MATELOSE ERBARMING
Die Burger, 17 September 1994
Daar bestaan ’n unieke linosnee – deur PG Hodgell – van Christus en die blinde man. Dit is, soos die moderne kuns dikwels is, nie bedoel om op ’n portretagtige wyse ’n skets van die toneeltjie te bied nie. Dit is bedoel om iets oor te dra, iets in beeld te bring van wat daar tussen Christus en die blinde man gebeur het.
Daarom is die skets in meer as een opsig buite proporsie, maar juis daardeur word die boodskap wat dit bring, met soveel krag aan die kyker oorgedra. Trouens, wat ’n mens direk opval, is juis die disproporsie van die figure.
Die bedelaar sit op die grond voor Jesus, met sy kop agteroor gebuig en sy oë omhoog. Sy figuur is vol spanning, net een stuk behoefte, een stuk gebed. Hy het prakties geen skouers nie en sy maer lyf eindig in twee knokkelrige bene en kaal voete, half onder hom ingevou op die klipperige grond.
Maar dit is sy hande wat die groot aksent ontvang. Hulle is buite verhouding groot, na Jesus opgehef en één-en-al smeking. ’n Mens kan nie daarna kyk sonder om geraak te word deur die diepe begeerte wat daaruit spreek nie. Trouens, die hele figuur is ’n toonbeeld van verwagting, een strak lyn van behoefte wat op Jesus gerig is.
En dan Jesus. Hy staan geboë oor die blinde man. Ook sy kop en hande is buite proporsie groot, en alle aandag word toegespits op sy deernisvolle toewending tot die man wat voor hom op die grond sit. Alle lyne loop na sy uitgestrekte hand en vingers wat op die blinde man se oë rus. Want dáár is die nood, die gebrek, die behoefte. Dit is juis daar waar Jesus hom met sy genesende liefde aanraak.
Dit is moeilik om na hierdie toneel te kyk, sonder om bewoë te word. Waarom sou die kunstenaar dit gemaak het? Wat het hy self ervaar en wat wou hy met sy werk oordra? Dit kan kwalik iets anders wees as dat hyself diep onder die indruk was van die wyse waarop Jesus homself in matelose deernis neergebuig het na die leed en ellende van die mense om hulle aan te raak juis dáár waar die wondplek is.
Maar waarom word ’n mens self bewoë as jy daarna kyk? Omdat jy self ook ’n wondplek het en diep-in begeer dat Jesus ook jou moet aanraak. Daar is soveel dinge waaraan jyself in magteloosheid niks kan doen nie. Jy kan daarmee maar net na God vlug en jou voor Hom uitstrek in jou nood soos die blinde man van Jerigo, En jy kan maar net vra dat Jesus sy hand presies daar sal lê waar die pyn is. Maar miskien is daar nog ’n rede waarom hierdie toneel tot ’n mens spreek. Dit is dat ’n mens besef dat daar mense rondom jou is wat gebuk gaan onder leed, hartseer of ’n skuldgevoel. Dikwels gaan jy aan hulle verby sonder om hulle nood raak te sien.
Tog is dit die bedoeling dat ’n Christen iets van die matelose erbarming en deernis van Jesus moet besit en na ander mense met liefde moet kyk en nie met afkeer nie. Te dikwels betrap ’n mens jouself daarop dat jy met hardheid oor ander oordeel en eenvoudig aan hulle nood verbygaan. – WDJ