Die sonde

DIE SONDE
Beeld, o
ngedateer

Dit is een van die kenmerke van die Bybel dat dit op geen manier die sonde verdoesel nie, selfs nie waar dit gaan om die sonde van mense wat ’n besondere plek in die heilsplan van God inneem nie.

’n Tipiese voorbeeld hiervan is die wyse waarop die Bybel ons van die sonde van Dawid vertel. Die feit dat Dawid ook “’n man van Gods hart” genoem kan word en dat hy uitverkies is om tipe en voorvader van die Messias te wees, verhinder nie dat in ronde woorde en sonder verskoning vertel word van die harteloosheid waarmee hy opgetree het in die skandaal waarin hy met Batseba betrokke geraak het en hoe hy van haar man Uria ontslae geraak het nie.

Opmerklik is selfs die detail waarmee die Bybel in 2 Samuel 11 die sinisme, die hartelose ongevoeligheid van Dawid beskryf in sy pogings om eers die gevolge van sy owerspel met Batseba te probeer bedek, en as dit nie suksesvol is nie, hoe hy dan aan Uria ’n brief na Joab meegee wat in soveel woorde die opdrag bevat om te sorg dat Uria in die geveg moet sneuwel. Op daardie moment vergeet Dawid alles: sy amp as koning wat geregtigheid moet doen, sy goeie naam en eer, sy mooi liedere wat hy vir God met die harp gesing het. Dawid is dan net een stuk vlees, een stuk berekende ongeregtigheid.

Die ergste is dat ook nog vertel word hoe goed Joab die spel met Dawid kan speel. Hy lê die woorde in die mond van die boodskapper wat aan Dawid die tyding moet gaan bring dat daar verliese in die veldslag gely is, en daar sit ’n hele teug vernederende spot in die wyse waarop Joab die versekering aan die boodskapper gee dat Dawid die verliese gelate sal aanvaar as hy hoor dat ook Uria gesneuwel het. Wat dan ook gebeur. Dawid het die punt van sinisme bereik waar hy tot in elke besonderheid voorspelbaar is as ’n mens die logika van die vlees ken.

Dit is nie om dowe neute dat die Bybel die kwaad so aan ons voorskilder nie. Die Bybel doen dit nie om ons op een of ander wyse daarmee te troos dat selfs vroom mense soos Dawid ook maar sondig was, sodat ons nie so sleg hoef te voel oor ons eie sonde nie. Die Bybel doen dit om ons te waarsku dat geen mens mag dink dat hy nie ’n maklike prooi van die sonde kan word nie. Die kwaad wat in ons woon is so sterk, dat dit ons maklik kan oorwin en·ons tot die uiterste grense van sinisme en berekende sonde en misdaad kan bring, as God ons nie daarvan bewaar nie.

Dan is ons nie meer gevoelig vir die leed van andere of vir die prys wat dit ons selfs kan kos nie. Ons word blind en doof vir alles wat redelik is. Ons ken nog net een honger en dors, en dit is na die bevrediging van ons begeertes. Hoe weerloos is ons tog, as God ons nie vashou nie! Dis net ’n dwase mens wat dink dat hy in sy eie krag staande kan bly teen die geweld van versoeking. – WDJ