Skaamte of berou

SKAAMTE OF BEROU
Die Burger, ongedateer.

Swart teoloë uit Afrika is dit daaroor eens dat Afrika, soos hulle dit uitdruk, ’n kultuur van skaamte het, nie ’n kultuur van skuld nie. Daarmee bedoel hulle dat die mens van Afrika vanweë sy natuurlike bindinge binne familie- en stamverband uiters gevoelig is vir·die goed- of afkeuring van sy mense. Sy groot vrees is dat hy deur iets wat hy doen in die skande kan kom deurdat sy stam sy dade sal afkeur. Miskien vrees hy ook dat hy skande oor sy familie of stam kan bring.

Hy dink nie soseer oor die vraag hoe hy deur God beoordeel sal word nie, want in die tradisionele Afrika-godsdiens word aan God meestal gedink as ver weg en nie direk betrokke by die daaglikse doen en late van die mense nie. Selfs as hy tot die Christelike geloof bekeer is, kan dit nog by hom nawerk sodat die skuldvraag in die sin waarin dit vir die Westerse Christen dikwels aktueel is, by hom op die agtergrond kan bly staan.

Op die oog af lyk dit asof Westerse mense in ’n volkome ander posisie verkeer. Hulle is baie meer individualisties as die Afrika-mens. In ons moderne en gesofistikeerde lewe lyk dit soms asof die begrip “skande” haas nie meer betekenis het nie. Baie mense steur hulle eintlik nie daaraan wat andere van hulle dink nie. Ons samelewing het so onpersoonlik geword dat die bindinge van die gemeenskap met betrekking tot ons sedelike gedrag, ’n geringe rol speel.

Tog is dit ’n vraag of Westerlinge werklik so ver van die Afrika-mens verskil as wat dit met die eerste oogopslag lyk. Dit kan dan waar wees dat die morele bindinge van die gemeenskap baie verflou het, maar tog is dit steeds so dat elkeen van ons wel ’n kring van mense het wie se opinie vir ons saak maak. Die vraag wat die mense sal sê, kan by ons steeds ’n baie groter rol speel as wat ons dink. Al sê ons ook met hoeveel bravade dat ons ons tog nie aan die opinie van mense steur nie, is dit heimlik in ons hart tog so dat ons nie graag ingaan teen die algemeen aanvaarde of gebruiklike binne ons groep nie.

En as teenkant daarvan geld dit ook weer dat ons dikwels meer bekommerd is oor wat ons groep van ons sal dink as oor wat God van ons dink. Baie keer het die pyn en wroeging wat ons voel oor iets wat ons gedoen het, minder te make met ons gevoel van skuld teenoor God as met die besef dat ons andere teleurgestel het of hul vertroue geskok het.

Dit kan net wees dat ons deur selfondersoek kan ontdek dat ons nie werklik berou het oor sondige dinge in ons lewe solank as dit nie rugbaar word nie, terwyl ons omgekeerd weer vreeslik sleg kan voel oor dinge wat ons gedoen het wat voor God reg is, maar wat andere aanstoot gee. Miskien is dit maar algemeen menslik om meer bekommerd te wees oor skande as oor sonde. Egte berou oor sonde is ’n skaars artikel. Net God kan egte verbryseling in ons werk. – WDJ