Die Ned Geref Kerk se gereformeerde identiteit in ’n situasie van verskuiwende gesagsbasisse

DIE NED GEREF KERK SE GEREFORMEERDE IDENTITEIT IN ’N SITUASIE VAN VERSKUIWENDE GESAGSBASISSE

[Kaapse Sinode, 20.10.1995: Inleiding tot SKLAS-verslag]
WD Jonker

Dit is vir my ’n groot voorreg om by hierdie sinode te mag wees. Ek is bemoedig deur die erns, toewyding en eerlikheid waarmee die diskussies gevoer word. Dit is vir my ook verblydend om uit die besprekinge wat tot hiertoe in die sinode gevoer is, te kon merk dat die saak van die gereformeerde identiteit van die kerk vir die sinode klaarblyklik ’n saak van erns is. Ek dink dat die rede waarom SKLAS versoek het dat ’n paar opmerkings oor hierdie onderwerp gemaak moet word, nie beteken dat hulle daaraan getwyfel het nie, maar eerder dat hulle gevoel het dat dit in ’n tyd van groot veranderinge goed is om mekaar daaraan te herinner dat ons die veranderinge slegs sinvol tegemoet kan tree, as ons ons identiteit helder voor oë hou.

Met die uitdrukking “verskuiwende gesagsbasisse” word bedoel dat die groot veranderinge wat in ons gemeenskap plaasvind, onder andere ook meebring dat die ou sentra en strukture van gesag waarin ons geleef het en waaraan ons onsself georiënteer het, tans plek maak vir andere. In elke samelewing bestaan daar sulke gesagsbasisse wat die Amerikaners plausibility structures noem, wat min of meer die vaste punte vorm waaraan die gemeenskap homself oriënteer. In die ou Suid-Afrika het die Afrikanergemeenskap, die Nasionale Party en die Afrikaanse kerke saam ’n gesagstruktuur gevorm wat die lewe van die gesinne en die enkelinge, ja die hele gemeenskap, gestempel het. Wat die regering en die kerke gesê het, het die wêreld omlyn waarin ons geleef het. Maar nou het dit skielik in duie gestort.

Nou blyk dit dat die Afrikaner-establishment verkeerd was, dat staat en kerk ongelyk gehad het, selfs immoreel opgetree of die Bybel verkeerd verstaan of misbruik het. Die skok wat dit vir die Afrikanergemeenskap en veral vir ons jeug meebring, is onberekenbaar groot, en die volle impak daarvan sal eers langsamerhand sigbaar word en nog lank ’n effek op ons hê. Nuwe gesagsbasisse neem die plek van die oues in. Nuwe waardes en norme word geponeer. Die vraag is nou: Hoe moet ons as Christene daaroor oordeel? En dit lei tot die onderwerp wat aan ons gegee is: Hoe moet die kerk haarself met betrekking tot die nuwe plausibility structures posisioneer? Kan die NG Kerk nog haar gereformeerde identiteit in die nuwe situasie handhaaf?

Wat is die identiteit van ’n egte gereformeerde kerk? Dit is dat die kerk haarself nie laat regeer deur die gesagsbasisse van die samelewing nie, maar deur die Woord van God wat die enigste ware gesag vir die kerk is. Dit is dat die kerk die evangelie van genade werklik verstaan, en daarom lewe uit die vreemde vryspraak in Christus. Dit is dat die kerk nie menslike religieusiteit stimuleer nie, maar ’n totale gerigtheid op God en sy eer. Dit is dat die kerk uit die verbond van God lewe en daarom die ganse lewe in sy organiese verbande tot die diens van God wil orden. Dit gaan dus om ’n kerk wat nie meer daarna jaag om magtig en invloedryk in die wêreld te wees nie, maar die gestalte van ’n dienskneg vertoon, uit die offer van Christus leef en daarom die wil van God in al die fasette van die aardse lewe wil doen, of dit nou om die kultuur, die ekonomie of die politiek gaan. Hierin lê die besondere van die gereformeerde identiteit, selfs in onderskeiding van die Lutheranisme. Dit gaan om ’n heiliging van die ganse lewe. Dit wil die totale lewe onder die beslag van die Woord en die Wet van God bring. In hierdie verband dink ’n mens vanself aan die tipering van die Calvinisme deur Wolterstorff as hy dit “a world-formative Christianity” noem, dit is: ’n Christendom wat leef by die soli Deo gloria en daarom nie net die hart van die individu nie, maar ook die gesin, die samelewing en die hele wêreld aan die heerskappy van God onderworpe wil maak.

