tensy hulle in Christus in genade aangeneem word. Die gereformeerde kerke glo dat die kindertjies van gelowige ouers in die verbond van Gods genade ingesluit is en daarom deel het aan die belofte dat Christus ook vir hulle sonde gesterf het. Maar omdat die Dopers nie die leer van die verbond wil aanvaar nie, het hulle ’n probleem. As hulle die leer van die erfsonde aanvaar, moet hulle ook aanneem dat alle kindertjies verlore is, totdat hulle volwassene genoeg geword het om die Here Jesus deur die geloof aan te neem. Maar dit wil hulle nie graag doen nie. Baie Dopers gee daarom maar liewer die leer van die erfsonde prys en beweer dat kindertjies nie sonde het nie en daarom nie verlore sal gaan as hulle jonk te sterwe kom nie. Hulle is, soos ’n pastoor van die AGS eenkeer aan my gesê het, reins-bloedjies. Maar dan is die vraag tog watter Skrifgrond hulle daarvoor het. Wanneer en hoe kry kindertjies dan deel aan die algemene sondigheid van die menslike geslag? Soms aanvaar hulle dat daar ’n algemene genade is waaraan alle mense deel ontvang as hulle nog nie tot hulle verstand gekom het nie – iets waarvoor daar ook geen Skrifgrond is nie. Maar wat hulle nie wil doen nie, is om te aanvaar dat die verbondstruktuur van die Ou Testament nog steeds in die NT geldig is. Hulle wil nie aanvaar dat kinders deel is van die kerk nie. Hulle wil nie aanvaar dat die belofte van God vir ons en ons kinders is nie, soos Petrus in Handelinge 2:39 sê. Hulle kan nie aanvaar dat die kerk ’n verbondsgemeenskap is wat nie gekonstitueer word deurdat ’n aantal los individue op grond van hulle geloof saam ’n gemeente vorm nie, maar wat gevorm word deur die gelowiges en hulle kinders.
Wie hom- of haarself dus laat grootdoop, moet besef dat hy/sy daarmee sy/haar doop as kind verag, prysgee en verloën, die verbondstruktuur van die heil verwerp, en die gemeente sien as slegs bestaande uit volwasse, welbewuste individue wat op grond van hulle geloofskeuse tot die kerk behoort.
’n Ander verstaan van die heil (verlossing)
Maar dit hang weer daarmee saam dat die heil ook deur die Dopers anders verstaan word as wat die kerk dit verstaan. Vir die kerk is die verlossing of heil heeltemal ’n geskenk van God. Dit is eenmaal volkome in Christus gegewe. Daar, op Golgota, is ons verlos. Daar, in die graf van Josef, is ons opgewek in ’n nuwe lewe. Wat gebeur in ons eie hart, in ons wedergeboorte, geloof en bekering, is die vrug van die werk van die Heilige Gees, en dit bestaan daarin dat ons ontvang, aanneem, omhels wat reeds op Golgota al bewerk is. Reeds daar was ons saam met Christus in die blikveld van God. Die groot beslissing oor ons heil val nie in ons bekering nie, maar het reeds op Golgota geval en in die tuin van Josef. Lees maar die Bybel, en u sal sien dis waar.
Maar dit is nie hoe die Dopers dit verstaan nie. Volgens hulle het Jesus deur sy dood en opstanding vir ons slegs die moontlikheid verkry om gered te word, maar daardie moontlikheid moet nou deur onsself gerealiseer word. Alles hang van ons keuse af, van ons beslissing, ons bekering, ons toe-eiening van die heil. Dit is ’n enorme verskuiwing van aksent. Die mens kom in die middelpunt te staan, nie God in Christus nie. Die mens se redding is sy eie keuse, nie die vrug van Gods werk nie. Agter hierdie verskil sit die groot stryd van die kerkhervorming, of verlossing werklik net genade is, en of dit genade plus my bydrae is. Alles wat in die loop van die eeue gestry is oor die uitverkiesing en die genadevolle beskikking van God oor ons lewe hang hiermee saam.
Wie homself dus laat grootdoop, moet die implikasies daarvan verstaan. Dit gaan om veel meer as die wyse van doop. Dit gaan om ’n verskillende kyk op die aard van die heil en die aandeel van die mens self daarin. Die kern van die belydenis van die Reformasie, nl. dat die verlossing enkel uit genade is, word nie ten volle verstaan nie. Die geloof word nie reg verstaan, as enkel maar die ontvangs van wat God gee nie, maar as die mens se beslissende bydrae tot die heil.
