Om U Naam ontwil

OM U NAAM ONTWIL
Die Burger, Datum onbekend

Die uitdrukking: “om U Naam ontwil” behoort tot daardie uitdrukkings in die Christelike woordeskat waarvan die volle betekenis in die loop van die tyd vergete geraak het. Dit is byna soos met muntstukke waarvan die beeld deur veelvuldige gebruik verslyt geraak het, sodat dit skaars gesien kan word.

Dit word dikwels gebruik voor die afsluiting van die gebed en het daarom in die volksmond die gevoelswaarde gekry van ’n teken dat die gebed nou beëindig gaan word, sonder dat nog aan die betekenis daarvan gedink word.

Veral in die kindermond is “naamswil amen” soms ’n formule sonder duidelike inhoud, soos dit ook uitkom in die grappige gediggie van A.G. Visser oor die kinderlike advies aan die dominee om maar net “naamswil amen” te sê en dan te gaan sit. Iemand vertel onlangs dat hy as kind in ’n situasie van groot nood geen ander woorde vir die gebed kon vind nie, as net “naamswil amen”, maar dat hy tog uit die nood verlos is.

In werklikheid lê daar natuurlik ’n diepe betekenis opgesluit in die uitdrukking “om U Naam ontwil”. Ons kom dit in die Ou Testament teen as uitdrukking van die innige verhouding tussen God en sy volk Israel. God het Homself in sy liefde so innig aan sy volk verbind, dat die eer van sy Naam gemoeid is met wat met Israel gebeur.

As Israel sou ondergaan, as Israel nie van sy vyande verlos sou word nie, as Israel nie uit die sonde bevry sou word nie, dan sou gevra kon word: Waar is dan hulle God? Die heidene sou die Naam van God belaster deur te sê: Die God van Israel was nie in staat om die volk wat Hy verkies het, te red en te bevry nie. Die smaad van Gods volk sou dan ook tot ’n smaad vir sy Naam word.

Daarom hanteer die gelowiges in die Ou Testament, veral ook in die Psalms, die beroep op die Naam van God as ’n pleitgrond. Help ons om U Naam ontwil, pleit hulle dan. Ook God self sê by monde van die profeet aan Israel: Ek sal julle verlos, maar ek doen dit nie om julle ontwil nie; Ek doen dit om my Naam ontwil (Esegiël 36:20-32).

Christus leer sy dissipels om in sy Naam te bid. Dit beteken dat ’n beroep op God gedoen word om ter wille van sy liefde wat Hy in Christus geopenbaar het en dus ook ter wille van die volmaakte versoening wat Christus vir ons bewerk het, ons gebed te verhoor. Eintlik sê ons: Verhoor ons gebed omdat wat ons vra, deur Christus vir ons verkry is en deur sy liefde vir ons bedoel is.

’n Hoër pleitgrond is daar nie. Daarom kan hierdie woorde alleen met die grootste eerbied en in heilige erns op ons lippe geneem word. Dit verg geloofsmoed om vir God te sê dat ons saak eintlik sy eie saak is en dat Hy daarom moet hoor. Maar dit verg ook selfondersoek, want ons kan dit tog eintlik net sê as ons weet dat wat ons vra, in ooreenstemming met die geopenbaarde wil van God is. – WDJ