Psalm 42 (Preek)

PSALM 42

WD Jonker

Stellenbosch-Welgelegen, 6 Oktober 1996

Teks: Psalm 42, spesifiek vers 2

  1. Die eerste wat in hierdie Psalm opval, is die digter se intense bewustheid van en verlange na God.

(a)        Dit klink vreemd in die moderne wêreld waarin ons leef. ’n Mens kry die indruk dat die oorgrote deel van die mensheid vandag sonder ’n bewussyn van God lewe, of in elk geval sonder die bewussyn van die realiteit, die werklikheid, van God. Mense se lewe het in die meeste gevalle eenvoudig wêrelds, sekulêr, geword. Die woord God is volop as uitroep van ontsetting of skrik of verbasing (dink maar aan die Amerikaanse prente op die TV), maar skynbaar sonder dat die besef nog bestaan dat daarmee die Naam van die Ewige, Almagtige, Onsienlike, Onbegryplike, Lewende God uitgespreek word, van Wie die Bybel ons leer dat Hy alle dinge omvat, dat ons in Hom lewe, beweeg en is, dat uit Hom en deur Hom en tot Hom alle dinge is (Handelinge 17:24–28). Dit is hierdie grootheid van God, hierdie ondenkbare en onvoorstelbare werklikheid van God waarvan die Psalmdigter bewus is.

(b)        Maar dit is nie net dat die digter so intens bewus is van God nie, daar is in sy hart ook ’n brandende verlange na gemeenskap met God. Hy sê dat sy verlange na God so sterk is as die smagte na water by ’n wildsbok in die dorre land. Dis ’n aangrypende beeld. Stel u voor hoe ’n wildsbok in ’n woestynagtige wêreld na water smag. Sy lewe is op die spel. As hy nie water vind nie, sal hy sterf. Met so ’n verterende dors vergelyk die digter sy smagte na God. Soos elke vesel in die wildsbok te midde van die versengende hitte skreeu na water, so dors die digter met elke vesel van sy wese na God self, die lewende God, wat alleen sy dors kan les en sy siel kan versadig. Want dit weet hy in alle helderheid: net God kan werklik die diepste behoefte van sy hart vervul, die diepste honger en dors van sy lewe versadig.

(c)        Om een of ander rede wat nie uit die Psalm self duidelik word nie, ervaar die digter die afwesigheid van God, die stilswye van God. Miskien was dit deur siekte, teenspoed of deur een of ander ellende dat hy die gevoel gekry het dat God ver van hom af is en sy gesig vir hom verberg. Miskien het hy in ’n situasie van nood ernstig tot God om hulp geroep, maar het God hom nie geantwoord nie. In elk geval verkeer hy in sware aanvegting in die sin dat God nie sigbaar tot sy hulp kom’ nie, dat God nie ’n einde maak aan sy droefheid of lyding nie, want ons hoor in vers 4 dat hy dag en nag in trane is; dat spotters vir hom vra waar sy God nou is (vs 4, 10 en 11), en dat hy in herinnering roep dat daar ’n tyd was toe hy wel vreugde in God gehad het, maar dit tans nie so ervaar nie (vs 5). En dit is juis hierdie situasie wat hom in vertwyfeling bring (vs 6–7, 12) en hom in trane laat smag na die ervaring van dit magtige en troosvolle teenwoordigheid van God. Want dit weet hy seker: net by God vind ek rus, net by God is daar versadiging van vreugde (Psalm 16:11).

  1. Die vraag wat uit hierdie Psalm na ons kom, is of ons ook maar enigsins kan deel in hierdie ervaring van die Psalmdigter, deurdat ook ons so bewus is van God en so na Hom verlang.

