Die laaste woord

DIE LAASTE WOORD
Die Burger, 16 April 1994

Die huidige situasie in die land wek ongetwyfeld by talle mense ’n gevoel van onsekerheid en vrees. Dit is begryplik. Die toekoms is nie alleen onbekend nie, maar in die lig van die geweld, wetteloosheid, weersinwekkende wyses van optrede en die klaarblyklike gebrek aan die soort deugde wat vir ’n demokrasie nodig is om te kan slaag, is dit net begryplik dat talle mense ongelukkig en selfs bitter voel.

Weer eens: dit is begryplik. Tog is dit nie goed genoeg vir Christene om hulself daarop blind te staar nie. Want as ’n mens toelaat dat jou hart vervul word met teleurstelling, afkeer en veral wanhoop, sal jy in hierdie situasie geen deel van die oplossing van die land se probleme vorm nie, maar deur jou negatiwiteit net die gewig daarvan verswaar.

Dit kan in sulke omstandighede goed wees om te onthou dat die slegte dinge wat daagliks gebeur, wel verskriklik is, maar dat dit tog nie die enigste is wat van die situasie in hierdie land gesê kan word nie. Daar is tog nog steeds die groot meerderheid van mense wat ’n sin vir waardes het, wat werklik vrede begeer, wat voortgaan met hulle verantwoordelikhede, wat reg en geregtigheid wil sien seëvier, en wat goed genoeg opgevoed is om te help keer dat alles in chaos verval.

Maar daar is meer. Daar is in hierdie land ook ’n onbekende aantal Christene vir wie hulle geloof in God meer as ’n formaliteit is en wat daagliks met God oor die situasie onderhandel. Hulle bring nag en dag voor Hom die situasie in herinnering. Hulle is genoegsaam bewus van die ingewikkeldheid van die situasie om te besef dat hulle nie aan God kan voorskryf hoe Hy die geskiedenis moet lei en wat presies moet gebeur nie.

Hulle weet dat God wat oor die geskiedenis regeer, ook sy oordeel en gerig oor die geskiedenis laat heengaan. Die geskiedenis van die wêreld is in ’n bepaalde sin die geskiedenis van die gerig van God oor die sonde. Op duisende maniere bloei die wêreld uit die wonde wat die mense in hul sondigheid hulself in hul ontrou teenoor God en mekaar toedien. God laat verskriklike dinge toe waarvan ’n mens die sin nooit kan peil nie. ’n Mens moet maar die profete van die Ou Testament lees om te sien hoe ook hulle daarmee geworstel het.

Maar terselfdertyd weet Christene ook dat God die geroep, die smeking, die pleitstem van sy kinders nie verag nie. Hy is die almagtige. Hy kan uit die kwaad die goeie gebore laat word, uit die duisternis die lig voortbring, deur alle sonde en onreg heen sy reg laat triomfeer. En Hy het die laaste woord. Daarom moet ’n mens jou hart in jouself tot vrede bring. Die geskiedenis is meer as die gerig van God. Dit is ook die geskiedenis van sy genade en lankmoedigheid. ’n Oomblik is daar in sy toorn, ’n lewe in sy goedgunstigheid (Psalm 30:6).

Oor ’n aantal jare verder sal dit miskien eers duidelik word hoe God ook in hierdie verwarde tyd deur alles heen die gebede van sy kinders verhoor het. Hy het die laaste woord. Die geskiedenis sal uiteindelik nie bepaal word deur outomatiese gewere en bomontploffings, haat en nyd, verwoesting en siniese moordlustigheid nie, maar deur die Een wat op die troon sit en deur die Lam, wat alleen waardig is om die boek van die geskiedenis oop te maak en die verhaal van Gods liefde, trou en oorwinning daarin te lees (Openbaring 5). – WDJ