Die sin van die wet

DIE SIN VAN DIE WET
Die Burger, Datum onbekend

Dit is opmerklik dat daar in die Nuwe Testament herhaaldelik gesê word dat
die hele wet van God in die liefdesgebod saamgevat word. Die mees bekende plek waar dit gesê word, is Matteus 22:37-40. Maar dit word ook uitgespel in gedeeltes soos Romeine 13:8-10, Galasiërs 5:14 en Jakobus 2:8-11.

Veral laasgenoemde gedeelte is besonder insiggewend. Daar gebruik die apostel die waarheid dat die liefde die vervulling van die hele wet is, om daarop te wys dat ’n mens wat een van die gebooie van die wet oortree, aan die hele wet skuldig geword het.

Letterlik sê hy: “As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”, het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie”. As jy nou nie egbreuk pleeg nie maar wel moord, is jy tog ’n oortreder van die hele wet.”

Sy redenasie is duidelik: Die feit dat die hele wet in die gebod van die liefde saamgevat kan word, beteken dat die liefde die sin van elke afsonderlike gebod en van al die gebooie gesamentlik is. Eintlik is daar maar net een gebod, en dit is om die naaste altyd lief te hê en met liefde te behandel. Die afsonderlike gebooie is slegs die verskillende kante wat die liefdesgebod kan aanneem. In al die gebooie gaan dit egter net om een ding, en dit is die liefde.

Maar daarom kan die onderhouding van die wet nie gekwantifiseer word nie. Die liefde is nie deelbaar nie. ’n Mens handel in liefde of jy handel nie in liefde nie. Jy kan nie met genoegdoening vasstel dat jy darem sekere van die tien gebooie onderhou het, maar net enkele ander oortree het nie. Al sou jy selfs al die gebooie onderhou, maar net een oortree, het jy tog die gebod van die liefde oortree, en dit beteken dat jy die hele wet oortree het.

Hierdie verduideliking van Jakobus deurkruis eenvoudig ons oppervlakkige moralisme. Te dikwels redeneer ons dat ons nou wel nie dit of dat doen wat God gebied nie, maar dat ons darem nie sulke groot sondaars is nie, omdat ons tog darem ander dinge doen wat goed is. Jakobus wil ons leer dat die liefde ’n totale gebod is wat in sy geheel verbreek word as ons teen die liefde sondig. Die feit dat ons dit selektief doen, neem niks daarvan weg dat ons ten diepste nie is wat die wet van ons vra om te wees nie, omdat ons aan die sin van die wet ongehoorsaam is.

Jakobus gebruik hierdie uiteensetting om aan die gemeente duidelik te maak dat hulle nie teen arm en onaansienlike mense moet diskrimineer of hulle moet minag nie. Hulle mag dan in ander opsigte so vroom wees as hulle wil, maar in werklikheid het hulle, deur maar net te handel in ooreenstemming met wat in hulle gemeenskap algemene praktyk is, tog aan die hele wet skuldig word. Want wie in een opsig teen die liefde sondig, het daarmee die ganse wet oortree. – WDJ