Natuurlik wou die N G Kerk altyd ’n gereformeerde kerk wees, maar ons het in die verlede nie goed genoeg daarin geslaag nie. Wat haar spiritualiteit (vroomheid) betref, het die N G Kerk sedert die 19de eeu ’n groot klap van die metodisme weg. Dit het aan die kerk ’n bepaalde individualistiese soort vroomheid en ’n swakheid in haar verhouding tot die Arminianisme meegegee. Maar daarby het die N G Kerk deur haar enge verbondenheid met die Afrikanervolk en sy politieke ideale gedurende die afgelope halwe eeu ’n volkskerk geword wat haar gereformeerde karakter in die gedrang laat kom het. Ons invloed as kerk het op ’n valse bodem gerus. Dit het ’n blok aan ons been gevorm.

Maar daardie situasie is nou genadiglik beëindig. Dit mag vir ons na ’n verleentheid lyk, maar ons verleentheid is dikwels Gods geleentheid. Dit is asof God vir ons sê: Ek gee julle nog ‘’n kans. Ek open vir julle die vlietende oomblik van ’n nuwe uur om op te staan en julle egte identiteit as gereformeerde kerk te herwin. Ons ontvang op die oomblik ’n eenmalige kans om nuut te begin en werklik ’n egte gereformeerde kerk te word. Dit is ’n unieke oomblik op die weg van die kerk. Ons staan in ’n situasie soos die waarin Josua vir die volk Israel gesê het: Kies vandag wie julle wil dien (Josua 24:15). God open weer vir ons die deur om op te staan en te word wat ons in Christus deur die geloof moet wees om so ons gereformeerde identiteit uit te leef.

Natuurlik sal dit nie maklik wees nie. Daar is verskeie faktore wat dit vir die kerk juis nou moeilik maak om tot haar ware identiteit te kom. Aan die een kant is dit duidelik dat die keerwal wat ons nog altyd teen die volle impak van die Westerse moderniteit afgegrens het, skielik gebreek het. Dit beteken dat die volle realiteit van die sekularisme en die verval van morele norme met geweld op ons afkom. Dit is besig om die hele karakter van die samelewing ingrypend te verander. Maar die ergste sal wees as moet blyk dat die moderniteit ook reeds besig is om die kerk self binne te dring en van binne kragteloos te maak. Daar is toenemende druk op die behoudende standpunte insake die Skrifgesag, en die ervaring het geleer dat kerke wat hierdie druk nie goed kon hanteer nie, se gereformeerde identiteit in die gedrang gekom het.

Maar terselfdertyd word die NG Kerk ook bedreig deur ’n proses van ingrypende verandering wat die gees, styl, klimaat en vorm van haar spiritualiteit betref. Die gees van die tyd bevorder ’n individualistiese, na-binne gerigte en dikwels naïewe soort vroomheid wat op die persoonlike ervaring gerig is en dikwels eerder tot ’n ontvlugting uit as ’n konfrontasie met die harde wêreld lei. En dit is in stryd met ’n oer-intensie van die gereformeerde vroomheid.

In hierdie verband is dit nodig om te wys op die groot invloed wat ’n ander verskuiwing van die afgelope aantal jare op die NG Kerk gehad het. Ek bedoel die feit dat kerk en teologie in ons land gedurende die afgelope twee dekades steeds minder op Europa en steeds meer op Amerika gerig geraak het. Dit is nie vreemd nie. Ons kinders leer nie meer Nederlands of Duits nie. Teologiese studente kan naas Afrikaans prakties net Engels lees. Daarby het die Nederlandse teologie ons in die afgelope dekades in die steek gelaat. Die gevolg is dat ons studente hulleself toenemend met Amerikaanse teologie voed. Maar die Amerikaners was nog nooit sterk in gereformeerdheid nie. Hulle is meer gestempel deur die presbyterianisme, die independentisme en die anabaptisme. Namate die invloed uit Amerika sterker word, word die N G Kerk se bande met die gereformeerde tradisie swakker. Dit sluit aan by die N G Kerk se historiese swakheid na die kant van ’n metodisme en piëtistiese. Gevolglik word die kerklike toneel toenemend meer gedomineer deur invloede uit die Amerikaanse gospel-kultuur met sy individualisme en naïewe karakter.