’n Ander verstaan van die sakrament
Maar die voorstanders van die doop na belydenis het ook ’n ander verstaan van die sakrament as wat in die reformatoriese kerke aan die orde is. Dit was altyd al so, van die tyd van die Reformasie af, toe die Dopers reeds die doop verstaan het as ’n menslike daad van gehoorsaamheid, en nie as ’n teken en seël van Gods beloftes wat aan die gedoopte geskenk word nie. Die doop is vir Dopers ’n teken en seël van ons keuse, ons bekering; die bevestiging van ons belofte om van nou af vir die Here te lewe. Volgens die Reformasie is die doop die sakrament (teken en seël) van wat Christus al klaar vir die gedoopte gedoen het, voorafgaande aan sy/haar geloof of bekering, en is die bevestiging en seël wat verbonde is aan die Woord van Gods belofte. Maar by die Dopers word al die klem gelê op die menslike daad, die menslike geloof as die kern van die doopgebeure. Daardeur word die doop by hulle feitlik heeltemal mens-gesentreerd, en die hoofsaak is wat die gelowige doen om sy/haar inwendige besluite en ervarings sigbaar te maak en te bevestig. Doop word ’n bewys van die self-toewyding, die self-oorgawe van die dopeling aan Christus. Dit is ’n daad van toewyding waarin die dopeling se gedagtes, emosies en bedoelings die hoofsaak is, nie die beloftes van God nie.
As ’n mens ’n gesprek met Dopers voer, sal jy altyd van hulle hoor dat hulle die doop verstaan as ’n daad van gehoorsaamheid aan die bevel van Christus en die apostels; dat dit die geleentheid is waarby die gelowige sy/haar geloof openlik bely en bevestig; dat dit die daad is waardeur die gelowige homself/haarself aansluit by die gemeente van ware gelowiges; dat dit ’n daad van navolging van Christus is wat in die Jordaan gedoop is; dat die gelowige deur die doop bevestig dat hy/sy afstand doen van die ou lewe en nou in ’n nuwe lewe wil wandel. Maar is dit nog wat die doop volgens by Romeine 6 is? Is die belydenis van die doop deur die Reformatoriese kerke nie in hierdie opsig duidelik meer Bybels nie?
As iemand homself of haarself as volwassene laat oordoop, moet hulle besef dat hulle daarmee ’n ander opvatting van wat die doop is, aanvaar het, en dat hulle oor die doop meer as ’n menslike handeling dink as dat hulle dit as ’n goddelike handeling aan ons verstaan.
’n Ander kyk op die wese van ons Christenskap
Vir die Protestantisme is die Christelike lewe in eerste instansie ’n lewe uit die geloof, ’n vashou aan die beloftes van God. Maar vir die Dopers is dit in eerste instansie ’n lewe uit die ervaring van hulle eie geestelike vernuwing en verandering. Die Dopers verstaan ’n sakrament as die uitwendige uitdrukking van ’n innerlike ervaring van bekering en toewyding. Die innerlike ervaring van die mens word sonder meer gelyk gestel met die werk van die Gees. Menslike emosies, ingewings en gedagtes word direk aan die Heilige Gees toegeskryf. Dit kan meebring dat mense baie vrymoedig is om voortdurend van hulle eie ervarings met die Here en hulle intimiteite met die Heilige Gees te vertel, en dat in die proses dikwels hulle eie gevoelens en gedagtes met die werk en leiding van die Gees vereenselwig word. In die teologie word hierdie verskynsel as subjektivisme beskryf. Maar dit bring mee dat mense naderhand hulle sekerheid bou, nie op die Woord en beloftes van God en op wat Christus vir ons gedoen het nie, maar op hulle eie ervarings en belewings.
Dit spreek vanself dat dit kan meebring dat mense baie trots kan word op hulle ervarings; dat hulle altyd weer graag hulle eie verhaal van bekering en heiliging vertel; dat hulle mense se storie oor hulleself ’n belangriker bewys van Christenskap ag as hulle getuienis aangaande Christus en sy beloftes ens. Dit sal sekerlik nie altyd die geval wees nie, en ’n mens hoop dat dit maar in ’n minderheid van gevalle so sal wees, maar dit kan baie maklik gebeur dat mense se groot vreugde in hulle nuutgevonde Christenskap meer te make het met ’n uitbou van hulle eie ego as met ’n vreugdevolle ontdekking van hoe groot en ryk, hoe breed en diep die liefde van God in Christus is.
Ons moet altyd onthou wat die Bybel ons leer, dat die hart bedrieglik is bo alle dinge, en dat dit vir ons baie moeilik is om dit te ken. Juis ons eie hart kan ons so moeilik ken, asook die motiewe wat dit beweeg. Wie alle klem in die Christenskap op eie ervarings laat vat en nie op die objektiwiteit van die heil in Christus nie, loop dikwels die gevaar op ’n ander plek uit te kom as waar hy graag wil wees: selfverheerliking in plaas van die verheerliking van Christus.
Wie homself/haarself groot laat doop, moet baie seker daarvan maak dat dit nie ten diepste om ’n daad gaan waarin dit meer om die self, as om die ware gehoorsaamheid aan God in Christus gaan nie.