In gesprek: NGK het geluister na pleidooi van 1980

IN GESPREK:
NGK HET GELUISTER NA PLEIDOOI VAN 1980

 WD Jonker
Die Kerkbode, 20 Oktober 1995

Prof Willie Jonker, voorheen professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch en steeds deeltydse dosent daar, was een van die ondertekenaars van die ‘Hervormingsdag-getuienis’ in 1980 in Die Kerkbode gepubliseer is. Hy vertel hieronder meer terugskouend aan Erika van Rooyen hoe die Ned Geref Kerk sedertdien aanpassings gemaak het, van die kerk se verhouding met die Rooms-Katolieke Kerk en ook ’n bietjie meer van die mens agter die professor.

Die Kerkbode: In 1980 was u een van die ondertekenaars van die ‘Hervormingsdag-getuienis’ wat destyds in kerklike kringe heelwat opspraak verwek het. Daarin is onder meer gesê: “Naas ons opregte dankbaarheid vir baie wat op die kerklike terrein gedoen en bereik is, spreek ons ons diepe besorgdheid uit oor die skynbare onvermoë van die geïnstitusionaliseerde kerk in Suid-Afrika om sy Godgegewe roeping van versoening op ’n betekenisvolle en geloofwaardige wyse te vervul in ’n situasie van toenemende spanning en polarisasie tussen die verskillende groepe in die land.” Dis nou 15 jaar later. Het die kerk die “onvermoë” waarvan u in 1980 gepraat het, na u mening in die jare sedertdien oorkom?

Prof Willie Jonker: Daar is miskien nie baie mense wat die vreugdevolle ervaring het dat hervormings waarvoor hulle hulle in die lewe van die kerk beywer het, ook werklik in hulle tyd nog plaasvind nie. Daarom is ek diep dankbaar dat ek dit kon belewe dat die Ned Geref Kerk werklik gehoor gegee het aan die pleidooi van diegene onder ons wat destyds in diepe lojaliteit teenoor die kerk daarvoor gepleit het dat die kerk homself moes bevry van sy té enge verbondenheid met die Afrikanervolk en sy politieke ideale – om net maar kerk van Christus te wees, kerk vir alle mense wat in Christus glo, vry om net aan die Woord van God gebonde te wees en die gesindheid van Christus onbelemmerd te weerspieël. Die Hervormingsdag-getuienis is destyds van links na regs as vaag en niksseggend afgemaak, maar as ’n hartekreet was dit tog nie sonder uitwerking nie. Dit het daartoe bygedra dat ook andere na vore gekom het en dat ’n neiging versterk is, sodat die NG Kerk binne die volgende tien jaar van koers verander het. Dit mag nog altyd moeilik wees vir die kerk om sy versoeningsrol te vervul, maar ek meen dat niemand vandag meer die NG Kerk daarvan kan beskuldig dat hy nie ernstig probeer om die “onvermoë” van destyds af te skud nie. Die NG Kerk het homself, glo ek, op dié punt bekeer.

Die Kerkbode: Die Hervormingsdaggetuienis het dit destyds ook gehad oor die nodigheid om onderlinge vervreemding en frontvorming tussen Christene te bekamp. Het die situasie intussen verander?

Prof Willie Jonker: Ons was destyds nie net ongelukkig oor die instelling en houding van die NG Kerk nie, maar ook oor die onderlinge verdeeldheid van Christene in die land. Christene en kerke het kant gekies in die politieke en maatskaplike stryd en so ook teenoor mekaar te staan gekom. Van die versoenende krag van die bloed en die Gees van Christus is daar min onder ons ervaar. Van sinvolle gesprek tussen die verskillende kampe was daar geen sprake nie. Ons het dit as pynlik in stryd met die aard van die kerk ervaar en was daarvan oortuig dat die NG Kerk se groeiende isolasie van die res van die Christenheid onhoudbaar was. Daar is gelukkig talle tekens dat dit vandag verander het. Veral sedert die Rustenburg-konferensie in 1990 het daar ’n nuwe verhouding tussen die NG Kerk en die ander Christelike kerke in die land begin ontwikkel.

Die Kerkbode: Nóg ’n saak waarvoor destyds gepleit is, is ‘’n vorm van kerklike eenheid waarbinne die verbondenheid van gelowiges met dieselfde belydenis ook sigbare gestalte kan aanneem,. Eenheid in die NG Kerkfamilie is ’n saak waaroor nou baie gepraat word. U kommentaar?

Prof Willie Jonker: Die saak van die eenheid van die NG Kerkfamilie was reeds lank vóór die Hervormingsdaggetuienis vir my van die grootste belang. Ek het reeds in 1962 as aktuarius van die Transvaalse Sinode ’n boekie gepubliseer, Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal, waarin ek op grond van my studie oor gereformeerde kerkreg vir een kerkverband vir die hele NG Kerkfamilie gepleit het. Dit het my destyds verkettering en verdagmaking op die hals gehaal. Die feit dat soveel van my kollegas in 1980 die oortuiging met my gedeel het en dat ons dit in ons getuienis kon opneem, was vir my ’n saak van groot vreugde. Ek was innig dankbaar dat die Algemene Sinode reeds in 1990 die beginsel van een kerkverband aanvaar het en dit in 1994 nog ’n stap verder gevoer het. Dit is my gebed dat wysheid sal seëvier en dat die ideaal van een kerkverband op sodanige manier bereik sal kan. word, dat die eer van God en die gemeenskap van die heiliges daardeur gedien sal kan word.