Veral die jeug is ontvanklik daarvoor. Predikante sien geen kwaad daarin nie en verheug hulleself oor die entoesiasme van die jeug vir hierdie soort vroomheid. Hulle meen dat die jeug so tog nog vir die kerk behou kan word. Dit is wat die jeug graag wil hê, en die moet aan hulle gegee word. Die resultant daarvan is egter dat ’n vroomheidstipe in die kerk gevestig word wat vreemd aan ons gereformeerde karakter is. ’n Individualistiese en na-binne gekeerde vroomheid kry die oorhand oor die “world formative Christianity” wat tipies van die Gereformeerdes is. Dit bring die gereformeerde karakter van die kerk in gedrang.

Ons moet die Amerikaanse tipe spiritualiteit verstaan teen die agtergrond daarvan dat Amerika in ’n sekere sin die eerste egte sekulêre land was waarin die beginsels van die Verligting van die 18de eeu ten volle deurgewerk het en toegepas is. Al het ons ’n diepe eerbied vir die Christene wat daar binne ’n sekulêre situasie hulle Christenskap uitgeleef het, moet ons tog nie ons oë daarvoor sluit dat dit hulle vroomheid en kerklike lewe op ’n bepaalde manier gestempel het nie. Die Amerikaanse Christene leef in ’n sekulêre en individualistiese kultuur. Dit maak dit vir Christene feitlik onmoontlik om op die openbare lewe enige betekenisvolle invloed uit te oefen. Die kerke sien dus nie meer hulle roeping op die terrein van die openbare lewe nie, maar slegs in die stimulering en versorging van hulle eie lidmate en die groei van hulle gemeentes. En omdat die gemeentes geen grense het nie, moet kerke met mekaar wedywer om lidmate te trek deur die geselligheid of aantreklikheid van hulle eredienste en gemeentelike aktiwiteite. Baie maklik word die kerklike lewe dan deur ’n kompetisiegees en die kommersiële beginsel van vraag en aanbod beheers. Gemeentes ding met mekaar mee om ’n groter markaandeel te bekom. Hulle moet alles in werking stel om iets aan te bied wat die mense sal trek en hulle sal behou. Hulle smaak moet bevredig word. Alleen dan kan die gemeente nog groei.

Ongelukkig merk ons nou steeds meer dat hierdie model van kerkwees ook na ons land oorgedra word. Die Algemene Sinode het reeds besluit dat die gemeentegrense geperforeerde grense sal wees. Dit beteken dat mense kan gaan aansluit waar hulle dit die beste vind. Dit bring vanself die kompetisiegees ook in ons kerklike lewe binne. Die groot saak kan word om mense se behoeftes en smake te bevredig, anders loop hulle oor na ander gemeentes. Maar so word alles in die kerklike lewe gekonsentreer op die persoonlike konsumpsie van die lidmate. Alles word na binne gekeer. Die smaak van die lidmate word die groot norm. Dat die kerk ook ’n openbare roeping het en ’n wêreld-veranderende karakter moet vertoon, kan dan nie meer tot sy reg kom nie. Dit bring die gereformeerde identiteit van die kerk in gedrang.

As ons nie in hierdie strik gevang moet word nie, is dit belangrik dat ons die uur, die kairos moet onderskei wat God tans oor ons laat aanbreek het. Ons kry ’n nuwe kans om op te staan en weer ’n gereformeerde kerk te word wat aan ons belydenis getrou is, wat enkel uit die genade van God wil lewe en in dankbaarheid vir die verlossing die hele lewe vir Gods heerskappy op wil eis. Laat heel de aard’ een loflied wezen heet een van Van Ruler se bundels oordenkinge. Die titel is ontleen aan die beryming van Psalm 89. Dis tipies-gereformeerd. Wat ons tans nie moet doen nie, is om te kies vir ’n geprivatiseerde en ver-individualiseerde religieusiteit wat die aarde, die wêreld, die volke, die politiek en die reg uit die oog verloor om net op die eie geestelike ervaring konsentreer.

God gee ons weer ’n kans. Ons moet daarna streef om die kerk se gereformeerde identiteit te versterk. Ons gemeentelede moet geleer word om met die Bybel te leef, hulle belydenis te ken en mondige, verantwoordelike lidmate te wees. Ons moet die openbare lewe konfronteer met die vreesloosheid van profete. Ons moet die Woord meer vertrou. Uiteindelik is dit nie ons metodes nie, maar die Woord en die Gees van God wat die kerk sal bewaar. Dit sal ’n groot skade wees as die NG Kerk hierdie geleentheid sou miskyk en by ons verby laat gaan. Mag God dit verhoed!