(a)        Ek wil begin deur die vraag aan u te stel of u ook so bewus is van God soos die Psalmdigter. Die bewussyn dat God is en dat ons voor Hom bestaan, is met die menswees van die mens gegee. Prediker 3:11 sê dat God aan die mens die besef van die ewigheid gegee het. Daar is by ons ’n heimwee na die blywende, die vaste, die wesenlike, na ’n vervulling wat nie in woorde beskryf kan word nie. Dit is ’n verlange na God. In die gedeelte in Handelinge 17 waarna ons verwys het, praat Paulus daaroor dat God die mense so gemaak het dat hulle Hom moet soek, selfs al moet hulle vanweë hulle geestelike blindheid deur die sonde rondtas om Hom te vind. Tog is God nie ver van ons nie, maar naby aan ons. Luther het eenmaal gesê dat God nader aan ons is as ons hemp of rok. Paulus beroep hom op die Griekse digters wat selfs gesê het dat ons van God afstam. Daar is ’n heimwee na God in ons hart, wat wel deur die mens onderdruk en misken word, maar daarom nog nie minder werklik is nie. Daar is by alle mense ’n hunkering na sin, na ewigheid, na die waarheid, na liefde, wat ten diepste die verlange is na God self in Wie ons leef, beweeg en is. Op allerlei maniere kom die wete op ons af dat hierdie wêreld nie ons woning is nie, dat daar ’n ewigheidsverlange in ons harte is. Selfs die skepping praat ’n taal wat ons op talle maniere daaraan herinner dat God lewe en dat ons vir die gemeenskap met God gemaak is. Psalm 19 is één groot getuienis daarvan. In Totius se pragtige beryming van Psalm 19 sê hy: Die hoë hemel rond vertel met blye mond Gods heerlikheid en eer ens. Pragtig lui dit in vers 2: Hoe goddelik en skoon en wonderbaar die toon wat deur die skepping gaan! Geen volk so onbegaaf, geen oor so onbeskaaf, wat nie dié taal verstaan. Op die bodem van ons almal se hart lê die wete aangaande God as die bron van ons lewe en die voorwerp van ons heimwee. God en God alleen kan werklik sin en betekenis aan ons lewe gee. Augustinus het met reg gesê: U het ons vir Uself gemaak, en ons hart is onrustig in ons, totdat dit rus vind in U.

(b)        Maar natuurlik word hierdie besef aangaande en verlange na God op allerlei maniere in ons lewe weerspreek en onderdruk. Dit is nie net dat die hele wêreld probeer om ons van God weg te trek nie, dit is ook dat die duiwel ons probeer verblind en bedrieg. Omdat ons God nie met ons blote oog kan sien nie en omdat ons nie sy direkte ingryping in die wêreld altyd direk kan waarneem nie, word sy teenwoordigheid altyd weerspreek. In vers 4 sê hy: Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle (die ander mense? die spotters? die ongelowiges?) vir my: En waar is jou God nou? Die sondige mensheid onderdruk die wete aangaande God of verklaar dit weg. Sedert die 17de eeu het die moderne mens so selfstandig geword, soveel vordering gemaak in wetenskap en tegniek, dat hy wel wonderlike dinge tot stand gebring het, maar terselfdertyd trots geword het op eie vermoëns en begin dink het dat ons nie meer behoefte het aan die hipotese dat God bestaan nie. Maar daardeur het die lewe vlak geword, één-dimensioneel. Die geweldige tegniese vooruitgang van die Westerse mens het gelei tot ’n feitlike uitwissing van sy Godsbesef. Die lewe het vlak geword, sonder hoogte of diepte, en sekulêr, wêrelds, sonder ’n besef van die geheimenis wat ons bestaan omvat. Dit lyk of die slagspreuk van baie is: Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterwe ons.

