Blydskap en vrede

BLYDSKAP EN VREDE
Die Burger, 18 September 1993

By die lees van sy briewe word ’n mens getref deur die wyse waarop Paulus daarin geslaag het om in die moeilikste omstandighede positief te bly.

Daarom was hy ook in staat om sy gemeentes aan te moedig om te midde van hulle eie stryd en swaarkry blymoedig te wees en innerlike vrede te smaak.

Sy brief aan die Filippense is byvoorbeeld vanuit die gevangenis geskrywe. Tog getuig dit deurgaans van die innerlike rus, vreugde en dankbaarheid wat sy hart vervul het. Ook roep hy die gemeente meermale daartoe op om bly te wees (2:18; 3:1; 4:4).

Wat daarby opval, is dat hy hulle vermaan om bly te wees in die Here (4:4). ’n Mens kan vra: Hoe dan ook anders? As ’n mens bly moet wees ondanks die feit dat so baie dinge teen jou is en jou vreugde van alle kante bedreig, kan jy alleen nog maar “in die Here” bly wees. Dit is nie die soort blydskap wat die vrug van voorspoed of natuurlike opgewektheid is nie, maar dis ’n vrug van die Gees (Galasiërs 5:22). Dit is die resultaat daarvan dat ’n mens jou werklik oor en aan die Here verheug, ondanks al die dinge wat jou van jou blydskap wil beroof.

Egte Christelike blydskap is gegrond in wat die Here is en doen, nie maar net in die goeie dinge wat op aarde met ’n mens gebeur nie. Vir Paulus was dit ’n geloofswaarheid dat sy hele lewe in die liefde en sorg van Christus toegevou is. Daarom het selfs die dood vir hom alle verskrikking verloor, want dit is ’n “heengaan om met Christus te wees” (1:23). Wie so oortuig is daarvan dat hy/sy in Christus geborge is en in lewe en sterwe aan Hom behoort, kan met reg bly wees.

Tot hierdie selfde blydskap wil hy sy gemeente ook lok. Daarom vermaan hy hulle om vry te word van hulle aardse sorge en vrees en hulle hele lewe onvoorwaardelik aan die Iiefde van Christus toe te vertrou. Niks op hulle weg is te gering om deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend gemaak te word nie. En wie dit doen, sê Paulus, sal vind dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, in Christus Jesus die wag oor sy of haar hart sal hou (4:7).

Dit is tog iets merkwaardigs dat ’n Christen nie onrustig of opgejaag hoef te wees nie, selfs al is daar baie redes waarom dit so sou kon wees. Die geheim daarvan is dat God in die gelowige ’n afglans bring van sy eie ewige vrede. God is nie onrustig of opgejaag nie. Hy ken sy tyd. Hy is seker van sy ewige triomf oor die bose. Hy besit die ewige vrede. En dit is daardie vrede van God wat deur die Heilige Gees ook die hart van die gelowige omsluit en dit tot vrede bring. Daarom kan dit ’n vrede heet wat alle verstand te bowe gaan. Dit beteken: dit is ’n vrede wat ’n mens eintlik nie kan verstaan nie. ’n Mens kan jouself deur die geloof – ondanks alles – volkome aan God toevertrou en so in sy vreemde vrede deel. By God is alles reg, selfs al lyk alles vir ’n mens verkeerd. – WDJ