Dag van versoening

DAG VAN VERSOENING
Die Burger, 16 Desember 1994

Dit moet gewaardeer word dat die nuwe kalender vir openbare vakansiedae ’n bepaalde kontinuïteit met die verlede vertoon. Met name die handhawing van die Christelike feeste moet verwelkom word. Dit gee erkenning daaraan dat die meerderheid van die bevolking die Christelike geloof aanhang. Mag die geestelike en morele klimaat in die land bevestig dat dit werklik die geval is!

Dit is in hierdie verband ook sinvol dat 16 Desember as openbare vakansiedag gehandhaaf word·– weliswaar nie meer onder die naam van Geloftedag nie, maar as Versoeningsdag. Die handhawing daarvan in die nuwe bedeling is op sigself ’n versoenende gebaar teenoor die Afrikaners. Die naamsverandering dui egter daarop dat ’n verbreding van die betekenis van die dag beoog word, sodat dit ’n meer inklusiewe karakter kan verkry.

Daarteen behoort Afrikaners geen beswaar te hê as hulle die oorspronklike godsdienstige betekenis van die viering van 16 Desember in gedagte hou nie. Die Voortrekkers het onderneem om as God hulle gebed sou hoor en aan hulle oorwinning sou gee in ’n geveg wat hulle nie gesoek het nie, die dag as ’n dankdag en Sabbat te vier en ’n kerkgebou tot sy eer op te rig.

Die spits van dié·viering is dus dankbaarheid teenoor God vir sy bewaring en genadige beskikking. Dit was nooit die bedoeling dat dit ’n dag sou wees waarop die uitredding by Bloedrivier gevier moes word as bewys daarvan dat God met die Afrikaners, soos met Israel, ’n verbond gesluit het nie. So is dit soms – ook van buite Afrikanergeledere – misverstaan. Dan sou dit die bodem kon vorm vir religieuse nasionalisme, wat op sigself nie iets Christelik is nie en deur die geskiedenis as gevaarlik bewys is.

Wanneer Afrikaners op 16 Desember die bewaring by Bloedrivier gedenk, doen hulle dit met dankbaarheid teenoor God, omdat die gebeurtenis geweldige gevolge gehad het, nie net vir die Voortrekkers en hulle direkte nasate nie, maar ook vir die Afrikanervolk in die geheel en indirek ook vir alle mense in die land. Wanneer dit reg verstaan word, kan die dag vir almal in die land betekenis hê en as ’n dag van versoening dien.

Daar kan immers nie ontken word nie dat die uitslag van die botsing by Bloedrivier ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis van die land was. Dit het die binneland vir die Voortrekkers oopgebreek. Mense wat draers van die Westerse beskawing en die Christelike geloof was, het ’n permanente deel van Afrika geword en met liefde en trots die naam van “Afrikaners” aanvaar. Dit het die land nie net toeganklik help maak vir die Westerse wêreld met sy wetenskap en tegniek sodat Suid-Afrika die mees ontwikkelde land van Afrika kon word nie; dit het die weg geopen vir die vestiging van ’n Christelike kultuur en etos in die land, sowel as vir die kerstening van die inheemse bevolking, sodat die aantal swart Christene in die land vandag die aantal wittes ver oortref.

Uit die kwaad van die stryd en die bloed wat by Bloedrivier gevloei het, is daar dus deur Gods genadige beskikking, vir al die mense van die land veel goed gebore. Die vyandskap en bitterheid van destyds moet nie net vanweë die tydsverloop gaan lê nie, maar hopelik ook omdat die insig gegroei het dat Gods leiding in die geskiedenis mense uit verskillende volke en agtergronde hier saamgebring het met die roeping om sy Naam te verheerlik deur die wyse waarop hulle saam woon en mekaar dien.

Die 16de Desember word tans onder totaal ander omstandighede as in die vorige eeu herdenk. Die gevare is vandag nie minder as destyds nie, eerder meer en groter, maar tog van ’n ander karakter. Dit gaan tans nie om ’n militêre konflik tussen Zoeloes en Boere nie. Die stryd gaan vandag om die vestiging van ’n gemeenskap van volke en volksgroepe met ’n gemeenskaplike nasionale lojaliteit wat mekaar se identiteit respekteer en verantwoordelikheid aanvaar vir die stryd teen geestelike verwording en sedelike verval, – teen versinking in die moeras van onkunde en armoede, wreedheid en geweld.

Onder hierdie omstandighede moet daar ’n front gevorm word van mense wat, oor alle volks- en kultuurgrense heen, na God opkyk om hulp. Christene en alle mense van goeie wil in die land moet die hande na mekaar uitsteek om saam te staan in die stryd teen die gevare van hierdie uur en ’n versoenende mag vorm teen die chaos wat die land bedreig.

Die dag kan vir die hele land van betekenis wees as Christene onthou dat dit uiteindelik nie die bloed van Bloedrivier is nie, maar die bloed van die Kruis wat vir die toekoms beslissend sal wees. Alleen daardeur is versoening en die triomf van die koninkryk van God moontlik – óók in ’n verdeelde land. – WDJ