DIE FOUTE VAN DIE VALSE KONSERWATIEF
Beeld, ongedateer
Daar is ’n gevleuelde woord van president Paul Kruger wat nog steeds onder ons in omloop is en seker die moeite werd is om in die dae rondom 10 Oktober in herinnering geroep te word. Ek haal dit uit my geheue aan, en dan lui dit min of meer soos volg:
“Neem wat goed is uit die verlede en bou daarop vir die toekoms.”
In hierdie uitspraak word aan die verlede ’n groot waarde toegeken. Wie ’n toekoms wil bou, word daaraan herinner dat dit nie kan gebeur sonder om met die verlede rekening te hou nie. Wie ’n sin vir waardes het, sal weet dat daar uit die verlede ’n rykdom aan godsdienstige, morele en kulturele skatte aan ons oorhandig word wat nie oorboord gegooi mag word nie. Slegs ’n revolusionêr kan dink dat die wêreld met hom begin. Daar is so-iets as ’n gesonde konserwatisme wat die goeie uit die verlede wil bewaar en daarop wil bou vir die toekoms.
Tog moet ons daarop let dat Paul Kruger ook nie alles· uit die verlede wou bewaar nie. Net wat goed is uit die verlede moet bewaar word. So min as wat alles uit die verlede sleg was, so min was alles goed. Daar was ook baie lelike dinge in die verlede. Die voorstelling van die “goeie ou dae” toe alles nog·soveel wonderliker as vandag was,·is ’n hersenskim. Daarom mag ons nie kritiekloos teenoor die verlede staan nie. Die maatstaf van goed en kwaad moet ook ten opsigte van die verlede aangelê word.
Dit is die fout van elke vorm van valse konserwatisme – dat dit nie op die regte wyse krities teenoor die verlede is nie. Dit stel nie genoeg die vraag na goed en kwaad in die verlede nie. Dit probeer die indruk wek dat alles in die verlede goed genoeg was om vir alle tye bewaar te word. Of dit konserveer nie wat werklik goed is nie, maar wat om een·of ander rede voordelig is om behou te word.
Konserwatisme het sy slegte naam gekry van mense wie se drang om die verlede te bewaar, nie saamgehang het met ’n begeerte om die goeie te bewaar nie, maar met die selfsugtige drang om hulle eie bevoorregte posisie te beveilig.
’n Christen moet probeer·om uit die verlede te·bewaar “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is” – soos die Bybel ons dit leer waardeer (Filippense 4:8). Slegs dit bied bruikbare boustene vir die toekoms.·
Dit is immers nog ’n fout·van die valse konserwatief dat hy aan die verlede wil vashou. Paul Kruger se· woord wys ons egter·na die toekoms. Ons moet nie aan die verlede vashou nie , maar ons moet bou op dit wat goed was in die verlede, terwyl ons vol hoop ons oë na die toekoms rig. Die verlede mag ons nie beheers nie. Dit reik slegs bepaalde waardes aan wat ingemessel moet word in die nuwe·gebou wat elke geslag moet oprig. – WDJ