(c)        Maar omdat dit so is, is dit so belangrik dat mense weer moet verstaan dat die heimwee wat tog op die boom van hulle hart aanwesig bly, die verlange na God is. Geen aardse ding of persoon kan die verlange in ons hart werklik bevredig nie. Ons het gehoor dat Augustinus gesê het dat God ons vir Homself gemaak het, en dat ons hart onrustig in ons is, totdat dit rus vind in God. Natuurlik probeer ons om die verlange van ons hart te bevredig deur allerlei dinge met ons hele hart te probeer aanhang. Maar ook die allermooiste en allerbeste wat die aarde bied, kan nie die honger en dors van ons siel werklik bevredig nie. Dit kan nie, soos die ou Nagmaalsformulier gesê het, die oorsaak van ons ewige honger en kommer, wegneem nie. Ons oorvra ons aardse liefdes en ons hart word dikwels teleurgestel, omdat ons aardse geliefde of die dinge wat ons op aarde liefhet, nooit kan bied wat net die eenheid met die ewige grond van ons bestaan, God self, kan bied nie. Daarom leer die Bybel ons dat die diepste heimwee van ons hart die heimwee na God is. Moenie daarvan wegvlug of dit op allerlei ander maniere probeer versadig nie. Neem tyd daarvoor om bewus te word van daardie heimwee in u hart, en stel uself oop vir God wat deur die Heilige Gees ons in Christus aan die Vader verbind. Alleen in eenheid en gemeenskap met God self vind die siel rus en vreugde. Dit is nie alleen ons ewige toekoms nie; dit is ook reeds hier op aarde moontlik om met God in gemeenskap te verkeer en jou siel te versadig met die vreugde wat uit God is.

  1. Die digter breek uiteindelik deur sy vertwyfeling heen, omdat hy verstaan dat ons in ons heimwee na God op Hom moet bly vertrou en aan die hoop moet vashou dat God HoÌnse1f sal betuig soos Hy werklik is: ons Helper en ons God.

Dit is wel waar dat hy in vers 10 aan God vra: Waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand? Dit lyk dus asof hy God daarvoor beskuldig dat hy so min van God ervaar. Hy sê dat dit deur sy hele wese sny dat sy teenstanders hom spot en vra waar sy God nou is. En inderdaad: die geloof in God kry die wind in die wêreld altyd van voor. ’n Mens moet altyd stroomop vaar. Daar is tye in ’n mens se lewe dat dit inderdaad vir jou lyk of God ver is. En lank nie almal van ons is van daardie sonnige nature wat net altyd vreugdevol is nie.

(b)        Maar die digter vind dit deur die krag van die Heilige Gees moontlik om nie net aan God die waarom-vraag te stel nie, maar ook aan homself. In die Hebreeus: My siel, waarom is jy so onrustig en wat buig jy jou so neer in my? Die nuwe Afrikaanse vertaling is so mooi: Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Dit is nie God wat in die beskuldigdebank geplaas moet word nie, dit is ons, ons wat altyd weer tot ongeloof en vertwyfeling geneig is. En dit terwyl ons tog die Woord het, die beloftes van God. Terwyl Gods dade in die verlede tog daar is om te getuig van sy reddende mag en sy heerskappy.

(c)        Vir ons as Christene van die Nuwe Verbond spreek dit nog sterker. Ons weet van die opstanding van Christus. Ons weet dat God finaal oor die wêreld getriomfeer het en dat Christus weer sal kom om alles nuut te maak. Daarom moet die waarom-vraag by ons verander word na die uitroepteken van die hoop. Dit weet hierdie digter ook. In vers 12 sê hy: Vertrou op God! Ons moet veel meer tyd neem om ons in die Here te verlustig en ons hart op Hom te rig. In Psalm 40:2–3 lees ons dat die digter lank op God gewag het, maar God het Hom na hom neergebuig, sy hulpgeroep gehoor en hom uit die modder opgetrek. Mag dit ons ervaring wees dat God Homself ook na ons neerbuig in ons donkerheid en dat Hy ons voete op ’n vaste fondament plaas! — Dis ʼn geloofsoefening om verby die sigbare te kyk en die realiteit van die onsigbare, hand van God te ontdek en daaraan vas te hou, kinderlik en eenvoudig. Die onsigbare is meer werklik as die sigbare. Daaraan hou die geloof vas. Die geloof is immers volgens Hebreërs 11:1 die sekerheid van dié dinge wat ons hoop, die oortuiging dat dit dinge waar is wat ons nie sien nie.