Die Kerkbode: Die NG Kerk se verhouding met die Rooms-Katolieke Kerk het die afgelope jare ook verander …

Die gesindhede tussen die Rooms-Katolieke Kerk en Protestantse kerke het inderdaad baie verander. Dit is in ’n groot mate die gevolg van hervormings wat sedert die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962 tot 1965) in die Katolieke Kerk ingetree het. Die amptelike houding van Rome teenoor die Protestantisme het verander en ons houding teenoor Rome het meer genuanseerd geword. Ons moet nie vergeet nie dat die Rooms-Katolieke Kerk nog steeds die grootste Christelike kerk is, dat ons die Bybel en die belydenisse uit die eerste eeue met die Katolieke Kerk deel en dat daar van die Roomse Kerk ’n magtige Christelike invloed in die wêreld uitgaan. Daarom behoort ons gereeld vir die Rooms-Katolieke Kerk te bid. Natuurlik staan daar diepgaande leerstellige en ander verskille tussen ons. Volgens ons oortuiging dwaal die Katolieke Kerk in belangrike opsigte, maar dit geld ook vir ander Christelike kerke. Daarom aanvaar ons die Christenskap van die Katolieke Kerk en sal graag sien dat hy homself nog verder sal reformeer.

Die Kerkbode: Hoe sien u op Hervormingsondag 1995 ’n ‘gesonde, verhouding met die Rooms-Katolieke Kerk?

Prof Willie Jonker: ’n Gesonde verhouding met die Rooms-Katolieke Kerk beteken nie dat ons op Hervormingsondag die geskiedkundige toestande wat in die 16de eeu om hervorming geroep het, moet verontagsaam nie. Die redes wat destyds vir die hervorming bestaan het, is ook tans nog lank nie almal uit die weg geruim nie. Veral die kwessie van die regverdiging deur die geloof alleen staan nog steeds tussen ons, maar ook ander dinge soos verskille oor die betekenis van die sakramente, die inrigting van die kerk en gebruike soos die verering van Maria en die heiliges. Aan die ander kant sou dit verkeerd wees om te maak asof daar intussen niks in die Katolieke Kerk gebeur het nie. Ons moet kennis neem van hervormings en veranderings wat ten goede ingetree het en bly wees dat dié kerk in baie opsigte sterk standpunt teen maatskaplike euwels, sondes en onreg inneem.

Die Kerkbode: Wat bekommer u op die oomblik oor die Nuwe Suid-Afrika?

Prof Willie Jonker: Wat my op die oomblik die meeste in die Nuwe Suid-Afrika bekommer, is die omvang van die armoede, werkloosheid en misdaad, die sigbare agteruitgang van openbare dienste en die onvermoë van die landsadministrasie om vordering te maak in die bekamping van die ellende en die faktore wat die misdaad stimuleer. Ek is ook besorg daaroor dat so baie blankes begryplike negatiewe gevoelens oor die situasie koester, terwyl politieke ontwikkelinge seker nie vinnig dié negatiwiteit sal verwyder nie. Dit is ’n tyd vir Christene om positief te bly en daagliks te bid dat God ons moet help om te ontsnap uit ’n negatiewe houding.

Die Kerkbode: En die NG Kerk?

Prof Willie Jonker: Wat my in die NG Kerk die meeste bekommer, is die vraag of ons in ’n tyd van groot kulturele veranderinge in staat sal wees om getrou te bly aan ons gereformeerde identiteit. Ons word aan die een kant vir die eerste keer werklik gekonfronteer met die uitdagings van die moderniteit wat ’n byna vernietigende uitwerking op baie kerke in Europa gehad het. Sal ons dit kan hanteer? Ons word van die ander kant oorspoel deur ’n Amerikaanse kultuur wat ’n totaal nuwe soort spiritualiteit in die kerk stimuleer. Die kerk moet noodwendig inspeel op kulturele veranderinge, maar versigtig wees om nie in dié proses sy gereformeerde identiteit prys te gee nie. As die Woord en die gereformeerde belydenis verdring word deur geesdriftige vorms van vroomheid wat eerder tuishoort by die ervaringsmatige religie van die Wederdopers uit die tyd van die Reformasie as by die Reformasie self, sal dit ’n tragedie wees. Ook in die opsig moet ’n mens leer om jou bekommernis aan die Here oor te gee. Hy het belowe om sy kerk te bewaar.

Die Kerkbode: Wie is die mens Willie Jonker … en wat wil hy nog graag gedoen kry?

Prof Willie Jonker: As ek oor myself dink, kan ek maar net innig dankbaar wees vir wat die Here my laat belewe het. Ek het baie meer uit die lewe ontvang as wat ek ooit verwag het. My lewe is deur God oorlaai met onverdiende seëninge. Hy het my van soveel dinge bewaar. Die pyn was soveel minder as die vreugde. Ek kan nooit dankbaar genoeg wees vir my ouers, my vrou, kinders en kleinkinders, familie, vriende en kollegas van wie ek onnoemlik veel ontvang het nie. Natuurlik is daar baie dinge in ’n mens se lewe waaroor jy skaam is en berou het – dinge wat jy verkeerd gedoen het, wat jy versuim het, waar jy mense seergemaak het, geleenthede verspeel het – alles ten diepste die vrug van die ek-gerigtheid wat alles besmet waaraan ons raak. Gelukkig dat ons mag glo aan die vergiffenis van ons sonde. Ek koester nie veel ideale vir wat ek nog graag wil doen nie. Wel, daar is nog so baie wat ek graag wil weet, wil lees, wil ervaar. Maar ek koester geen illusies oor verdere prestasies nie. Wat ’n ou man nog kan skrywe, is selde opwindend vir andere. Dit is vir my genoeg om te mag weet dat ek in die toekoms, soos in die verlede, in die hande van God is wat altyd die beste weet.