Volkome verlossing

VOLKOME VERLOSSING
Die Burger, Datum onbekend

Daar word dikwels gesê dat die moderne mens nie meer aan die wonders van die Bybel kan glo nie. Sy werklikheidsbeeld sou heeltemal anders as die van die Bybelse tyd wees. Daarom kan hy nie meer aanvaar dat dinge in die heilsgeskiedenis kon gebeur het wat vandag nie meer gebeur of selfs voorstelbaar is nie.

Die toppunt van hierdie onvoorstelbare dinge is die opstanding van Christus uit die dood. Daarom wil talle moderne mense nie meer aanvaar dat Christus liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. In die evangelie vorm dit egter so ’n sentrale element van die boodskap, dat Paulus kan redeneer dat wie dit verwerp, daarmee die evangelie as sodanig prysgee (1 Korintiërs 15). Daarmee staan en val die boodskap van die totale verlossing wat God nie net vir ons geestelike nie, maar ook vir ons liggaamlike bestaan bedoel.

Daarom is dit begryplik dat daar baie moderne teoloë is wat probeer om die opstanding van Christus nie prys te gee nie, maar dit tog op ’n manier te interpreteer wat die aanstoot daarvan vir die moderne mens kan verminder. So word onder meer gesê dat Christus wel nie liggaamlik opgestaan het nie, maar slegs geestelik.

Daarmee word dan bedoel dat die dissipels na die dood van Christus sy geestelike teenwoordigheid by hulle ervaar het, dat sy boodskap vir hulle nuwe betekenis gekry het, en dat hulle aan hierdie werklikheid uitdrukking gegee het in die mitiese verhaal dat Hy uit die graf opgestaan het. Soms word gesê: Christus het in die geloof of in die boodskap van sy dissipels opgestaan.

Wie dit sê, besef natuurlik daarmee dat hy die bedoeling van die Bybelse berigte oor die opstanding van Jesus prysgee. Maar daarmee word veel meer prysgegee. Wat is byvoorbeeld die boodskap van Jesus as die opstanding daaruit weggehaal word? Eindig diegene wat die opstanding prysgee, nie noodwendig met ’n verskraalde evangelie nie? As Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie, is Hy nog Here oor die dood?

Wie ’n kritiese houding teenoor die opstanding inneem, is daarmee krities teenoor die hele Bybel en werk met ’n geslote wêreldbeeld waaruit alle wonderdade van God eintlik uitgesny moet word. Maar daarmee word die geloof in God per definisie verander. As ons God wil inperk binne die raamwerk van wat vir ons voorstelbaar is, het ons nie meer met die God van die Bybel te make nie. Maar in wat se God glo ’n mens dan?

Die opstanding was ook vir die apostels self en vir die eerste gemeente nie meer voorstelbaar as vir ons nie. En tog was dit die fondament van hulle evangelie. Wie die werklikheid van die liggaamlike opstanding van Jesus prysgee, gee daarmee die evangelie self prys, of hy dit so bedoel of nie. Daarmee gee hy ook die Christelike hoop prys, wat op die boodskap van die opstanding van Christus as die waarborg van ons eie salige opstanding rus. – WDJ